Deur Frikkie Maré, lektor, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Die minister van finansies, Malusi Gigaba, het gister die begrotingsrede vir die 2018/2019 finansiële boekjaar gelewer. Hier volg van die belangrikste elemente van die begrotingsrede wat ’n impak op die landbou mag hê.

Regeringsinkomste

Die mees opspraakwekkende element van die begroting was sekerlik die BTW-koers (belasting op toegevoegde waarde) wat van die huidige 14% met een persentasiepunt na 15% verhoog is. Alhoewel dit sekerlik een van die mees onfeilbare maniere is om regeringsinkomste te verhoog, was ek van mening dat die BTW-koers nie verander gaan word nie, aangesien dit ook die arm mense gaan beïnvloed.

Volgens minister Gigaba bly basiese voedselsoorte egter belastingvry en behoort die styging in die koers arm mense nie te beïnvloed nie. Sy uitgangspunt is dat die verhoging slegs die 80% rykste mense sal beïnvloed en dat dit sal bydra tot die gelyke verdeling van inkomste. Hierdie bly egter ’n aanvegbare punt.

Daar moet ingedagte gehou word dat die styging van 1% in die BTW-koers na 15%, nie werklik so min is as wat dit mag voorkom nie. Die 1%-styging beteken dat die hoeveelheid BTW wat nou betaal gaan word, ongeveer 7,1% meer gaan wees as in die verlede. Alhoewel die meeste landbouprodusente (volgens hul onderskeie besigheidvorme) sekerlik vir BTW geregistreer is en derhalwe die BTW op aankope kan terugeis, gaan die verhoogde BTW-koers ’n impak op die kontantvloei van die besigheid hê (neem in ag die stryd wat baie produsente het om hul BTW-uitbetalings te ontvang).

Meer uit jou eie sak

Wat inkomstebelasting betref, het die belastingkoerse vir bykans alle individue, behalwe dié wat in die laagste twee belasbare inkomstekerwe val, effens gestyg. Hierdie styging is egter laer as inflasie. Die onderste twee kerwe het ’n bietjie verligting kry. Dit is interessant dat die belastingkoers vir maatskappye onveranderd op 28% gebly het (die koers is dus al sedert 1 April 2014 onveranderd) terwyl die koers vir trusts (anders as spesiale trusts) ook onveranderd op 45% gelaat is. Indien jy hierdie feite saam met die verandering in BTW in ag neem, beteken dit dat dit veral die middel- en hoë-inkomstegroepe is wat al hoe swaarder belas word om die staat se finansiële tekort te verlig.

’n Sprankie goeie nuus vir grondeienaars is die feit dat kapitaalwinsbelasting onveranderd gebly het. Alhoewel die meeste produsente sekerlik nie graag hulle grond wil verkoop nie, moet dit tog soms gebeur en kapitaalwinsbelasting kan jou somme hier lelik deurmekaar krap.

Die skerp styging in die brandstofheffings van R0,52/liter (22 sent vir die algemene heffing en 30 sent vir die Padongelukkefonds) is egter slegte nuus. Behalwe vir die direkte invloed op gebruikers van enige vorm van padvervoer (motoriste, pendelaars en dies meer), gaan dit ook ’n impak op die meeste pryse van landbou-insette, kommoditeite en voedselprodukte hê, aangesien die vervoerkoste van hierdie items gaan styg.

Regeringspandering

Wat die breër landbou-omgewing betref, is die volgende bedrae begroot:

  • R581,7 miljoen vir die prioritisering van kommersialiseringsprogramme vir swart produsente.
  • R10,8 miljard vir die afhandeling van 2 851 grondeise.
  • R4,2 miljard vir die aankoop van ongeveer 291 000 hektaar vir grondhervorming.
  • R6 miljard vir doelwitte soos droogteverligting en waterinfrastruktuur, waarvan R473 miljoen vir ramp-verligtingstoelaes toegeken is.

Alhoewel dit blyk dat daar in totaal heelwat meer op die landbousektor spandeer gaan word, is dit duidelik dat hierdie fondse ten doel het om grondhervorming te bespoedig en opkomende boere te help kommersialiseer. Ek sou, as kommersiële produsent, nie my hoop daarop plaas om werklik iets van die rampverligtingstoelaes te ontvang nie.

Regeringspandering op sosiale toelaes bly ’n warm besprekingspunt, maar die feit is dat dit nie saak maak wat jou persoonlike gevoel daaroor is nie – dit bly ’n pluspunt vir landbou aangesien die grootste gedeelte van hierdie geld op voedsel spandeer word. Vir landbou is dit dus goeie nuus dat afhanklikes van pensioen, ongeskiktheid en sorg se toelaes met R90 op 1 April 2018 en met ’n verdere R10 op 1 Oktober 2018 gaan styg (in totaal van R1600 tot R1700 per maand). Kinderondersteuningstoelaes styg ook met R20 in April en ’n verdere R10 in Oktober (in totaal van R380 tot R410 per maand).

 Nou wonder ek …

Die nasionale tesourie het sekerlik ’n moeilike taak op hande gehad in hulle pogings om die begroting te laat klop, maar volgens my is daar maar weinig goeie nuus vir die kommersiële produsente van ons land. Alhoewel die begroting in die algemeen positief lyk met ’n styging in regeringsinkomste, ’n kleiner styging in regeringspandering en dus ’n kleiner tekort, is dinge nie werklik so rooskleurig nie.

Staatspandering styg steeds vinniger as die inflasiekoers en die krane moet hier vinnig toegedraai word, veral as daar in gedagte gehou word dat die totale salarisbetalings aan staatsamptenare meer is as die waarde van primêre landbouproduksie.

Ek sit en wonder steeds of hierdie ’n Zuma- of ’n Ramaphosa-begroting was, maar dit sal ons seker net met tyd leer …

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here