Brusellose by beeste is ’n staatsbeheerde siekte, en baie moeite word landwyd en in Suid-Afrika se buurlande gedoen om boere bewus te maak van dié siekte en hoe om dit te bestry.

Dr Andries Fourie, ’n staatsveearts op Upington, sê die gevalle raak minder in beeskuddes soos wat ’n mens verder wes in Suid-Afrika gaan. Boere moet hulle nie hierdeur laat mislei nie, maar in gedagte hou dat daar meer met skape geboer word in die verder westelike gedeeltes.

Die boere in die Noord-Kaap het die voordeel dat die fisiese omgewing nie so gunstig is vir die brusellose-bakterie nie. Hitte en droogte is albei omgewingsfaktore wat die bakterie se leeftyd negatief beïnvloed.

Dr Fourie sê hy glo die ekstensiewe boerderymetodes en groot plase in dié semi-woestyngebied, kan ’n uitwerking hê op die bakterie se oorlewing en verspreiding.

Voorkoms onder kleinvee

“Die feit dat minder gevalle van brusellose by beeste in die Noord-Kaap voorkom, stel nie die provinsie vry van dié siekte se gevare nie. Dit kom steeds wyd voor en goeie biosekuriteit is nodig om te verseker dat die siekte nie jou kudde binnedring nie,” sê dr Fourie.

Nog ’n veearts van Upington wat baie met brusellose by skape en bokke te doen kry, dr Willie Harris, sê dié probleem is groter onder kleinvee as wat baie boere wil aanvaar.

“Dit is belangrik om te verstaan dat daar verskillende brusellose-bakterieë is. Elkeen teiken ’n ander gasheer, soos beeste, skape, bokke en wild, en elkeen het sy eie negatiewe uitwerking op die verskillende funksies van diere se verskillende organe.

“In baie gevalle word brusellose deur dekking oorgedra, maar nie in al die gevalle nie. Oordrag kom meer voor by slymvlieskontak, soos wanneer een koei aan ’n ander se besmette vrugvliese ruik, wanneer ’n vlieg op ’n besmette koei wat pas gekalf het se vrugvlies sit en dan weer op ’n ander koei se oogslymvlies, of wanneer ’n stoetram aan ’n ander ram se besmette skede ruik. Selfs die drink van besmette bees- of bokmelk kan dié siekte na mense oordra,” verduidelik hy.

Kommer oor situasie

Omdat dr Harris gereeld met dié soort siektes in die noordelike dele van die Noord-Kaap in aanraking kom, is hy met reg baie bekommerd oor die situasie. Hy sê Brucella ovis, wat by kleinvee voorkom, is nie ’n soönose nie. Dit is nie onder staatsbeheer of aanmeldbaar nie, maar dit is ’n baie aktuele probleem in die Noord-Kaap wat baie meer aandag behoort te kry.

Omdat dit nie ’n aanmeldbare siekte is nie, is daar nie klinkklare syfers beskikbaar nie. Hy is egter uit sy werkservaring oortuig dat dit een van die redes is vir groot finansiële skade onder boere en dat hulle dit kan verhoed deur aandag aan dié siekte te gee.

Brusella ovis beïnvloed hoofsaaklik ramme se testes, met ’n sluimerende uitwerking en meegaande vernietiging van saadgehalte. Die tempo waarteen lammers aankom, raak progressief stadiger en baie boere skrik eers wakker as die skade reeds ver gevorderd is. Besmette ramme wat ooie dek, kan resorpsies, aborsies en swak lammers tot gevolg hê. Dit is afgesien van swak besetting as gevolg van swak saadgehalte,” sê hy.

Grootvee en wild

Dr Fourie is van mening dat die boere in die Noord-Kaap nie soveel probleme met brusellose het soos hul eweknieë in die oostelike provinsies van die land nie, maar hulle moet nie te gerus voel nie.

Hy waarsku dat brusellose ook deur wild oorgedra kan word. “Buffels is die beste voorbeeld hiervan en dit is een van die hoofredes waarom buffels volgens wet vir brusellose getoets moet word voordat hulle enigsins verskuif word. Die rede hiervoor is om die nasionale beeskudde teen hierdie siekte te beskerm.”

