Heelwat vooruitgang is die afgelope dekade gemaak in die bestuur van veeproduksiestelsels. Wanneer ’n mens holisties na rooivleisproduksie kyk, bestuur ons stelsels (Figuur 1) en in daardie stelsels bestuur ons risiko’s.

 Figuur 1: ’n Stelsel-benadering tot die bestuur van risiko’s.

Insette verwys na al die aktiwiteite wat nodig is vir die produksie van veilige vleis, soos grond, beeste, weiding, bestuur en vele meer. Die proses verwys na al die aktiwiteite wat ’n mens met hierdie insette of diere verrig in ’n proses wat daarop gemik is om uitsette te verkry (inenting, dip, ontwurming, voeding, ens.). Dit vind egter nie in ’n geïsoleerde ruimte plaas nie, maar is aan die omgewing blootgestel. Dit is waar die risikofaktor inkom.

Bosluise wat draers van siektes en skadelike faktore is, het ’n direkte en indirekte impak op die ekonomiese uitsette van die veebedryf in Suidelike Afrika. Die risiko wat met hul teenwoordigheid geassosieer word, kan nie geïgnoreer word nie. Na raming was die koste van slegs mytdoders vir die beheer van bosluise in 2016 ongeveer R104 miljoen.

Oordrag van siektes

Die veterinêre en ekonomiese belangrikheid van bosluise word lankal erken vanweë hul vermoë om siektes oor te dra – nie net na diere nie, maar ook na mense. Ongeveer 80% van die wêreld se beesbevolking van 1 281 miljoen stuks diere, is aan risiko’s blootgestel vanweë bosluise en bosluisoorgedraagde siektes. Ene McCoster het reeds in 1979 beraam dat die wêreldwye koste van beheer en produktiwiteitsverliese jaarliks US$7 000 beloop.

In Afrika, waar daar ongeveer 186 miljoen beeste is, is bosluise en bosluisoorgedraagde siektes die ernstigste beperkings op ’n verhoging in produksie. Weeklikse of tweeweeklikse aanwending van chemiese mytdoders is steeds ’n algemene vorm van beheer. Inenting teen bosluisoorgedraagde siekte en die strategiese aanwending en gebruik van middels kry egter die afgelope tyd toenemend aandag.

Bosluise veroorsaak groot geldelike verliese en het op talle maniere ’n nadelige uitwerking op hul vierpotige gashere. Bloedverlies is ’n direkte gevolg van bosluise, maar hulle is ook potensiële draers van bloedparasiete. Wanneer groot hoeveelhede bosluise ’n plaasdier se bloed uitsuig, veroorsaak dit ’n verlaging in sy liggaamsgewig en bloedarmoede, terwyl die bytplekke ook die gehalte van ’n dier se huid verlaag. Die grootste verliese wat deur bosluise veroorsaak word, is egter vanweë hul vermoë om siektes oor te dra.

Nuwe mytdoders

Die ontwikkeling van nuwe mytdoders is ’n lang en baie duur proses. Dit is kommerwekkend dat weerstand teen die beskikbare mytdoders toeneem, want dit bied die moontlikheid dat die kwynende voorraad doeltreffende mytdoders uitgeput kan raak as daar nie alternatiewe benaderings is tot die bestuur van bosluise nie.

Groot vordering is die afgelope jare gemaak in die ontwikkeling van middele en bosluisbeheerstrategieë. Sulke vooruitgang sal ongetwyfeld help om die risiko wat met bosluise en siektes gepaardgaan, te verminder. Een eenvoudige strategiese benadering is die gebruik van chemiese produkte en middels op die regte tyd van die jaar, soos om in die winter vooruit te beplan vir die bosluisbevolkingsontploffing en gevolglike siektes in die somer.

Die groei in bosluisgetalle (veral bloubosluise) volg ’n voorspelbare kurwe. In Figuur 2 dui die groen lyn op die normale groeikurwe. Kort ná die eerste seisoenale reën in September of Oktober, kan ’n eksponensiële verhoging in bosluisgetalle gesien word, wat dan van Februarie tot vroeg April ’n hoogtepunt bereik. Die risiko vir groot ekonomiese verliese is op sy hoogste wanneer die bosluisbevolking ’n hoogtepunt bereik.

Figuur 2: Groeikurwe van die bosluisbevolking.

’n Eenvoudige, maar doeltreffende, risikobestuursplan is om alle diere sowat drie weke ná die eerste goeie reën in die lente, met ’n inspuitbare makrosikliese laktoonproduk te behandel. Dit sal die potensiële tweede en daaropvolgende geslag bosluise (F2 tot F5, ens.) verminder, en dus die weiding-besmetting en potensiële risiko verminder.

Dip alle diere

In die afwesigheid van piretroïedweerstand in bosluise, is dit ’n goeie opsie om die behandeling van alle diere met ’n flumetrien-tipe dip op te volg. Die idee is om ’n parasietbevolking, soos deur die rooi lyn in Figuur 2 aangedui, te verkry. Genoeg bosluise moet steeds teenwoordig wees om endemiese stabiliteit van bosluisoorgedraagde siektes te verseker, maar syfers wat laag genoeg is om ekonomiese verliese te voorkom. Dit is noodsaaklik om diptenktoetsing en weerstandswaarneming te doen ten einde basislynwaardes vir toekomstige beheerstrategieë te vestig. – Artikel verskaf deur Afrivet

Vir bronverwysings of meer inligting, skakel gerus ’n Afrivet-agent of laai die Afrivet-toepassing af. Skakel alternatiewelik 012 817 9060 of 0860 VEEARTS, of besoek die webtuiste www.afrivet.co.za.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here