Johann de Wet

’n Wynboer van Robertson is op 23 Mei as Agri Wes-Kaap en Santam Landbou se Jongboer van die Jaar vir 2018 aangewys. Johann de Wet (35), uitvoerende hoof van die Dewetshof-landgoed, dring nou deur na die nasionale ronde wat later vanjaar gehou word.

Johann, voorsitter van die Chardonnay Vereniging Suid-Afrika, is tans in die buiteland en kon nie die glansgeleentheid in Durbanville bywoon nie. Hy het egter via ’n Skype-oproep gehoor dat hy dié gesogte toekenning ingepalm het. Sy vrou, Gera, het die toekenning namens hom ontvang.

“Die kompetisie beteken so baie vir ons jong boere en die prys doen baie vir die wynbedryf. Dankie vir die groot eer,” het hy via Skype gesê.

Johann het gesê hy wil graag die ander deelnemers ontmoet om by hulle te leer oor hoe húlle boerdery benader en hul plase bestuur. “Dit was almal sulke sterk kandidate. ’n Mens kan so baie by mekaar leer.”

Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê omdat deelnemers volgens streng kriteria beoordeel word – soos rekordhouding en finansiële kontrole, produksiebestuur, hulpbronbewaringspraktyke, bemarkingsbeleid, risikobestuur, instandhouding van implemente en toerusting, arbeidsbeleid en -praktyke en hul betrokkenheid by die georganiseerde landbou – is die kompetisie ’n goeie maatstaf vir deelnemers om hul eie mededingendheid en volhoubaarheid teen ander produsente te meet.

“Dit is vir Agri Wes-Kaap ’n aanwins om sulke kaliber jong boere as deel van ons struktuur te hê. Die Wes-Kaap se landboutoekoms is in goeie hande. Ons wens vir Johann baie geluk en alle sterkte toe met die nasionale kompetisie,” het hy gesê. – Agri Wes-Kaap