Dit is tyd dat kommersiële bulkopers presies aan bultelers sê wat hulle in ’n teelbul wil hê. Maar dit is net so belangrik dat, as bultelers dan daardie bul beskikbaar stel, kommersiële boere dit sal raaksien en teen ’n billike prys koop, eerder as om maar net weer in die slaggat te trap om deur vet verblind te word. Dit is wat beesboere onlangs op ’n boeredag in die Harrismith-kontrei vir mekaar gesê het.

Die boeredag was die breinkind van Gert en Martie Campher, eienaars van beide Amakosi Beefmasters en Germar Droughtmasters. Sowat 40 mense het die boeredag op hulle plaas, Blesbokdam, bygewoon om na vier sprekers te luister.

Sprekers en borge by die boeredag was, agter van links, Hennie Visser, Pieter Coetzee van Telwiedré Voere (borg), Jan Jooste, Gert Campher, Kristian Vermaak van Agricoza (borg) en Izak Hofmeyr van Plaas Media. Voor is Albert Loubser van Plaas Media.

Die sprekers was dr Chris Nel, ’n veearts op Harrismith, wat na die gesondheidsaspekte van ’n goeie bul gekyk het; Gert Campher, wat gesels het oor die manier waarop bulle grootgemaak behoort te word; Jan Jooste, ’n groot kommersiële produsent in die distrik, wat oor die verhouding tussen telers en kopers gepraat het; en Hennie Visser, ’n konsultant op Harrismith, wat oor seleksiekriteria en die waardebepaling van bulle gesels het.

’n Vrugbare kudde

Met die intrapslag het dr Chris Nel die belangrikheid van ’n vrugbare kudde geïllustreer deur die gehoor te laat uitwerk wat die verlies aan inkomste is tussen ’n kalfpersentasie van 80% en 90%. Hy meen dat die aantal kalwers wat ’n mens elke jaar kan bemark, die belangrikste faktor is wat die winsgewendheid in ’n vleisbeeskudde bepaal.

“Die bul kan ’n groot invloed op die vrugbaarheid van ’n kudde hê, maar op meer as een vlak. Hy moet in die eerste plek fisies in staat wees om te dek – met ander woorde, hy moet goed kan loop, dek en vreet om soveel koeie soos wat aan hom toegedeel is, beset te kry. Hiermee saam moet hy egter lewenskragtige semen hê. Om dit te bepaal, moet die semen ontleed word.

“Verder het skrotumomtrek ’n groot invloed op die ouderdom waarop die bul se verskalwers puberteit bereik. Dit is ’n hoogs oorerflike eienskap.”

Rol van voeding

Hy het beklemtoon dat die verkeerde voeding ’n bul se vrugbaarheid lewenslank kan beskadig. “Daar is ’n wesenlike verskil tussen die voorbereiding van ’n bul vir ’n veiling, teenoor die vetmaak van ’n bul vir ’n veiling. Vetneerlegging om die nek van die skrotum is vir alle praktiese doeleindes permanent en het ’n uiters negatiewe invloed op semengehalte.

“Aan die ander kant beskadig ’n té warm rantsoen die membraan wat die grootpens belyn. Hierdie suurpensskade is onomkeerbaar en beïnvloed die bul se spysverteringstelsel lewenslank, wat beteken hy sal baie swak in die veld vaar. So ’n bul ‘val uitmekaar’. ’n Goeie aanduiding of ’n rantsoen te warm is, is om te kyk vir ’n wit lyn aan die bokant van die kloue waar die hare begin. Dit beteken die rantsoen is te warm.”

Chris meen daar is ’n fyn balans tussen te vet en te maer. ’n Te maer bul kan ook nie sy werk doen nie. ’n Mens moet onthou dat die dekseisoen uiters stresvol is vir bulle. Dit is belangrik dat die bul die dekseisoen fiks binnegaan, met genoeg vetreserwes om hom vir drie maande te ondersteun. 

