Die onverwagse en kommerwekkende verspreiding van die koronavirus (COVID-19) het ’n vrees vir wêreldwye ekonomiese verlangsaming laat ontstaan. Die Suid-Afrikaanse landboubedryf voer jaarliks ongeveer 25 kommoditeite ter waarde van meer as $10 miljard uit.

“Die huidige onsekerheid in die markte en die wêreldwye verlangsaming plaas bykomende druk op die verswakkende Suid-Afrikaanse ekonomie. Die impak van COVID-19 loop saam met die aankondiging van ’n terugtrekking van 1,4% in ons ekonomie asook ’n afname van 7,6% vir die landbou in die vierde kwartaal van 2019,” sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur.

’n Wêreldwye pandemie

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Vrydag, 28 Februarie 2020, die COVID-19-uitbreking as ’n wêreldwye pandemie verklaar. Regerings regoor die wêreld moes noodgedwonge gebeurlikheidsplanne in plek stel asook hul bekampingsmaatreëls verskerp. Die wêreldmark het verlede week meer as $6 miljard verloor. Dit was die swakste ekonomiese week sedert die wêreldwye resessie in 2008.

“Dit is tans ’n ingewikkelde taak om die ekonomiese impak op die Suid-Afrikaanse landbou te bepaal.  Op die korttermyn verwag ons uitdagings met die voorsienings-en logistieke kettings wat ernstige skade vir uitvoergedrewe landboukommoditeite kan beteken,” sê Van Zyl.

Agri SA werk voortdurend saam met die bedryfsliggame om die impak van COVID-19 te monitor. – Persverklaring, Agri SA