Danie Bester is TLU SA se Jongboer van die Jaar 2020

396

Danie Bester van Balfour in Mpumalanga is as TLU SA se Jongboer van die Jaar vir 2020 aangewys.

Read it in English

“Ons was baie beïndruk met Danie se gebruik van tegnologie en veral die internasionale skakeling en navorsing oor sojabone,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA. “Hy is voorwaar ’n boer wat nie net by die hulpbronne tot sy beskikking aanpas nie, maar ook dié hulpbronne uitbrei en verbeter. Dit is presies die tipe vindingrykheid waarna ons onder ons jong boere soek. Hy het ’n blink toekoms voor hom.”

Van vroeg af ’n man met ’n plan

Danie het ná skool by die Potchefstroomse Landboukollege studeer. Soos meeste kinders wat op die plaas grootgeword het, boer Danie al vandat hy ’n klein seuntjie was. Hy het toe ook amptelik ná skool begin boer, en is die afgelope twaalf jaar op Rietbult by Balfour in Mpumalanga bedrywig.

Hy sien om na die graangewasse, wat uit mielies en soja bestaan, terwyl sy pa, wat saam met hom boer, die beesboerdery hanteer. Danie is met Janet getroud en hulle het twee kinders, Dawie en Janike.

Afgesien van die Jongboer-spogtitel, ontvang Danie ’n oorsese reis na die Manitou-fabriek in Frankryk, asook kontantpryse van Santam en CMH Kempster Ford Hatfield.

Die naaswenners

CT van der Merwe van Dendron in Limpopo is as die naaswenner aangewys. Hy boer al die afgelope 13 jaar met aartappels, botterskorsies, uie en beeste op Al 3 Boerdery. Hy het onlangs ook draakvrugte by hul produkte gevoeg.

Van links is CT van der Merwe, Danie Bester en Janis Terblanche.

In die derde plek is Janis Terblanche van Marble Hall in Limpopo. Janis boer al vir tien jaar en het ses jaar gelede die Janis Terblanche Boerdery gekoop, waar hy voltyds met druiwe boer.

“Ons wens elkeen van hierdie jong boere geluk met hul vernuf,” sê Geldenhuys. “Ons is tevrede dat die toekoms van landbou in bekwame hande lê.

“Ons wil ook ons borge, Manitou, Santam en CMH Kempster Ford Hatfield, bedank vir die belangrike rol wat hulle in hierdie kompetisie speel. Julle skep hoop deur die belegging in ons jong boere.” – Persverklaring, TLU SA