Mediese geskiedenis

Die volgende stel kriteria by die keuse van ’n bul is die dier se mediese geskiedenis. Is al die inentings op die regte tyd toegedien? Sekere inentings veroorsaak soms ’n koorsreaksie by die dier, en koors maak semen dood. Omdat dit ses weke neem vir nuwe semen om beskikbaar te raak, is dit noodsaaklik dat inentings ten minste ses weke voor die dekseisoen afgehandel moet wees.

Hy sê elke individuele bul se dekvermoë moet vooraf op die teler se plaas getoets word, en hier is ’n vertrouensverhouding tussen die koper en teler uiters belangrik. ’n Faktor wat egter totaal onderskat word, is die uitwerking van dominansie in ’n meerbulparingsopset op die plaas.

“Genetiese ontledings het getoon dat die hoeveelheid kalwers wat verskillende bulle in een kamp verwek, drasties kan verskil op grond van die dominansie-hiërargie onder die bulle. Sommige bulle kom doodgewoon nie tot hulle reg nie.

“Die toets teen geslagsiektes kan as versekeringspolis beskou word. Kopers moet byvoorbeeld aandring op ’n geldige besmetlike misgeboortesertifikaat, en seker maak dat verse wat hulle koop ook daarteen ingeënt is. Maak seker dat die bul vir al die relevante geslagsiektes getoets is.”

’n Deeglike teelbeleid

Ten opsigte van bulkeuse beveel Chris aan dat die produsent ’n deeglike teelbeleid in plek het, en weet wat sy onmiddellike en langtermyn teeldoelwitte is. “Bestudeer die beskikbare bulle lank voor die veiling deur die boer te gaan besoek en die bulle in veldkondisie te evalueer.

“Die kudde waaruit die bul kom, is hier van onskatbare belang. Is die kudde in lyn met jou eie teeldoelwitte en word dit op dieselfde basis bestuur as wat jy jou kudde bestuur? Dit is raadsaam om byvoorbeeld ’n bul te koop wat uit dieselfde omgewing kom as waarin jy boer. Maak ook seker dat die verkoper besonderhede van die ma kan verskaf en doen navorsing oor die kudde se gesondheidstatus.”

Hy het afgesluit deur te beklemtoon dat ’n bul jou kudde binne ’n baie kort tydperk drasties kan verander. Dit kan egter tot 20 jaar neem voordat sy laaste dogters die kudde verlaat.

Resep vir mislukking

Die tweede spreker, Gert Campher, het dit onomwonde gestel dat die praktyk om bulle té vet te voer vir veilings moet verander, omdat dit ’n verloorresep is.

“Die kommersiële produsent moet drie dinge doen. Eerstens moet hy sy bulle lank voor die veiling op die teler se plaas gaan uitsoek. Tweedens moet hy seker maak die teler se stelsel sal daartoe bydra dat dié diere in sy eie stelsel sal aanpas. En derdens moet hy die familie bestudeer waaruit die betrokke bul kom, en seker maak dat hulle bekend is daarvoor dat hulle beter teel as wat hulle self is.”

Wat Gert se eie stelsel betref, word sy jong bulletjies op die veld groot met ’n goeie lek. Hy meen dit is noodsaaklik dat die bulletjies hulle eerste twee winters op die veld onder normale produksietoestande moet kan oorleef.

Gemiddelde aanbod

“Wat my betref, is daar aan die een kant heeltemal te veel gemiddelde en ondergemiddelde bulle in die mark. Aan die ander kant word die beste bulle egter uit die mark uit gevoer. Dit is tyd dat kommersiële produsente opstaan en baie duidelik aan stoettelers verduidelik wat presies hulle wil hê. Maar dan is dit net so belangrik dat die kopers presies koop wat hulle wil hê, en nie weer op die veiling deur ’n vet bul verblind word nie.

“Kyk na die gemiddeld van die groep bulle wat aangebied word. ’n Goeie teler sal ’n goeie gemiddeld in sy aanbod hê, met min uitskieters. Kies dus jou teler net so noukeurig vir die eienskappe waarvoor hy selekteer as wat jy jou bul kies,” sê hy.

’n Uiters belangrike punt wat hy gemaak het, is dat ’n bul wat op jou plaas aankom die verantwoordelikheid van die toekomstige gehalte van jou kudde op sy skouers dra. Dit is dus logies dat so ’n bul goed versorg moet word.

