China is die wêreld se grootste produsent, verbruiker en invoerder van skaapvleis, volgens ABSA Agribesigheid se 2018-lentevooruitskouing. Die uitvoermark is baie gekonsentreerd en word tans oorheers deur Australië en Nieu-Seeland, wat ook die tweede en derde grootste skaapprodusente ter wêreld is. Produksie in hierdie twee lande het in 2017 marginaal gedaal, hoewel droër toestande in Australië in die 2017/2018-seisoen tot hoër slagsyfers gelei het.

Hoë pryse vir skaapvleis sal na verwagting voortduur. Nieu-Seeland se kuddegetalle sal na verwagting verder daal. Gunstige teel- en lamomstandighede in 2017 sal na verwagting in 2018 die aanbod op die wêreldmark marginaal verhoog. Die aanbod sal egter relatief laag bly, wat pryse sal ondersteun.

Verbruik

China was die wêreld se grootste invoerder van skaapvleis in 2017. Skaapvleisverbruik sal na verwagting hier sterk bly in die komende jare, wat grootliks deur die groeiende middelklas gedryf sal word. China se vraag na invoer kan wisselvallig wees, en word dikwels beïnvloed deur binnelandse produksie, wat volgens berigte in 2017 afgeneem het.

Die moderne kleinhandelsektor en die hotel- en restaurantbedrywe kan ook tot die toename in die vraag na skaapvleis bydra. Daar word verwag dat wêreldwye verbruik sal styg, veral in ontwikkelende lande. Skaapvleis sal in die meeste lande ’n nismark bly, ondanks ’n groei van 8% per capita in die volgende tien jaar, wat hoofsaaklik in China en ander Asiatiese lande ervaar sal word.

Handel

Nieu-Seeland en Australië produseer 72% van die wêreld se totale skaapvleisuitvoer. Van 2007 tot 2017 het Nieu-Seeland se uitvoer met 15% gedaal toe baie skaapboerderye in melkerye omskep is. Nieu-Seeland se skaapvleisproduksie sal na verwagting in 2018/2019 stabiliseer en die land sal steeds sterk met Australië meeding.

Pryse

Die toekoms lyk belowend vir skaapproduksie, met rekordhoë pryse vir wol, lams- en skaapvleis. ’n Beperkte aanbod op die wêreldmark sal na verwagting steeds pryse in 2018 ondersteun. Intussen sal die wêreldvraag na verwagting verbeter. In 2017 het die Australiese pryse vir skaapvleis eerste gestyg, gevolg deur Nieu-Seeland.

Australië se pryse het in 2017 goed gevaar en sal na verwagting in 2018 sterk bly. ’n Daling in die pryse van ander proteïenbronne kan egter ’n bedreiging vir lams- en skaapvleis inhou. Die vraag na Nieu-Seelandse skaapvleis sal na verwagting sterk bly as gevolg van laer produksie in daardie land. Die toename in die wêreldvraag en beperkte voorsiening sal produsentepryse na verwagting ondersteun.

Plaaslik

In 2015/2016 het groot dele van Suid-Afrika droogte ervaar, wat tot die grootskaalse likwidasie van die nasionale kudde gelei het. Goeie reën het in 2016/2017 geval, weiding verbeter en die herbou van kuddes moontlik gemaak. Aangesien baie skape in die droogte geslag is, ervaar die plaaslike mark tans voorsieningstekorte, met 9% minder skape wat in 2017 geslag is as in 2016.

In Maart 2018 is ook minder skape aan abattoirs gestuur. Skaapgetalle het drasties gedaal weens die volgehoue droogte in groot dele van die Karoo, sowel as roof- en veediefstal. Produsente in Ermelo, Mpumalanga, het na verwagting ophou boer met skape weens die groter diefstalprobleem.

As gevolg van die droogte het die besettingsyfer van ooie van sowat 95% tot sowat 70% afgeneem. Daarom is produksie sedert 2016 aan die agteruitgaan. Suid-Afrikaanse skaapboerdery is gekonsentreer in die Noord- en Oos-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat en Mpumalanga. Hoewel goeie reën in 2017/2018 in baie dele van die land geval het, het dele van die noordelike en suidelike dele van die Karoo min of geen reën gehad.

Min ooie van enige ras is tans beskikbaar en, indien beskikbaar, is die ooie baie duur. Onproduktiewe ooie is ook reeds verkoop, wat tot ’n laer aanbod op die mark lei. Produsente sal waarskynlik ooilammers terughou om kuddes te herbou, wat kan lei tot ’n verdere afname in slaggetalle. Produksie sal dus oor die kort tot medium termyn afneem.

As gevolg daarvan sal pryse hoog bly. Boere sal waarskynlik vir die volgende tien tot twaalf maande onder finansiële druk wees, selfs al word goeie reën aangeteken, omdat kuddes herbou moet word. Die laer mielieprys in 2017 het tot ’n daling in voerkoste gelei. Dit, tesame met hoë vleispryse, het tot groter winsgewendheid vir produsente gelei.

Verbruik

Lams- en skaapvleis bly die duurste vleis op die mark. As sodanig kan verbruikersweerstand teen hoër pryse die prysrisiko verhoog. Van 2016 tot 2017 het verbruik ongeveer 3% gedaal. Dit is die gevolg van stygende skaap- en lamsvleispryse, herbouing van kuddes, en laer voorraadvlakke. Handel Suid-Afrika is ’n netto-invoerder van skaapvleis, aangesien dit veel meer in- as uitvoer. Die land kan nie aan die plaaslike vraag voldoen nie, en sal dus voortgaan om op invoer staat te maak.

Pryse

Die gemiddelde klas A-karkasprys vir lam het van 2016 tot 2017 met 23% toegeneem. Dit was hoofsaaklik te wyte aan die impak van die droogte. Lam- en skaappryse het in 2017 ’n rekordhoogte behaal en bly steeds op hoë vlakke. Langtermyntendense toon dat lam- en skaappryse die afgelope dekade geleidelik toegeneem het. Die gemiddelde prys vir stoorlammers het van 2016 tot 2017 met 25% gestyg.

Voermarges was positief vir die grootste deel van 2017 danksy laer voerkoste, wat die gevolg was van laer graanpryse. Produsente kry tans goeie opbrengste in terme van hoë vleispryse, asook ’n toename in die wolprys. Merino-boere verdien sowat twee-derdes van hul inkomste uit vleis en die hoë wolprys het hul winsgewendheid dus verbeter.

Vooruitsig

Daar is aanduidings dat winsmarges vir skaapvoerkrale onder druk is weens die verbruikersweerstand teen hoë kleinhandelpryse, terwyl die hoër pryse vir vetlammers die langtermyn-winsgewendheid van voerkrale negatief raak. Die bedryf sal egter voortgaan om voordeel te trek uit hoë vleis- en wolpryse. Daar word verwag dat die beperkte voorraad rooivleispryse sal ondersteun.

Dit word aanbeveel dat produsente hul skuldvlakke oor die volgende twee tot drie jaar verminder terwyl pryse steeds hoog en gunstig is om in die lang termyn volhoubaar te wees. Bio-sekuriteitsbestuur moet gehandhaaf word om die uitvoermark vir wol te verseker. Produsente moet ook oorweeg om te teel met diere wat beter weerstand bied teen ongunstige omgewingsfaktore. – Karabo Takadi, Wessel Lemmer en Pieter de Jager, ABSA Agribesigheid

Lees: Die Chinese intensiewe skaaprewolusie