Dapper stappers teen plaasmoorde vorder flink na Pretoria

107
Sakhumzi Qave, Petrus Sitho, Tebogo Mosielena en Matthew Mananga stap in Potchefstroom en durf die lang pad verder aan na Pretoria. Foto: Christal-Lize Muller.

Vier uitgesproke en doelgerigte aktiviste teen geweld op plase en kleinhoewes is flink op pad om president Cyril Ramaphosa in Pretoria oor plaasmoorde en -aanvalle te spreek. Petrus Sitho, Matthew Mananga, Tebogo Mosieleng en Sakhumzi Qave het onlangs uit Oos-Londen in die Oos-Kaap te voet vertrek en hoop om 1 100km af te lê om Pretoria vroeg in Mei te bereik.

Die doelwit

Sitho en kie het hierdie staptog aangepak om bewustheid te kweek teen dié tipe geweldsmisdade en is vasberade om persoonlik ʼn griefskrif aan president Ramaphosa te oorhandig.

Sitho sê hy is, as swartman, deur God in 2018 verkies om teen plaasmoorde en -aanvalle te staan en bewusmaking daarteen te kweek. Dit is sy poging om voedselsekerheid in die land te verseker. “Ons moet ons boere en die kos wat hulle produseer, beskerm,” sê Sitho. Dit is belangrik, omdat dit boere is wat die land voorsien van kos en sonder hulle is daar geen toekoms nie. “Genoeg is nou genoeg, ons gaan hierdie ding aanpak.”

Sitho, wat op ʼn Vrystaatse plaas gebore is, ken die boerderybedryf en sy ouers bly steeds op ʼn plaas in die Bultfontein-gebied. Hy het in 2018 sy ‘roeping’ begin vervul. Sitho meen hy kan duidelik sien dat president Ramaphosa nie omgee oor die kos op sy tafel nie, ondanks die feit dat hy self ʼn boer in die land is. Sitho meen president Ramaphosa is in hierdie verband ietwat traag en ‘aan die slaap’. Dit is juis waarom hy hom met die staptog en die oorhandiging van ʼn griefskrif, wil ‘wakker maak’.

Teenkanting

Sitho sê daar is geen keer aan hom en sy dapper stappers nie. Hy gaan nie ophou om bewustheid teen geweld op plase en kleinhoewes te kweek nie, al ontvang hy teenkanting van sekere groepe. Hy is in 2018 deur booswigte aangerand toe hy vir enkele dae by die Uniegebou in Pretoria uitgekamp het, hoeka om ʼn memorandum aan president Ramaphosa te oorhandig.

Hy het egter geweier om omkoopgeld of ʼn posisie in die parlement te aanvaar, want sy hart lê by die waarde van landbou en die noodsaaklike rol wat boere speel. Sitho sê hy het in Oktober verlede jaar die jong Brendin Horner, ʼn werknemer van die Bloukruin-boerdery wat verlede jaar wreed op ʼn plaas naby Paul Roux in die Vrystaat vermoor is, se ouers besoek.

Dit was ’n hartroerende oomblik vir Sitho. “Die tannie (Brendin se ma, Miekie) het net gehuil en vir my gesê: ‘Petrus, my arme kind, ek hoop dat dit wat jy doen een van die dae sal werk en dat boere veiliger op plase is’,” vertel Sitho. Hy was ook baie uitgesproke by die Horner-verdagtes se verhoorverrigtinge in Senekal, wat verlede jaar opslae gemaak het.   

Die stappers

Sitho sê sy medestappers deel in sy sentiment. Qave is van Oos-Londen en het Sitho se uitgesprokenheid op sosiale media raakgesien. Gevolglik het hy verlede jaar besluit om Sitho te ondersteun en die staptog saam met hom aan te pak. Sitho het Mosieleng, van Qwaqwa naby Bloemfontein, tydens ʼn optog in Bloemfontein beïndruk. Mananga, ook van Oos-Londen, het ook een van Sitho se optogte bygewoon en van sy benadering gehou, waarna hy hom ook by die groep aangesluit het.

Sakhumzi Qave, Petrus Sitho, Tebogo Mosielena en Matthew Mananga stap in Potchefstroom en durf die lang pad verder aan na Pretoria. Foto: Christal-Lize Muller.

Ondersteuning

Die stappers is vol ywer en val soggens vroeg, ondanks seer voete, in die pad. Afhangend van die afstand tussen dorpe, lê hulle ’n gemiddeld van sowat 60km per dag af. Deeglike beplanning is nodig. Daarmee saam steun hulle op weldoeners vir kos, water, oornagverblyf en ander noodsaaklikhede. Sitho sê hy is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat hulle al in die Oos-Kaap, Vrystaat en Noordwes sedert hulle uit Oos-Londen vertrek het, ontvang het.

Daar is egter minder aangename voorvalle, soos wanneer motoriste ongeduldig raak met die stappers. Danksy die hulp van organisasies soos AfriForum, wat die stappers in Potchefstroom vergesel het, is voorvalle van dié aard minder. Sitho sê hy hoop egter meer mense asook die breë landbougemeenskap span kragte saam en neem ’n daadwerklike standpunt teen hierdie geweldsmisdrywe in.

Sitho het al verskeie onderhoude as aktivis teen plaasmoorde en -aanvalle aan mediagroepe in Australië, Kanada en Amerika toegestaan. Die Loving Life Community Channel van Australië het ook ʼn motor as ondersteuningsvoertuig vir die groep stappers beskikbaargestel. Sitho sê hulle bly steeds van weldoeners afhanklik en enige skenkings word met ope arms verwelkom. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit

Vir meer inligting, kontak Petrus Sitho by 073 008 4105 of stuur ʼn epos na Lcm@xis.co.za