Boranboer as ontwikkelende teler van die jaar aangewys

37

Estimated reading time: 1 minute

Die wenner van die Unistel / SA Stamboek Ontwikkelende Teler van die Jaar 2021 is Zamile Denga. Hierdie Boran-teler is op 26 April tydens die digitale Standard Bank / SA Stamboek Elite-toekenningsgeleentheid aangewys.

Zamile van die Lili Bovids-stoet boer op die plaas Upper Caxton naby Bathurst in die Oos-Kaap. Hy het sy stoet in 2013 geregistreer en dié Borane floreer op sy suurveld-plaas. Zamile glo dat daar ’n hoë aanvraag is vir die Boran se genetika en beplan om sy stoet meer intensief te bemark.

SA Stamboek is trots daarop om erkenning te verleen aan die integrering van ontwikkelende veeboere in die Suid-Afrikaanse stoetbedryf. SA Stamboek se lede, die telersgenootskappe, word aangemoedig om aktief betrokke te wees om nuwe toetreders en ontwikkelende telers by te staan.

SA Stamboek het reeds vanaf 2012 hande met die Unistel-laboratorium gevat, wat belangrike genetiese dienste lewer, om ’n ontwikkelende stoetteler by te staan om sy of haar kudde uit te brei deur top stoetdiere aan te koop. Dié word gekies uit nominasies vanaf die Stamboek-telersgenootskappe. – Persverklaring, SA Stamboek