Die minister van polisie, Bheki Cele, het die nasionale misdaadstatistieke vir Suid-Afrika op 12 September bekendgemaak. Dit sluit veediefstalstatistiek in.

Die statistiek is deur die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum geanaliseer.

Die omvang van veediefstal in Suid-Afrika

Figuur 1: Aantal vee wat gesteel is en aantal veediefstalsake wat sedert 1995 aangemeld is.

Die aantal veediefstalsake wat vir die 2018/19-jaar by die SAPD aangemeld is, het met 2,9% toegeneem en is onbeduidend, soos aangetoon in Figuur 1. Die interessante tendens in Figuur 1 is deel van die patroon van ‘n sewejaartoename en daarna ‘n vyfjaardaling in veediefstalsyfers.

Die hoeveelheid vee wat gesteel is verteenwoordig alle beeste, skape en bokke wat in die jaar 2017/2018 in Suid-Afrika gesteel is tot op hede. Die hoeveelheid vee wat gesteel is, het met 9,2% gestyg.

Tabel 1 toon die toename per spesie en skets ‘n prentjie rakende die omvang van die toename in veedieftstal.

Indien 2014/2015 as basisjaar vir veediefstal beskou word, het veediefstal die afgelope vyf jaar nasionaal met ‘n skrikwekkende 18,8% toegeneem. Die aantal vee wat gesteel is het oor dieselfde tydperk met 26,5% gestyg, soos in Figuur 2 geïllustreer.

Tabel 1: Persentasie styging per veespesie wat van 2017/18 tot 2018/19 gesteel is.

Figuur 2 illustreer die aantal spesies wat oor die afgelope vyf jaar gesteel is. Dit toon duidelik dat daar sedert 2014/15 ‘n geleidelike toename was in die aantal gesteelde vee-eenhede, ongeag die spesietipe. In 2018/2019 het dit onaanvaarbaar hoë vlakke bereik. Indien die aantal vee-eenhede wat daagliks in die land gesteel word bereken word, raak die werklike aard van die gruwel duidelik.

Figuur 2: Aantal spesie per jaar gesteel.

Tabel 3 dien as ‘n waarskuwingslig – die monetêre waarde van gesteelde diere oor die afgelope vyf jaar het met R500 miljoen toegeneem.

Tabel 3: Waarde van alle vee wat gesteel en teruggevind is, en gevolglike finansiële verliese.

Tabel 4 omvat die monetêre waarde van die verskillende tipes vee wat gesteel is. Dit is duidelik dat die grootste verliese met betrekking tot beeste hoofsaaklik weens die diere se hoër waarde is. Getalgewys is skape meer vatbaar vir diefstal, hoewel dit in finansiële terme ‘n kleiner verlies verteenwoordig.

Tabel 4: Waarde van vee wat gesteel en teruggevind is en gevolglike finansiële verlies per tipe dier.

Reaksie op die minister se opmerkings

Veediefstal is ‘n hoogs georganiseerde misdaad. Die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum het reeds in 2016 aangedui dat 87% van veediefstal hoogs georganiseerd is en dat slegs 13% potslagtings (vir oorlewing) voorkom.

Die vleis van gesteelde vee word by shisa nyama verkoop. Hierdie feit is jare al bekend. Gemeenskappe is hoogs ingelig oor wie die kriminele is en alhoewel hierdie inligting aan die SAPD bekendgemaak word, word daar niks gedoen om die misdaad te voorkom nie. Dit is omrede daar nie behoorlike misdaadintelligensie in plek is nie.

Veediefstal is ‘n oorgrensmisdaad. Hierdie feit is reeds sedert die laat 1800’s bekend. Dit is dus geensins iets nuut nie, maar is ‘n sosiale verskynsel wat die indruk skep dat die misdaad aanvaarbaar is omrede dit daagliks gepleeg word. Heelwat navorsing is oor die afgelope tien jaar in dié verband onderneem, maar word onder die mat ingevee. Niemand in die kriminele regstelsel neem eers kennis van die omvang en impak van die probleem nie.

Mense word snags vir hul diere vermoor. Hierdie aangeleentheid is by verskeie geleenthede deur die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum geopper. ‘n Besluit is in 2018 geneem dat die SAPD genader sal word rondom die insluiting van ‘n nuwe misdaadkategorie, lewendehawediefstal (livestock robbery). Dit is in lyn met die Verenigde Nasies se Georganiseerde Misdaadeenheid se aanbevelings oor misdaadkategorieë. Ná vele skrywes in hierdie verband was daar nog nooit eens ‘n ontvangserkenning nie.

Uittreksel van voorlegging aan regering

Die volgende is ‘n uittreksel uit ‘n voorlegging aan die portefeuljekomitee van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling op 25 Mei 2010, ‘n hele nege jaar gelede:

In die opsomming word die volgende genoem:

“Lede bevraagteken die lang vertraging in die implementering van wetgewing wat ingestel is om die probleem van rondloperdiere op nasionale paaie aan te spreek, die fooi wat gehef word vir die registrasie van identifikasiemerke, die data oor diefstal van skape, die beheer van vee wat oor grense beweeg, die doeltreffendheid van die veebrandmerkveldtog, die instelling van gespesialiseerde howe om veediefstal-gevalle te hanteer, die bekommernisse wat deur dierewelsynorganisasies oor brandmerkmetodes geopper is en die gebrek aan maatreëls om die doeltreffendheid van teenmaatreëls wat deur die departement geïmplementeer word, te meet. Lede het daarop gewys dat veediefstal ‘n uiters negatiewe impak op voedselsekerheid en die voortbestaan van kleinskaalse boere het.”

Lede het ook hul bedenkinge uitgespreek oor die departement se vermoë om die probleem doeltreffend te hanteer en versoek dat die departement ‘n gedetailleerde aksieplan met tydsraamwerke en tasbare doelwitte tydens die volgende vergadering voorlê.

Die volgende wetgewing is onder die soeklig geplaas:

“Die doel van die voorlegging was om die rolle van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) met betrekking tot veediefstal te verduidelik. Tydens die vorige vyf jaar is die Dierewelsynswet, die Wet op die Identifikasie van Diere en die Skutwet deur die departement en die Departement van Justisie onder oorsig geneem, maar die regering hoop om die saak met behulp van die huidige konsolidasieplan te finaliseer.”

Die Veediefstalwet is in 1959 geskryf en word sedert 2011 hersien – dus vir agt jaar al – terwyl die nuwe Wet op die Beweging van Diere en Diereprodukte steeds afgewag word.

Slotopmerkings

Die Nasionale Veediefstalvoorkomingskomitee is diep besorg oor die feit dat die minister en die SAPD nie hul eie gevestigde strukture in ag neem by die voorkoming van veediefstal nie. Die volgende woorde van oudpresident Nelson Mandela behoort meer ernstig opgeneem te word:

“Beyond the immediate human suffering, lack of security and stability in our rural and farming community causes serious disruption to our economy. It threatens to bring reduced growth or production, loss of wages and profits and in time of unemployment. It brings the spectre of deepening poverty, and potential social instability and upheaval”. – Persverklaring, Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum

Vir enige navrae kontak Willie Clack, voorsitter van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum by 082 574 2653 of stuur ‘n e-pos aan wclack@unisa.ac.za.