Bokvleis blink uit, maar bly beperk

0
563
Conrad Herbst meen dat Suid-Afrikaanse Boerbok-genetika baie gewild is, veral in lande soos Argentinië en Brasilië, en dat vooruitgang in genetika moontlik in die toenemende vraag aan voedsel kan voldoen. Hier is Conrad saam met een van sy stoetramme, Wilhelm.

Bokvleis het vanweë sy gesondheidswaarde en uitstekende smaak, die afgelope paar jaar ál meer gewildheid onder verbruikers verwerf en bokboere kan eenvoudig nie voorbly met die aanvraag nie. Aanduidings is dat dit in die toekoms nog sal styg. Gevolglik het bokvleis, wat voorheen as ’n redelike goedkoop vleis vir die informele mark bestempel is, se prys mettertyd gestyg tot op vlakke van 35% hoër as skaapvleis.

Waarom is dit nie so geredelik beskikbaar nie? Veeplaas het by Conrad Herbst, ’n Boerbok-boer en rolspeler in dié bedryf, gaan aanklop om meer uit te vind.  

Volgens Conrad lewer Boerbokke gesonde vleis met lae cholesterol wat deur die Hartstigting aanbeveel word. “Die vleis is geurig, sappig, sag en aantreklik. As gevolg hiervan is dit baie gesog.” Tabel 1 illustreer dat bokvleis se cholesterol- en proteïenvlake.

Tabel 1: Vergelyking van die chemiese samestelling van bokvleis met ander spesies se vleis per 100 gram.

Spesie Energie

(kalsium)

Vet (5) Versadigde vet (%) Proteïene (%) Yster (mg) Cholesterol (mg)
Bok 144 3,09 0,93 27,1 3,8 67
Bees 288 18,8 8,0 27,1 3,0 >86
Vark 364 28,2 10,2 24,7 1,1 >86
Lam 276 18,8 8,6 25,9 1,6 99
Hoender 190 7,4 Nie beskikbaar 24,7 1,2 >89
Volstruis 142 2,8 Nie beskikbaar 6,9 3,2 83

 

Gewildste vleis ter wêreld

Volgens Conrad is bokvleis die gewildste vleis ter wêreld, selfs meer as beesvleis, vis en hoender. Bokke word veral in Noord- en Suid-Amerika aangetref en aangesien hierdie nasies nie oor die algemeen lief is vir skaapvleis nie, is die vraag na bokvleis redelik hoog.

Jessica Miller van die Universiteit van Michigan beaam dit ook in haar navorsing, wat daarop dui dat sowat 63% van die wêreld se bevolking bokvleis eet. Dit is veral algemeen in Suid-Asië, die Midde-Ooste en Latyns-Amerika. Bokvleis word ook deesdae al hoe meer op spyskaarte in Amerikaanse restaurante gesien.

Conrad vertel dat hy en ’n vennoot ná ’n onlangse ooreenkoms met ’n kleinhandelaar, later eenvoudig net nie meer in die aanvraag kon voldoen nie en die kontrak moes beëindig. “Die aanvraag het gestyg van een karkas in die eerste week tot sowat 15 karkasse in die vyfde week. As ek ’n bok gehad het vir elke oproep wat ek die afgelope drie weke ontvang het, het ek baie geld gehad,” vertel hy.

‘n Geharde ras

Bokvleis is een van die gesondste vleissoorte ter wêreld, met baie lae cholesterolvlakke en ’n hoë ysterinhoud.

Suid-Afrika is ’n land van waterskaarste, wat beteken dat dieselfde hoeveelheid vee wat in ander lande geproduseer kan word, nie in Suid-Afrika kan realiseer nie. Wanneer ’n mens met kenners praat, sal jy verskillende menings kry oor die gehardheid van Boerbokke. Terwyl die algemene gevoel is dat dié bokke gehard is, met min kan klaarkom en nie sommer vatbaar is vir siektes nie, vertel ander weer dat hulle skape beter vaar as die Boerbokke.

Conrad meen Boerbokke vaar nie so goed in ’n voerkraal soos beeste en skape nie, want eersgenoemde vreet letterlik die wins in ’n voerkraal weg. “Boerbokke tel nie so vinnig gewig op dat ’n mens hulle doeltreffend in ’n voerkraal kan aanhou en geld daaruit maak nie. Die gelykbreekpunt wat wins betref vir Boerbok-boere, is 400 bokke. ’n Boerdery met Boerbokke is dus die winsgewendste wanneer dit ekstensief gedoen word, en vir ’n ekstensiewe boerdery kort ’n mens uiteraard genoeg grond.