Bou verhoudings

Jan Jooste koop al vir baie jare bulle by Gert. As sy boodskap in twee woorde opgesom kan word, is dit: “Bou verhoudings.” En die sleutel van die verhouding wat ’n produsent met ’n bulteler moet hê, is kommunikasie, integriteit en eerlikheid.

Volgens Jan is ’n kommersiële produsent se kudde ’n verlengstuk van die stoetteler se kudde. “Daarom is dit noodsaaklik dat beide mekaar se kuddes sal bestudeer om seker te maak dat albei presies weet wat om van die ander te verwag en wat elkeen se behoeftes is.”

Jan meen daar is ’n duidelike lyn tussen uitbuiting, teenoor staan op jou regte. Hy vertel die verhaal van ’n bul wat hy by Gert gekoop het, wat met die eerste oogopslag doodgewoon nie gedek het nie. Gert het die bul met twee ander bulle omgeruil. Hierdie bul het egter een van die beste bulle in Gert se kudde geword met ’n nageslag wat nou nog die toon aangee.

Die les, het Jan gesê, is aan die een kant om ’n bul ’n redelike kans te gee om by sy nuwe omstandighede aan te pas, maar aan die ander kant ook dat ’n bulteler se integriteit van onskatbare waarde is.

Net die beste

“Moenie met die tweede beste tevrede wees nie. As jy op ’n spesifieke bul besluit het omdat hy ’n belangrike rol in jou kudde kan speel, wees dan bereid om vir hom te betaal, al gaan die bod hoër as wat jy sou wou betaal. Die prys raak onbelangrik as jy eers gesien het watter positiewe invloed die bul op jou kudde het,” is sy raad.

Hy beklemtoon dat goeie verhoudings ook vir ’n mens se veewagters geld, want dit is hulle wat jou diere die beste ken. “Leer hulle so goed as moontlik waarna om op te let om jou kudde se welstand te verseker.”

Waarde van verskillende insette

Die laaste spreker, Hennie Visser, het veral klem gelê op die waarde van verskillende insette in ’n kudde, ongeag of dit seleksie- of rekordhoudingsinsette is, of hoeveel jy vir ’n individuele bul behoort te betaal.

“Die waarde van rekordhouding om sukses te meet, is veral belangrik. Mikpunte kan slegs bereik word as jy die regte metings doen. Een van die metings wat vir my belangrik is, is die persentasie van die koei se gewig wat die kalf op 200 dae weeg. Ek beskou 45% as ’n goeie beginpunt.

“Dis ook belangrik om te meet of jou kudde oor tyd verbeter ten opsigte van die teeldoelwitte wat jy stel. Dit is slegs dan wanneer jy sal weet of jou bulaankope in die kol is of nie,” verduidelik hy.

Maatstaf vir pryse

Watter prys kan ’n kommersiële boer vir ’n bul betaal? Volgens Hennie is die tradisionele maatstaf van die prys van agt tot tien speenkalwers in die kol. In vandag se terme is dit ’n prys van tussen R48 000 en R60 000.

“Moet egter nie so prysbewus wees dat jy op die ou end nie die regte bul koop nie, want dit kan jou oor die lang termyn duur te staan kom. Jy sal egter net kan bepaal of jy ’n goeie prys vir ’n bul betaal het as jy noukeurig rekord hou.

“Enige bul wat goed teel en verse in jou kudde agterlaat wat net so goed of beter as hyself is, is ’n goeie belegging. ’n Mens kan amper sê so ’n bul was goedkoop, want dit maak nie saak wat jy vir hom betaal het nie. Dink dus in terme van ’n belegging, eerder as ’n plafonprys.”

Hennie sê ’n koeikudde is ’n gegewe wat nie vinnig vervang kan word nie. ’n Boer kan egter met die aankoop van die regte bul ’n baie groot verandering in sy kudde teweegbring in terme van sy teeldoelwitte. Die ideale bul is dié een wat die bestaande koeikudde se tekortkominge die beste kan aanvul. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Gert Campher by 083 632 4392.