Estimated reading time: 2 minutes

Volgens die voorlopige data wat tot dusver ontvang is, is meer as 67 000ha se weiveld vernietig en duisende diere dood tydens die verwoestende brande wat op 12 Julie in die suidelike Vrystaat ontstaan het.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), het die organisasie ’n aanlyn-opname onder boere wat deur die brande geraak is, gedoen. Wilken sê dat daar tot en met 15 Julie nog boere besig was om opvlambrande te bestry, en ander wat nog gewonde diere behandel het en van karkasse ontslae geraak het, wat dus nog nie die kans gehad het om die opname te voltooi nie. Sommige boere het ook nie selfoonsein nie aangesien die brande infrastruktuur vernietig het.

Uit die gegewens wat tot dusver van die 63 respondente ontvang is, is die volgende inligting beskikbaar:

  • 67 000ha veld is vernietig.
  • 2 017 beeste is dood.
  • 1 953 skape is dood.
  • 415 stuks wild is dood.
  • R2,7 miljoen se geskatte strukturele skade is aangerig.

Geen menslike sterftes of ernstige beserings is aangemeld nie. Wilken noem dat die onmiddellike behoeftes soos aangedui deur die betrokke boere, meestal vir veeartsenykundige voorrade, watervoorsiening, voer- en voeraanvullings vir die oorlewende diere is. Laasgenoemde word benodig totdat die boere alternatiewe planne kan maak om die winter deur te sien en die weiding van die nuwe seisoen hergroei het.

Voorbeelde van behoeftes in volgorde van onmiddellike prioriteit is:

  • Finansiële skenkings om diesel te finansier om voer en voorrade wat reeds geskenk is, te vervoer.
  • Voerdonasies.
  • Mediese voorraad vir diere (wondsproei, antibiotika, ensovoorts).
  • Diesel.
  • Waterpype en -toebehore.
  • Omheiningsmateriaal.

Wilken noem ook dat die boere wat aan die voorpunt van die brande was, hul dank uitgespreek het teenoor al die boere en hul plaaswerkers wat van heinde en verre gekom het om deur die nag te help werk, asook die Mangaung Sambreelbrandbeskermingsvereniging (MUFPA) en die Working on Fire-spanne wat hulle ontplooi het, wat beheer geneem het oor die wegholbrande in die uiters sterk en wisselvallige windtoestande.

Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê dat hoewel die brand saamgeval het met die aanvang van die plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng, daar geen bewyse is dat hierdie brande deur brandstigters veroorsaak is nie.

Dr Armour sê dat VL direk gekontak kan word vir besonderhede van die boerevereniging se verteenwoordigers en koördineerders vir voerhulp by verskillende strategiese aflaaipunte.

Enigiemand wat die betrokke boere wil bystaan, kan dit doen deur VL se webwerf hier te besoek.  

Alternatiewelik kan finansiële bydraes gemaak word aan Vrystaat Landbou, Absa, rekeningnommer: 470940670, takkode: 632005. Gebruik “BRANDE” en jou selnommer as verwysing. – Persverklaring, Vrystaat Landbou