Die basiese beginsels van droëseisoenvoeding vir beeste

81
Dragtige of lakterende koeie en verse het hoë voedingsbehoeftes, Daarom is slegs ’n gewone droëseisoen-lekaanvulling nie voldoende vir dié diere nie.

Estimated reading time: 6 minutes

Droëseisoenvoeding vir beeste, veral in somerreënvalstreke, is uiters noodsaaklik, gegewe die afname in voedingswaarde van grasveld in binnelandse gebiede gedurende die winter. Dié plante rus dan en die bogrondse gedeelte daarvan besit nie addisionele voedingstowwe benewens die strukturele koolhidrate nie. Die meeste van die voedingstowwe word dan reeds in die plant se reserwes geberg.

Lees hier van dieregedrag by die voerbak.

Winterlekaanvullings vir vee is dán die roete om te volg, sodat die beperkte voedingstowwe van laag verteerbare plantmateriaal aangevul kan word. Veeplaas het by André Pienaar, voedingkundige vir herkouers by Trouw Nutrition Suid-Afrika, en Francois van de Vyver, nasionale tegniese bestuurder by Voermol, gaan kers opsteek oor die beginsels van droëseisoenvoeding.

Waarde van ’n winterlekprogram

André sê grasveld is volop beskikbaar na die afgelope goeie reënseisoen en beskik oor goeie voedingswaarde vir beeskuddes. Met die seisoensverandering verouder plante egter en neem die gehalte van grasveld af. Die plante se voedingstowwe verskuif na hul wortelstelsel in die laatsomer en winter, ter voorbereiding vir die volgende reënseisoen se groeifase. Dit beteken dat beeste se voedingstofinname verminder.

Lekblokke is ’n maklike en kostedoeltreffende vorm om as aanvulling vir beeste te gebruik.

Energie in die plante verminder ook met veroudering en die veselfraksie daarvan, veral lignien, word onverteerbaar vir diere. Soos wat die droë seisoen aanbeweeg, sê hy, verlaag die energiebeskikbaarheid weens die hoër veselvlakke in gras en die smaaklikheid neem ook af. Gevolglik is die totale energie-inname van beeste minder.

Produsente moet dus die tekorte in die beskikbare weiding met byvoeding aan die diere verskaf. Lekaanvullings kan waardevol wees om hoë produksievlakke te behou en diere se groei en reproduksie te handhaaf, sê hy.

Volgens Francois moet veldtipes, wat oorwegend soet, suur of gemeng is, ook in ag geneem word. Suurveld se voedingswaarde is in die vroeë somer en lente goed, wanneer plante ontwikkel en saad skiet, voordat voedingstowwe na die wortelstelsels translokeer. Na afloop van die blomstadium word voedingstowwe gertanslokeer na die wortelstelsel en bly slegs die plant se hoofsaaklike strukturele koolhidrate (vesel) dan bogronds oor, wat verhout kan wees, onsmaaklik en ook swak verteerbaar is.

André meen die unieke eienskappe van ’n weidingstelsel teenoor die strewe na laer insetkoste kan nie buite rekening gelaat word nie, omdat produsente nie buitensporig aan aanvullings wil bestee nie. Die maklikste en eenvoudigste tegniek is die gebruik van lekaanvullings regdeur die jaar.

’n Basiese winterlekaanvulling

’n Basiese winterlekaanvulling, sê Francois, behels ’n stikstofaanvulling, waarvan ureum die algemeenste nieproteïenstikstof (NPN)-bron is. Stikstof raak beskikbaar in die rumen van die herkouer en vul die voedingsbehoefte van die mikroörganismes aan. Dié organismes het stikstof, wat die bousteen van proteïene is, nodig vir mikrobiese groei. Die aanvulling van die stikstoftekort in gras vir die mikroörganismes, vorm dus die kernbeginsel van droëseisoenaanvullling.

Hy sê as ’n lekaanvullingsprogram deur die jaar vanaf die lente, vroeë somer en herfs reg bestuur word, behoort die diere in ‘n goeie kondisie te wees wanneer die winter aanbreek. Dan sal ’n droëseisoenlekaanvulling die diere se kondisie onderhou en verseker dat hulle so min as moontlik gewig en kondisie in die winter verloor.

Die mineraal-inhoud van ’n gebalanseerde lek kan ’n groot verskil aan die produksie en veral die groei van beeste maak.

“Stikstof help om diere te onderhou tydens die droë maande en saam met ruproteïen kyk ons ook altyd na die dier se kalsium-, fosfor- en spoormineraalbehoeftes.