“Een ding waaroor almal egter saamstem, is dat Boerbokke ’n goeie benutter van oppervlakte is. Boerbokke verkies klein bome en bosse as hul basiese dieet, maar hul uitstekende ekonomiese waarde lê in die feit dat hulle sekere plante kan gebruik wat minder aanloklik vir ander rasse is.”

Blaar- en grasvreters

Eksperimente wat by die Omatjenne-proefplaas in Namibië gedoen is, het bewys dat Boerbokke 74% blare en 26% gras vreet. Gevolglik kan beeste en bokke simbioties saamleef sodat ’n maksimum gewig vleis per hektaar geproduseer kan word.

Conrad skets ’n goeie prentjie in dié verband. “Wanneer ’n mens op ’n plaas van 2 000ha met beeste en Boerbokke boer, het jy eintlik 4 000ha se grondhulpbronne tot jou beskikking. Hierdie simbiose bring ook mee dat Boerbokke in hul weidingsvoorkeure selfs onkruide en indringerbosse onder beheer kan hou.

“Boerbokke kom ook oor die weg met minder weiding en allerhande voedselaanvullings, wat dit baie aantreklik maak vir bestaansboere. Ses tot agt bokke benodig onder normale omstandighede dieselfde weiding as ’n perd of bees, maar in ’n ongerepte omgewing sal selfs nege tot elf bokke met een groot dier kan saamleef.”

Slagmark in KwaZulu-Natal

Bokvleis se gewildheid neem toe onder verbruikers weens die gesondheidswaarde en uitstekende smaak daarvan.

Volgens Conrad gaan die meeste slagbokke in Suid-Afrika na KwaZulu-Natal. Hierdie mark bestaan hoofsaaklik uit Zoeloes (wat glo bokvleis maak hulle sterker) en Moslem- en Hindoe-groepe (wat bokke meestal vir seremoniële doeleindes slag). Die vraag is in hierdie stadium so groot dat bokke al die pad uit Namibië ingevoer word. Sommige bokboere verkoop selfs van hul stoetdiere weens die onblusbare vraag en uitstekende vleisprys.

Boere in die noorde van Suid-Afrika, wat al die jare tradisioneel beeswêreld was, het ook stelselmatig in bokboerdery belê.

Hoe kan die Boerbok-bedryf in Suid-Afrika aan hierdie reuse vraag voldoen? “Hoewel verbeterings in genetika plaasvind, bly die klimaat en weiding ’n beperking,” meen Conrad.

Die tuiste van Boerbokgenetika

Conrad sê Suid-Afrika is die matriarg van Boerbok-genetika. “Met die voortdurende stryd van meer met minder produseer, is Suid-Afrika ver voor wat Boerbokgenetika betref – hierdie genetika is hoog in aanvraag in lande soos Argentinië en Brasilië.

“Terwyl Suid- en Noord-Amerika se ramlammers ongeveer tien tot elf maande neem om ’n gewig van 50 tot 55kg te bereik, bereik ramme met Suid-Afrikaanse genetika hierdie gewig in 4,5 maande. Die speengewig van Argentinië se bokke laat ook veel te wense oor, met ’n skamele 14 tot 15kg.”

Hy vertel dat sy spogram, Chivas, van die eerste lammers in Suid-Afrika was wat ’n speengewig van 32kg behaal het. “Etlike jare gelede was die gemiddelde speengewig tussen 24 en 25kg. Van Chivas se nageslag het egter soveel as 38kg op 100 dae geweeg.”

Conrad sê die kwessie van voeromset en groei kry deesdae heelwat aandag van ywerige telers van Boerbok-genetika.

Nuwe rolmerk gee eie identiteit

Ná versoeke van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging word klas A-bokvleis (lammers) sedert Mei 2018 met blou ink gemerk en nie meer met oranje ink soos voorheen nie. Volgens Pip Nieuwoudt van die Wes-Kaapse Boerbokklub is dit uitstekende nuus vir die bokbedryf, aangesien nou met supermarkgroepe en verbruikersorganisasies onderhandel kan word oor ’n premie op bokvleis. –Elmarie Helberg, Veeplaas

Vir meer aandag, skakel Conrad Herbst by 082 829 7386, die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging by 051 633 3744 of stuur ’n epos aan info@boerboksa.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here