Op 25 April, tydens ’n ontbytbekendstelling by die Centurion Country Club in die Centurion Golf Estate, het die Veevoervervaardigers-vereniging (AFMA) die datum vir die 2020 AFMA Forum bekendgemaak. De Wet Boshoff, uitvoerende direkteur van AFMA, het aangekondig dat die 2020 AFMA Forum van 3 tot 5 Maart by Sun City sal plaasvind. Dié geleentheid is ’n hoogtepunt op die veevoerbedryf se kalender en sal volgende jaar vir die tiende keer gehou word. Dit is ook die 75ste bestaansjaar van AFMA, wat die geleentheid dus ekstra spesiaal maak. 

Read it in English.

Die program van die 2020 forum word ook uitgebrei om ander sektors van die veevoerbedryf, soos die voerkraalbedryf, in te sluit. Soos gewoonlik is dié forum gemik daarop om die bedryf en navorsing te bevorder, asook om die rolspelers in die bedryf bymekaar te bring en kennis te deel. Meer inligting oor geleenthede vir borge en uitstallers sal binnekort beskikbaar wees. Hou AFMA asook AgriOrbit se webwerwe dop vir meer inligting. – Ursula Human, Veeplaas