Saai, die organisasie vir familieboere, het ’n webgebaseerde platform vir familieboere en hul werkers geskep waar noodsaaklike reisdokumente wat tydens die verpligte 21 dae lange COVID-19-inperking benodig word, opgelaai kan word.

Landbou- en voedselvoorsieningverwante operasies, insluitend boerdery-, veeartsenykundige en plantegesondheid-diensverskaffers, plaagbeheerdienste, en chemiese en kunsmisverskaffers is geklassifiseer as noodsaaklike dienste vir volgehoue besighede om die gesondheid en veiligheid van Suid-Afrikaners te ondersteun.

’n Webgebaseerde platform

Tydens hierdie tydperk gaan boere en hul werknemers steeds na en van plase moet reis om hul onderskeie funksies en take te verrig.  

“Ons webgebaseerde platform laat enige persoon wat as noodsaaklike dienste vir volgehoue besigheid in die landbousektor geklassifiseer word toe om noodsaaklike dokumente op te laai ten einde te bewys dat hul reise wettig is tydens die inperkingsperiode. Die stelsel stuur dan ’n epos aan gebruikers wat ’n PDF-dokument met al hulle inligting bevat. Saai sal ook ’n kaartjie aan intekenaars via WhatsApp stuur, met ’n QR-kode wat al die nodige inligting sal bevat,” het Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, gesê. QR-tegnologie is vrylik beskikbaar en kan by enige toepwinkel afgelaai word.

Luister ‘n potgooi hieroor deur op die skakel te klik.

Voortsetting van die voedselketting

Saai voorsien ’n mate van frustrasie by padblokkades, veral tydens die vroeë stadium van die inperking.

Gegewe die uitdagings om met owerhede op alle vlakke te kommunikeer, hoop Saai om ’n bydrae te lewer tot die ongehinderde voortsetting van die voedselketting deur die skep van hierdie digitale hulpmiddel, tesame met die samevoeging van pogings om ’n oplossing voor te stel en met die owerhede in gesprek te tree.           

Toegang tot die platvorm kan hier verkry word: https://bit.ly/COVID_Travel_Docs

Hierdie diens is gratis en beskikbaar vir alle familieboere. – Persverklaring, Saai