Derde wolveiling van die seisoen sien afname in verkope

305

Die derde wolveiling van die 2020/21-seisoen het onlangs na die breek in die veilingskalender plaasgevind. Van die 10 152 bale wat aangebied was, is 638 bale voor die veiling en ’n verdere 715 bale gedurende die veiling onttrek, as gevolg van die negatiewe marksentiment in Australië. Die Australiese mark het gedurende die afgelope twee opeenvolgende weke met onderskeidelik 1,7% en 7,6% gedaal.

Goeie mededinging vir lang fynwol ondanks druk

Die algehele verkoopspersentasie was 82,6%, met ’n daling van 9,9% in randterme en 7,2% in Amerikaanse dollarterme. Goeie mededinging het vir lang fynwol geheers, wat beter as die markgemiddeld presteer het, asook volhoubaar-geproduseerde wolle. Alle ander groepe wol was onder druk, veral die medium sterk wolle wat die gros van die aanbod verteenwoordig het.

Die vernaamste kopers sluit Standard Wool SA, Tianyu SA, Modiano SA en Lempriere in.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 6,2% en sluit teen R150,74/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 5,4% en sluit teen R137,06/kg.
  • 19 mikron verlaag met 7,8% en sluit teen R129,73/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 9,4% en sluit teen R122,30/kg.
  • 20 mikron is 9,2% af en sluit op R121,06/kg.
  • 20,5 mikron is 8,5% swakker en sluit op R117,88/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 9,1% en sluit op R118,10/kg.
  • 21,5 mikron het 8,2% afgeneem en sluit op R118,53/kg.
  • 22 mikron daal 10,5% en sluit op R112,36/kg.
  • 22,5 mikron is 12,4% swakker en sluit op R105,47/kg.

Die volgende wolveiling is vir 2 September 2020 geskeduleer, waar ±7 301 bale aangebied sal word. – Cape Wools SA

Volg die skakel om die vorige wolveiling se verkope te besigtig.