“Daar word seker gemaak dat die dier se onderhoudsbehoeftes vir hierdie makro- en spoorminerale bevredig word. Deur die korrekte droëseisoenlek te gebruik, word bykans 33% energie uit die laag verteerbare ruvoer ontsluit. Dít verbeter vertering, terwyl meer energie vir die dier beskikbaar is,” sê hy.

Droëseisoenvoeding vir dragtige koeie en verse

Dragtige koeie en verse het hoër voedingsbehoeftes, sê Francois, en benodig meer as net ’n winterlek vir onderhoud. ’n Gewone droëseisoenlekaanvulling is in dié geval nie voldoende nie – hul energiebehoeftes moet ook aangevul word.

“Die eerste beperking op hierdie tipe veld is die stikstof en die tweede is energie. ’n Produksielek moet aan dragtige koeie en verse gegee word wat, benewens ruproteïen en energie, ook minerale en vitamiene verskaf. Mielies en melasse is energie-aanvullend en behoort ’n wesenlike persentasie van die produksielek uit te maak.”

André voeg by dat ’n lekprogram deur die jaar aan diere gegee moet word om die weiding, soos dit beskikbaar raak, komplementerend aan te vul. “Die belangrikste is om ’n goeie begrip te hê van die beskikbare weiding op jou plaas.”

Teen laatsomer en die begin van winter, wanneer plante se proteïene na die wortels verskuif, is ’n proteïenaanvulling dus nodig. Makro- en spoorminerale, gekombineer met ’n klein bietjie energie en ’n proteïenbron soos oliekoek (soja of katoen) of ureum, is aanvullend tot weiding deur die jaar. Wanneer die veselelement van gras hoog en nie verteerbaar is nie, kan ’n energie- of produksielek gebruik word afhangend van die beskikbare weiding en stelsel.

Saam met proteïene kan mielies in die vorm van mieliemeel of hominy chop vir energiedoeleindes bygevoeg word.

Bepaling van voedingstofinname

Francois beklemtoon die belangrikheid daarvan om diere se inname te bepaal. Produsente weet nie altyd hoeveel lek ’n dier per dag inneem nie. Dit is egter maklik bepaalbaar en móét gemeet word. As voorbeeld verduidelik hy dat 100kg lekaanvulling vir 200 beeste daarop neerkom dat elke bees 500g lek per dag inneem.

Veevoermaatskappye verskaf inligting oor hul onderskeie produkte, met ’n aanbevole inname wat wetenskaplik geformuleer is om voedingstowwe optimaal te balanseer. Die produsent kan dan sy diere se inname daarteen monitor en verseker dat die diere se voedingstofinname voldoende is. André beklemtoon hier dat die spesifikasies op produkte streng gevolg moet word, want beeste kan te min aanvulling inneem, wat groei en algehele gesondheid nadelig beïnvloed, terwyl te veel aanvulling onekonomies is en tot vermorsing lei.

’n Deurlopende lekprogram vir droëseisoenvoeding

Francois sê Voermol beveel ’n driefase-lekprogram deur die loop van die jaar aan. In die somer is daar ’n beperking in fosfaat. Goeie gehalte mineraalaanvullings (met fosfor) moet dan aan diere op groen, sappige weidings verskaf word.

Die keuse om oor te slaan vanaf die somerlek na die winter- of oorgangslek berus op die gehalte van beskikbare weiding en die inname van die bestaande lek. As die diere se inname drasties styg, is dit die teken dat daar 1) of nie meer genoeg voldoende weiding beskikbaar is nie, of 2) dat die betrokke lek nie meer die nodige voedingstowwe verskaf nie. In hierdie geval moet die diere dus na ‘n nuwe kamp verskuif word of die lek moet aangepas word na gelang van die seisoen en veldtoestand.

In die winter moet ’n droëseisoenlek en later in die seisoen, voordat koeie kalf, ’n produksielek verskaf word. Dit is ook die geval by verse.

Wenke vir belangrike minerale

Elke lekaanvulling bevat sekere spoorminerale, maar produsente moet op selenium- of kopertekorte op hul plase let. André sê Trouw Nutrition konsentreer op voormengsels, en fokus op spoorminerale en vitamiene vir voermaatskappye én selfmengers.

Sulfaat en oksiede is albei anorganiese minerale en is nie altyd beskikbaar vir die dier nie, terwyl organiese of hidroksie-minerale baie meer beskikbaar en veilig vir diere is. Dit kan ook help vir die bereiking van spesifieke teikens soos hoefgesondheid en vrugbaarheid. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Lees meer van oorwintering.

Vir meer inligting, kontak
André Pienaar by andre.pienaar@trouwnutrition.com of
Francois van de Vyver by francois.vandevyver@tongaat.com.