Spoggerige Charolais-beeste loop sedert Augustus 2017 by Hoërskool Stella in die Noordwes-provinsie. Dié diere is as deel van die Veeplaas Skolekuddeprojek deur die Charolais Beestelersgenoontskap van Suid-Afrika aan die skool geskenk en die Sterland Charolais-kudde is sedertdien gevestig.

Die doel van die Veeplaas Skole-kuddeprojek (nou onder die vaandel van die PLAAS Landboujeugstigting) is om die kommersiële veebedryf op ’n praktiese wyse op skoolvlak by jong landbouers uit te bring. Die gedagte is dat die diere in verskeie aktiwiteite by die skool gebruik kan word, soos jeugskoue, praktiese opleiding en hanteringsdemonstrasies, maar ook dat die kinders uit hul betrokkenheid by die kudde meer oor die bestuur van ’n kudde of stoet kan leer.

Bevordering van die ras

Volgens June Wiid van die Charolais Beestelersgenootskap van Suid-Afrika het die genootskap geen twyfel gehad dat hulle aan die projek wil deelneem toe hulle die eerste keer daaroor genader is nie. “Ons het geweet dit is ’n uitstekende kans om jong landbouers aan die ras bekend te stel en ook opgewondenheid oor beesboerdery by jong mense te kweek.”

Daar moes besluit word saam met watter skool gewerk gaan word en omdat Hoërskool Stella in ’n streek is waar die Charolais-ras baie gewild is, het die genootskap dié skool gekies. June beklemtoon dat die bevordering van die ras ’n duidelike en belangrike mandaat van die genootskap is. “Ons deelname aan die projek en betrokkenheid by die skool stel ons in staat om nog meer aan dié mandaat te voldoen.”

“Ons het baie daarna uitgesien om die diere by ons landbouleerplan in te sluit en dit bring nou vir ons baie voordele,” sê Julian Fincham van Hoërskool Stella. Met die vestiging van die kudde is tien jong verse aan die skool oorhandig.

Landbouwetenskap en landboupraktyk word as keusevakke by die skool aangebied, en Julian sê praktiese opleiding met beeste en ander vee was nog altyd deel van die skool se landbou-opleiding. Dit was egter voorheen ’n baie duur aktiwiteit aangesien die leerlinge na ’n boer in die omgewing se plaas moes reis om fisies met diere te werk.

“Die feit dat ons nou ons eie diere het om mee te werk, bespaar nie net vir ons geld nie, maar beteken ook dat ons meer gereeld praktiese opleiding kan aanbied. Die diere word veral gebruik vir opleiding in die hantering van beeste, soos spuit, brandmerk, dip en inenting. Verder leer die kinders ook baie van die ras en hoe hulle in die Noordwes-provinsie aanpas en presteer.”

Geskik vir opleiding

Volgens June maak die ras se goeie temperament hom veral geskik vir die opleiding van jong landbouers. “Aangesien die ras nie aan enige ander ras verwant is nie, maak sy unieke eienskappe van hom ’n baie goeie bees om vir opleiding te gebruik. Dit is ’n medium- tot grootraambees wat uiters funksioneel is, hoogs aanpasbaar is, baie goeie bespiering en baie kapasiteit het en maklik beweeg.”

Die ras se eienskappe, wat uitstekende daaglikse gewigstoename en die lewering van eenvormige karkasse sonder onnodige vet insluit, is almal ekonomies belangrik vir beesvleisproduksie. “Die ras word deur baie mense in die bedryf as veral ’n uitstekende terminale kruisras gesien. Kennis van die ras is dus vir enige toekomstige beesboer baie waardevol.”

Volgens June is dit moeilik om nie verlief te raak op dié beesras as jy eers met hom gewerk het nie. “Dit maak ons dus opgewonde dat soveel jong landbouers nou deur die Veeplaas Skole-kuddeprojek die geleentheid kry om met Charolais-diere te werk.”

’n Beter aanbod

Nog ’n doelwit van die Veeplaas Skole-kuddeprojek is om kontak tussen landbouskole en telersgenootskappe aan te moedig, om sodoende die onderwysers en leerlinge bloot te stel aan die funksionering en strukture van die veebedryf. “Die genootskap en skool is wedersyds by mekaar betrokke. Die genootskap en spesifieke telers staan ons baie goed by met inligting en raad,” sê Julian.

Volgens Julian is die leerlinge se ervaring van die ras baie positief. “Dit was aan die begin vir hulle ’n vreemde ras, maar hulle het vinnig aan die diere gewoond geraak en sê nou dat hulle dit baie geniet om met die Charolais-beeste te werk. Die diere pas baie goed by ons aan en reageer baie goed teenoor die leerlinge.

“Die projek en die diere wat ons daardeur ontvang het, is werklik vir die skool ’n groot inspuiting. Dit stel ons in staat om dit wat ons kan aanbied verder uit te brei en sodoende meer leerlinge na die skool en spesifiek die landbouvakke te lok.”

Hoërskool Stella was een van die skole wat aan die skolekompetisie by ALFA 2018 deelgeneem het, waar hulle baie goed gevaar het. Die diere uit die Sterland Charolais-kudde is in baie afdelings van die verskillende kompetisies, soos die Voermol Jeugskou en Zoetis Junior Interraskampioenskap, gebruik. Vier leerlinge van die skool, Pieter Badenhorst, AJ Fincham, Danel Gresse en Johlene Harris, het ALFA 2018 saam met Julian bygewoon en baie goed daar gevaar.

Vir meer inligting, kontak Julian Fincham by 082 682 9781 of julianfincham@gmail.com, skakel Hoërskool Stella by 053 983 0021, skakel die Charolais Beestelersgenootskap by 051 410 0953 of besoek die webtuiste www.charolais.co.za.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here