Bonnievale, teen die heuwels van die Breëriviervallei geleë, is reeds bekend vir sy wingerdboukundiges se passie en die uitstekende gehalte wat die wingerde lewer. En weereens is die wynkelder uitgesonder vir hierdie toewyding in ’n gerespekteerde Franse kampioenskap.

Gilbert & Gaillard-toekennings

Dit is beduidend dat die toppresteerders in die Gilbert & Gaillard-toekennings deur twee wyne, wat met hul vrystelling Bonnievale se mondigwording bevestig het, beklee word: die Bonnievale Limited Release Chardonnay 2019, wat ’n goue medalje ingepalm het, en die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2017, wat ’n allemintige 91/100 punte behaal het.

Die twee wyne is voorgelê aan Gilbert & Gaillard, ’n aanlyngids wat op wyn in Frankryk en 22 ander lande fokus en ’n belangrike maatstaf van gehalte is. Frankryk word wyd gereken as een van die wêreld se voorste produsente van gehalte wyn.

Al die wyne is blind deur Gilbert & Gaillard geproe – met ander woorde, die paneel het nie die produsent se naam gesien nie.

Beoordelaars se terugvoer

Die paneel het die Cabernet Sauvignon se geure as rooivrug, swart- en braambessie, met effense spesery-ondertone beskryf. “ ’n Medium- tot volronde wyn met ’n boeiende smaak en talmende suur,” lui die proeverslag. “Met ’n blywende einde, greinerige tanniene en baie vrug, kan die wyn dadelik geniet word of vir ’n paar jaar verouder.”

Vir die Chardonnay het die proewers aromas van ryp peer en sitrus geïdentifiseer. “ ’n Romerige en ryk wyn met baie sekondêre geure van marmelade, gedroogte vrugte en ’n vars en vruggedrewe afronding. Die suur is lewendig. ’n Wonderlike voorbeeld van die streek. Kan nou gedrink word, maar sal baie goed verouder.”

Wynmaker reageer op dié gesogde toekennings

Hierdie kommentaar word deur Marthinus Rademeyer, Bonnievale Wyne se hoof wynmaker en produksiebestuurder, verwelkom. Van meet af was die fokus op top-presterende wingerdblokke en dat dit in die wyne weerspieël moet word. “Die wyne moes spreek van die sorg wat geneem is om die wingerde te koester en die aromas, geure en tekstuur van die vrugte van die wingerd tot die bottel te behou,” sê hy.

Wynmaakproses en veroudering

Die wyn vir die Limited Release Cabernet Sauvignon 2017 is ná die wynmaakproses, vir 18 maande in Franse- en Amerikaanse eikehout verouder. Die wynmaker se proenotas stel voor dat dit op sy eie gedrink word, of alternatiewelik as ’n pasmaat is vir wildsdisse en rooivleis voorgesit word.

Chardonnay is lank reeds die ster in die Bonnievale-portefeulje. Die Limited Release 2019 is vir sewe maande in Franse eikehoutvate verouder. Dit kan saam met eend, vark of ’n bord verouderde kaas geniet word. – Persverklaring, Bonnievale