By die oorwintering van groot- en kleinvee is die beginsels dieselfde. In die somer, met groen veld, is die primêre tekort in die somerreënvalgebiede van die land hoofsaaklik fosfaat, terwyl winterveld, met sy tekort aan proteïen en energie, ook ekstra aanvullings van hierdie voedingstowwe vereis. So sê dr Francois van de Vyver, nasionale tegniese bestuurder vir herkouers by Nutri Feeds.

“Hoewel fosfaataanvulling die belangrikste mineraalaanvulling in die somer is, kan ’n lek nie net fosfaat bevat nie; dit is nodig om ook na die kalsium-fosfaatbalans in die lek te kyk. Daarby kan die lek ander minerale soos magnesium en spoorminerale soos selenium, sink, koper en mangaan bevat. Die spesifieke gebied waarin jy boer sal grootliks bepaal watter minerale in so ’n lek ingesluit sal wees.”

Lek in drie stappe

Hierdie fosfaatlek, sê hy, is die eerste stap van ’n driefase-lekprogram wat deur die jaar vir veeboere aanbeveel word. 

“Gedurende die laatsomer en herfs, wanneer die voedingstowwe in die gras na die wortels toe verplaas word, verminder die voedingswaarde van die veld drasties in terme van proteïen en energie. Dit iskrities belangrik dat die oorgang tussen ’n somerlek en ’n winterlek betyds in hierdie tydperk aanvang sal neem om die diere toe te laat om by die proteïeninhoud in die winterlek aan te pas.”

Ná die eerste ryp, sê hy, verlaag die voedingswaarde van die veld ingrypend en bestaan dan hoofsaaklik uit vesel. Dit is dán die tyd om ’n winterlek te voorsien.

“ ’n Winterlek bestaan uit baie nie-proteïenstiksof (NPN) en hoofsaaklik ureum. Die mikpunt is dat die stikstofinname van die dier die mikroörganismes in die rumen in staat stel om die hoë veselinhoud in die swak gehalte weiding doeltreffend te kan verteer. Dit is die tweede fase in die driefase-lekprogram.”

Lekprogram vir kleinvee

Dit isby die derde fase waar daar spesifieke verskille tussen ’n lekprogram vir groot- en kleinvee intree. “Die derde fase in die program is gemik op die tydperk wanneer die diere in produksie gaan en bevat ’n merkbare hoër persentasie energie. Die meeste boere mik om hul kalftyd sowat 30 dae vóór die eerste reën te laat plaasvind. Dit isegter dan wanneer die veld op sy swakste is (in somerreënvalgebiede), en waar daar ook min veld beskikbaar is.”

By skape is dit meer gekompliseerd, verduidelik hy, omdat skape vir ’n baie korter tyd dragtig is en daar ’n herfs- of lentelamseisoen kan wees, of selfs ’n agtmaandestelsel. Die produksielek vir skape word daarom eerder aangepas by die ooie se tyd van dragtigheid – dit wil sê laatdragtigheid en die vroeë-laktasietydperk – as by die seisoen.

In ’n versnelde lamstelsel is goeie voervloeibeplanning, met ‘n toepaslike aanvullende voedingsprogram, waarskynlik die kern tot sukses.

Skape wat op die veld lam moet dus ’n produksielek kry, maar dis ook hoogs aan te bevele dat die lammers sodra moontlik aan kruipvoer blootgestel word, veral as die veldgehalte swak is. “Kruipvoer help nie net die lammers om beter te groei sodat hulle vroeër gespeen kan word nie – dit haal ook die druk van die ooi af omdat die lam minder melk suip en sy dus makliker haar kondisie kan herwin en handhaaf.”

Ureuminhoud

’n Belangrike verskil tussen skaap- en beeswinterlek is die ureuminhoud, aangesien skape aansienlik meer sensitief is vir ureum. Winterlek vir skape bevat dus minder ureum. Omdat uierontwikkeling en goeie kolostrumproduksie by skape so ’n belangrike faktor tydens laatdragtigheid is, is dit verder belangrik om spesifiek te fokus op ’n goeie bron van verbyvloeiproteïen in die produksielek.

“Indien daar nie hiervoor in die produksielek voorsiening gemaak word nie, is dit uiters belangrik dat die boer so drie weke voor lamtyd ekstra byvoeding aan die ooie begin gee en dié moet ’n baie goeie verblyvloeiproteïenbron bevat.”

Omdat die aminosure in verskillende verbyvloeiproteïenbronne soveel van mekaar verskil, beveel Francois gewoonlik aan dat ’n byvoeding nie net een proteïenbron bevat nie. “As jy twee of drie verskillende oliekoeke gebruik, vul hulle mekaar se aminosuurtekorte aan en kan jy redelik gerus wees dat die rantsoen aan die ooie se behoeftes voldoen.” 