Van die probleme wat hy onder beeskuddes opgelet het, is langer kalfintervalle as gevolg van aborsies, laer melkproduksie en daarmee saam ligter kalwers, asook verlies aan ekonomiese waarde van veral stoetdiere.

“Op die lang duur kom dit daarop neer dat ’n mens onproduktiewe diere op die plaas moet dra, wat jou weiding opvreet sonder dat hulle kalwers produseer, en jy kan dus geen inkomste uit hulle genereer nie.”

Bewusmaking onder boere

Drs Fourie en Harris is dit eens dat baie gedoen word om boere bewus te maak van dié siekte. Instansies soos dieregesondheidsforums, georganiseerde landbou, verspreiders van dieremedisyne en veeartse bied gereeld projekte aan om boere hieroor in te lig.

Dr Fourie is van mening dat alles afhang van elke individuele teler se ingesteldheid. “Sommige boere wil met mag en mening die siekte op hul plase uitroei, of verhoed dat dit na hul plase gebring word. Hierdie boere se pro-aktiewe aksies moet geloof word.

“Ongelukkig is daar telers wat eerder die probleem ignoreer. Hulle vermy die toetsing van hul diere uit vrees dat positiewe diere geïdentifiseer en onder kwarantyn geplaas gaan word. Die woord ‘kwarantyn’ het nie ’n goeie konnotasie nie, maar ongelukkig is dit die enigste manier om die siekte so vinnig as moontlik uit te roei en te voorkom dat dit verder versprei.

“Die georganiseerde landbou in die Noord-Kaap en ander dieregesondheidsforums doen baie om die probleem op te los, maar die finale besluit om oor te gaan tot aksie lê by die teler self. Om te wag tot iemand dalk eendag op jou voorstoep opdaag om jou diere gratis te toets, kan dalk net te laat wees om finansiële- en gesondheidskade te verhoed.”

Pogings tot beheer

Dr Harris sê die pogings tot beheer wat oor die laaste twee dekades deur die staat en georganiseerde landbou aangewend is om Brucella ovis te bekamp, het hoofsaaklik op bloedtoetse gekonsentreer. Dit is heeltemal ontoereikend by kleinvee en die fokus moet eerder op die evaluering van saad se gehalte wees, aangesien 15% van draerdiere nie met bloedtoetse geïdentifiseer word nie.

Sy raad is dat ramkopers op ’n vrugbaarheidsertifikaat moet aandring. “Dit is egter sinneloos om ramme uit kuddes te koop wat as vry van die siekte gesertifiseer is, maar jy het reeds die siekte in jou eie kudde. Dit is noodsaaklik om elke jaar al jou kudderamme teen skaapbrusellose te ondersoek.”

Dr Fourie se raad om brusellose by grootvee te beheer, is om ’n mens se hele kudde te laat toets sodat jy weet wat jou kudde se status is. Sy belangrikste wenk vir beesboere is om nie verse in te koop nie. “Ek weet dit kan dalk onortodoks en drasties klink, maar ek glo dit is uiters belangrik om eers seker te maak dat ’n vers werklik skoon is van brusellose en ander siektes voordat sy deel word van jou kudde.

“ ’n Skoon toets op ’n vers beteken nie veel nie, tensy jy diere van ’n kudde koop waarvan jy weet al die diere skoon is. Indien ’n vers brusellose het, sal die siekte eers met toetse net voor of net ná kalwing opgemerk word, en dan is dit reeds te laat.”

RPO-subsidie vir toetsing

Heelwat telers maak reeds gebruik van die subsidie wat die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Noord-Kaap beding het, om diere te laat toets. Die subsidie beloop R50 per ram wat vir Brucella ovis en vrugbaarheid getoets word, en R600 per bul wat vir trichomoniase, vibriose en vrugbaarheid getoets word. Telers wat van die geleentheid gebruik wil maak, moet aan die voorgeskrewe vereistes van die RPO voldoen voordat hulle in aanmerking kan kom vir die subsidie.

Vir meer inligting, skakel dr Willie Harris by 071 870 4276 of dr Andries Fourie by 083 452 9850. Vir meer inligting oor die RPO-subsidie, skakel Dirk Krapohl van die Noord-Kaapse RPO by 053 832 9595. – Koos du Pisanie, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here