Carina Gous

Bonnievale Wyne het pas ’n sleutelooreenkoms met die gerespekteerde wynbedryf-spesialis Carina Gous, onderteken. Gous neem ’n adviserende rol aan, terwyl die maatskappy gereedmaak vir die volgende groeifase.

Read it in English. 

Gous was tot onlangs die globale handelsmerk-direkteur vir Distell se premium wyn- en spiritus- handelsmerkportefeulje. Sy was voorheen Distell se besigheidsdirekteur: Wynsegment en het ’n deurslaggewende rol in die groei en verbetering van die maatskappy se wynbesigheid, op ’n globale vlak, gespeel.

Sy het laat 2017 ook die pos as nie-uitvoerende voorsitter van die invloedryke uitvoer-bemarkingsorganisasie, Wines of South Africa (WOSA), by die finansiële entrepreneur Michael Jordaan oorgeneem.

Haar verbintenis met Bonnievale Wyne sal as strategiese bemarkings- en verkoops-adviseur wees. Sy sal hier baie nou met die stigter en hoof uitvoerende beampte, John Barnardt, werk.

“Ons is baie opgewonde om Carina aan boord te hê,” sê Bonnievale Wyne se raadsvoorsitter, Anton Smuts. “Danksy haar dinamiese leierskap en omvangryke ondervinding van alle vlakke van die bedryf – plaaslik en internasionaal – het sy haarself as ’n belangrike bate vir ons bedryf bewys. Haar verbintenis met Bonnievale Wyne kom op net die regte tyd, omdat die maatskappy voorberei vir die volgende vlak.”

Volgens Barnardt, werp Gous se insae reeds vrugte af. “Ons het al verskeie veranderinge geïmplementeer, wat ’n beduidende invloed op ons mark-teenwoordigheid sal hê, en Carina se bydrae is van onskatbare waarde,” sê hy.

’n Sterk grondslag

Gous het op ’n plaas in die Keisie-vallei naby Montagu grootgeword en het ’n spesiale verbintenis met die groter streek, wat die tuiste is van ikoniese wyn-handelsmerke en meer as 100 produsente waaruit Bonnievale Wyne bestaan.

“Die maatskappy het ’n lang en uitstekende geskiedenis van medewerking en samewerking,” sê sy. “Behalwe dat dit ’n formidabele besigheid is met toegang tot ’n wye verskeidenheid kultivars en terroirs, het Bonnievale Wyne ’n unieke ligging in die manjifieke Breederivier-vallei en is deel van ’n lang en fassinerende geskiedenis.

“Hulle het al die boustene om ’n oorspronklike, uitsonderlike hoë kwaliteit-handelsmerk na die mark te bring en langtermyn waarde te bou. Daar is ’n ongelooflike positiewe energie by Bonnievale en ek sien uit om by te dra tot toekomstige suksesse.”

Volhoubaarheid is die sleutel tot sukses

Haar besluit om nouer betrokke te wees by Bonnievale Wyne spruit voort uit haar siening oor die Suid-Afrikaanse bedryf in geheel.

“Waardeverhoging is noodsaaklik vir die fundamentele veranderinge, wat ons benodig vir volhoubaarheid, maar dit moet op elke vlak gebeur.

“Bonnievale Wyne is ’n goed-bestuurde maatskappy met ’n groot produsentenetwerk wat die verlangde wyngehalte op verskillende vlakke kan lewer. Ons het ’n wynkopersnetwerk in die plaaslike en internasionale markte en ons weet waarheen die wyn gaan en hoe dit gebruik word. Hier is die geleentheid om ’n goeie, langtermyn handelsmerk met ’n rotsvaste verskaffersbasis en sterk finansiële ondersteuning te bou.

“Ek glo dit is wat benodig word om waarde vir bestaande wynkelders te ontsluit en die winsgewendheid van die groter bedryf dramaties te verander.”

Hoewel die geskiedenis meer as ’n halfeeu terugdateer, het Bonnievale Wyne in 2016 sy tiende verjaarsdag gevier. Dit is formeel op 1 November 2006 gestig, ná ’n drieledige samesmelting van die Bonnievale-, Merwespont- en Nordale koöperatiewe wynkelders in wat gereken word as ’n mylpaal en eerste van sy soort transaksie vir die Suid-Afrikaanse landboubedryf.

Die samewerkingsooreenkoms met Carina Gous is net nog ’n stappie in die maatskappy se pioniers-ewolusie. Gous het die grade MSc en MBA en is ’n gekwalifiseerde chemikus. – Persverklaring