Voerkripbestuur behels die evaluering van diere se vreetgewoontes, met inagneming van die onderskeie faktore wat hul inname beïnvloed. Die primêre oogmerk met voerkripbestuur is die daaglikse, konstante voorsiening van ’n homogene, gebalanseerde rantsoen in voldoende hoeveelhede, op ’n gegewe tydstip, aan ’n spesifieke groep produksiediere.

Die tweede doelwit is om ’n ideale rumenomgewing te skep wat optimale produksie sal verseker, hetsy die produk vleis of melk is.

Die voeromsetverhouding

Voeromsetverhouding (VOV) word negatief beïnvloed deur ’n tekort aan voervoorsiening; met ander woorde, meer voer sal uiteindelik nodig wees vir die hoeveelheid vleis of melk wat geproduseer word. In die geval van voerkraalkalwers beteken dit meer dae in die voerkraal.

Daarenteen lei ‘n oormaat voervoorsiening tot ’n variasie van innames, laer produksie, rumensteurnisse en uiteindelik voervermorsing.

Volledige rekordhouding van beide die lesing en voorsiening van voer, is van uiterste belang en die persoon verantwoordelik hiervoor moet met die diere se geskiedenis vertroud wees. Voervoorsiening word gebaseer op ten minste die vorige vier dae se geskiedenis, die diere se gedrag, hul aktiwiteit, omgewingsfaktore en die voorkoms van mis.

Sodra enige aanpassing ten opsigte van die hoeveelheid voer gemaak word, behoort daar minstens twee tot drie dae gewag te word, sodat die uitwerking van die verandering waargeneem kan word.

Voerkripbestuur by voerkraalosse

Die invloed van voerkripbestuur op droëmateriaalinname (DMI) en die voerbenuttingspatroon uit voerkrippe van een jaar oue voerkraalosse, is bestudeer. Drie voerkriptellings is vergelyk: 0, ½ en 1 (Tabel 1). Osse is twee keer per dag, om 07:00 en 11:30, gevoer. Voerkriplesings is om 16:30, 22:00, 02:00 en 06:30 deur ’n enkele persoon geneem.

Daaglikse DMI vir osse wat teen ’n voerkriptelling van 0 (9,74kg) gevoer is, was laer (<0,05) as dié van osse met ’n voerkriptelling van ½ (10,37kg), wat weer laer (<0,01) was as die van osse wat teen ’n voerkriptelling van 1 (11,21kg) gevoer is. ’n Behandelingsinteraksie (<0,001) vir die beraamde benutting van voer, dui daarop dat vreetpatrone deur behandelings verskil.

Alhoewel voldoende voer in alle voerbakke vanaf 07:00 tot 16:00 beskikbaar was om soortgelyke DMI gedurende hierdie tydperk te ondersteun, het osse wat teen ’n voerkriptelling van 0 gevoer is, minder voer gedurende die dag verbruik in vergelyking met osse wat teen ’n voerkriptelling van ½ (<0,001) gevoer is, wat weer minder voer in dieselfde tydperk verbruik het as osse met ’n telling van 1 (<0,01).

Hierdie data dui daarop dat voerkrippe wat konstant leeg is, die DMI van voerkraalosse kan beperk en voerbenuttingspatrone kan verander (Schutz et al., 2011).

Riglyne vir voerkripbestuur

Wenke vir doeltreffende voerkripbestuur sluit in:

  • Voerkriptellings moet akkuraat wees. 
  • Akkurate en deeglike rekordhouding van voer in en uit die krippe is belangrik.
  • ’n Gebalanseerde rantsoen moet vir ’n spesifieke produksiegroep gebruik word.
  • Rantsoene moet deeglik gemeng wees.
  • Daaglikse voervoorsiening moet konstant wees; verkieslik binne ’n tydperk van 30 minute teenoor die vorige dag.
  • Omgewingsfaktore soos weersomstandighede kan innames negatief beïnvloed.
  • Daar moet voldoende vreet- en drinkspasie wees en dit moet tweeweekliks skoongemaak word.
  • Voer moet deur die hele lengte van die voerbak voorsien word.
  • Let op dieregedrag: Een derde van diere moet by die voerbak wees, een derde moet rondstaan en een derde, wat klaar gevreet het, moet herkou en nie in die voer belangstel nie. – Deur Evan Macdonald en Melville Price, Nutri Feeds

Vir meer inligting of bronverwysings, kontak
Evan Macdonald by 071 136 4995 of emacdonald@countrybird.co.za,
en Melville Price by 082 766 1044 of mprice@countrybird.co.za.

Lees die artikel in Engels