Brahmane kook op ‘n koue Bosveldfees

1371
Die opperste-kampioenbul op Ellisras se skou, ELT 16/73, van Hans en Lizemari van Onderstepoort, Pretoria.

ʼn Wit Brahman-bul en ‘n rooi Brahman-vers sal Ellisras se jaarlikse Bosveldskou tydens die Alfa-week in Parys in die Vrystaat verteenwoordig.

Op wat as ‘n baie koue dag vir die Bosveld beskryf kan word, is dié twee top diere op 6 Julie aangewys as dié skou se opperste kampioene. Die bul, ELT 16/73, is deur die De Blanque Brahmanstoetery van Hans en Lizemari Terblanche van Onderstepoort by Pretoria vertoon. Dié bul was ook die junior kampioen.

Die vers, GPCK 16/717, behoort aan Willie Jacobs se Brahmanstoetery op Rietfontein by Rustenburg. Sy was ook die junior kampioen.

Brahmane kwalifiseer vir Hinterland-vleisbeeskampioenskappe

Met hul oorwinnings, kwalifiseer dié diere vir deelname aan die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskappe. Dit word tydens vanjaar se ALFA by die Afridome in Parys aangebied. Die diere sal saam met ander kwalifiserende wenners van die grootste veeskoue regoor die land, meeding om dié gesogte titel. ALFA vind plaas van 18 tot 20 September 2018. Vir meer inligting, besoek www.alfaexpo.com. – Andries Gouws, Veeplaas

Die opperste-kampioenbul op Ellisras se skou, ELT 16/73, van Hans en Lizemari van Onderstepoort, Pretoria.
Ellisras-skou se opperste kampioen vroulike dier, is dié rooi Brahmanvers, GPCK 16/717 van Willie Jacobs van Rustenburg.