Hoewel tegnologie rondom rumenbeskermde aminosure vir kleinvee bestaan, is dit tans nog nie kostedoeltreffend nie en daarom werk die tradisionele benadering steeds uitstekend.

Die regte kondisie

Dit is krities dat jou ooie, as hulle begin lam, in goeie kondisie is. ’n Goeie riglyn is dat hulle teen hierdie tyd ’n liggaamskondisiepunt van rondom 3,5 moet hê.

“Hoe minder kondisie die ooi tydens vroeë-laktasie verloor, hoe makliker is dit vir haar om haar kondisie te handhaaf tot die volgende dekseisoen. Die beginsel in hierdie tydperk is dus om eerder op die ooi se voedingsbehoeftes tydens laatdragtigheid en vroeë-laktasie te fokus, as op die tekorte in die veld.”

Relatief tot haar liggaamsgrootte is ’n ooi se baarmoeder heelwat groter as dié van ’n koei, en namate die lammers in die baarmoeder ontwikkel, word die rumenspasie vir voerinname ál hoe kleiner. Dit isin hierdie tydperk dat domsiekte potensieel ’n wesenlike probleem kan raak, juis by ooie wat ’n té goeie kondisie het en dragtig is met meerlinge. Die verminderde inname lei daartoe dat die ooie hul eie liggaamsreserwes begin gebruik, wat tot ketose kan lei.

Die keersy hiervan, waarsku hy egter, is dat jy die ooi kan óórvoer, wat weer sal veroorsaak dat die lammers te groot word in die baarmoeder. Dit kan dan tot ’n moeilike geboorte lei.

’n Duimreël vir liggaamskondisie deur die produksiesiklus, is dat jou ooie die winter met ’n kondisiepunt van 3,5 sal binnegaan. “Net voor lamtyd kan ons aanvaar dat sy rondom ’n halwe kondisiepunt sal verloor, en gedurende vroeë-laktasie kan ons aanvaar dat sy nog ’n halwe tot volle punt sal verloor. Dit beteken dat sy teen speentyd ’n liggaamskondisietelling van tussen 2 en 2,5 behoort te hê.

“Dit is dan belangrik dat sy teen die volgende paartyd in ’n opwaartse fase sal wees, sodat sy laatdragtigheid weer op ’n 3,5 kondisiepunt sal bereik.”

Suksesvolle oorwintering

Dit is duidelik, sê Francois, dat die suksesvolle oorwintering van jou kleinvee eintlik reeds in die somer begin, met ’n goeie mineralelek.

“As jou ooie die winter in ’n swak kondisie binnegaan, sal jy die hele winter probleme met haar onderhoud hê. As sy daarenteen die winter in goeie kondisie binnegaan, sal jy haar baie makliker kan onderhou.

“Die mikpunt van oorwintering is eintlik op onderhoud gefokus, maar op so ’n manier dat, soos sy nader aan lamtyd beweeg, jy maklik haar kondisie met ’n produksielek kan aanpas sodat sy ’n 3,5 kondisietelling kan bereik teen drie weke voor lam. Om daar uit te kom, moet sy egter die winter met die regte kondisietelling binnegaan.”

Ooie wat in die herfs lam, gaan eintlik op tanende veld lam. Hul liggaamskondisie vereis dus spesiale sorg aan die hand van die korrekte aanvullingsprogram.

Lam in die herfs

Ooie wat in die herfs lam, gaan eintlik op tanende veld lam. Hul liggaamskondisie sal dus baie noukeurige aandag verg met behulp van die korrekte aanvullingsprogram. Die voordeel van ’n herfslamseisoen is wel dat jy, in ’n ekstensiewe produksiestelsel, waarskynlik jou lammers op goeie lenteveld gaan speen.

Lam in die lente

Skape se natuurlike teelseisoen is in die herfs, wat beteken dat hulle in die lente lam. As boer is jou uitdaging om daardie ooie in ’n goeie kondisiepunt aan die einde van die winter te kry. ’n Verdere uitdaging is dan om die lammers teen die parasiete wat met die somer geassosieer word, te beskerm.

Agtmaandestelsel

Baie skaapboere bestuur deesdae ’n versnelde lamstelsel waar hulle mik om elke agt maande te lam. In hierdie stelsel wissel die lamtyd elke jaar in ’n tweejaarsiklus. Goeie voervloeibeplanning wat met ’n goeie, toepaslike aanvullende voedingsprogram gepaardgaan, is waarskynlik die kern van die sukses van so ’n versnelde lamstelsel. Die sleutel is om te sorg dat jou voedingsprogram altyd aan die voedingsbehoeftes van die ooi sal voldoen.

Vir meer inligting of verwysings, skakel dr Francois van de Vyver by 018 011 8888 of stuur ’n epos aan Fvandevyver@countrybird.co.za. – Izak Hofmeyr, Veeplaas