Die bestuur van vrotpootjie in koring

0
801

Vrotpootjie is ’n wortelsiekte wat op koring deur die swam Gaeumannomyces graminis var. Tritici veroorsaak word. Dit is ‘n belangrike siekte in gebiede waar daar intensief met koring geboer word.

Vrotpootjie is een van die belangrikste grondgedraagde siektes in koring in die wêreld, en tog is daar nog nie genetiese weerstand teen die siekte gevind nie. Oesverliese kan tot 72% wees wat beteken dat vrotpootjie ‘n belangrike siekte is wat bestuur moet word.

Voordat daar besluit kan word wat die mees ekonomiese manier is om die siekte te bestuur, is dit noodsaaklik om te weet watter faktore ‘n rol speel in die voorkoming van die siekte.

Só lyk vrotpootjie

Die linkerkant dui op
besmette wortels terwyl
gesonde wortels op die
regterkant sigbaar is.
(Foto: Lukas Meyer)

Die swam is grondgedraag en oorleef in die stoppels en wortels van besmette plante wat in die grond agterbly nadat die koring geoes is. Die swam besmet die wortels, kroon en basis van koring.

Die swam oorleef in besmette gasheerstoppels, vanwaar askospore kan dien as ‘n bron van inokulum van die siekte.

In die afwesigheid van ’n geskikte gasheerplant kan die swamspore vir lang periodes in die grond oorleef. Sodra daar ’n geskikte gasheergeplant, naamlik koring, verbou word, aktiveer wortelafskeidings van die gasheerplant die swam. Laasgenoemde begin dan ontwikkel en sodoende word die jong saailing besmet. Die swam vermeerder soos wat die plant groei en besmet dan die hele wortelstelsel.

Plante met lae vlakke van infeksie toon soms geen simptome nie, maar plante wat erger besmet is, word vroeg ryp en is soms verdwerg. Vrotpootjie kan baie duideliker waargeneem word nadat die are verskyn het.

Die siekte maak dooie kolle in die land en die plante vertoon soms ryp tussen ander gesonde groen plante. Die wortels en die kroon van die stam verkleur swart en die plante kan maklik uit die grond getrek word. Wit of dooie are kan verspreid oor die besmette land waargeneem word. Koringare van besmette plante produseer min of geen saad. Saad vanaf besmette plante is verkrimp en het ’n lae massa.

Die dooie kolle in die land is sigbaar uit die lug. (Geneem op 25 November 2017):

 

 

 

 

Faktore wat die siekte kan bevorder

Indien koring aan stremmingstoestande blootgestel word, is dit bevorderlik vir die ontwikkeling van vrotpootjie. Stremmingstoestande sluit onder ander in:
• Versuiptoestande op swakgedreineerde grond: Dit kom veral voor in die somerreënvalgebiede onder besproeiing, aangesien die koring fisiologies begin aarvul en dan ontvang hierdie gebiede hul eerste somerreën.
• Mangaan-, stikstof-, fosfaat- en sinktekorte maak die gewas meer vatbaar vir vrotpootjie.
• Sekere grasonkruide is geskikte gashere vir die swam. Navorsing het bewys dat ongeveer 83% van grasspesies draers van die swam kan wees.
• Grondverdigting kan ook ‘n oorsaak wees van hoër besmetting, veral as koring op dieselfde lande (monokultuur) geplant word.
• Swak saad (teruggehoude saad) kan bevorderlik wees vir vrotpootjiebesmettings.

Die bestuur van vrotpootjie

Wit dooie are is
mooi sigbaar by
volwasse plante.

Optimale voedingsbestuur: Maak van grondontledings gebruik om die grondvoedingsbalanse aan te spreek. Maak van blaar/DRIS-ontledings gebruik om voedingskedulering te verfyn. Gebruik saadbehandelings wat klem lê op Mn, Zn en P.

Kultivarkeuse: Kies aangepaste kultivars vir jou plaas en plant teen die aanbevole saaidigtheid soos voorgestel deur die Instituut vir Kleingrane.

Wisselbou het ‘n impak op die beskikbaarheid van inokulum en kan dus bydra tot die beheer van die siekte. Onkruid, opslagplante, grasse en stoppels, wat moontlik bronne van inokulum kan wees, moet vernietig word. Plant dus gewasse wat nie gashere vir die swam is nie. Gewasse soos mielies, sonneblom, lupiene, kanola, rog en aartappels is nie gashere nie, maar hulle kan ook nie die siekte onderdruk sodra koring weer geplant word nie. Hawer is die enigste gewas wat die inokulumvlak (siektedruk) van die swam kan onderdruk.

Besproeiingskedulering :Vermy oorbesproeiing wat aanleiding kan gee tot versuiptoestande. Versuipte kolle in lande is ’n goeie teelaarde vir swamme.

Grondvoorbereiding: Hef enige verdigting op wat dreinering kan benadeel. Maak ook seker dat die saadbed eweredig en fyn is vir doeltreffende ontkieming.

Chemiese beheer van vrotpootjie
Swamdoders word algemeen gebruik vir die beheer van siektes wat deur swamme veroorsaak word. In Suid-Afrika is daar heelwat aktiewe bestanddele geregistreer vir die beheer van die swamsiektes in koring. Sommige aktiewe bestanddele is ook spesifiek geregistreer vir die beheer van saad en/of grondgedraagde siektes. Ongelukkig is daar tans net twee produkte geregistreer naamlik, Galmano Plus en Latitude vir die beheer van vrotpootjie.

Galmano Plus (aktiewe bestanddele is fluquinkonasool en prochloraz) is ’n saadbehandeling met ’n kontak- sowel as ‘n sistemiese werking. Dit is n vloeibare sistemiese saadbehandelingsmiddel vir die beheer van blaarroes (Puccinia recondita) en onderdrukking van vrotpootjie (Gaeumannomyces graminis) op koring.

Latitude (aktiewe bestanddeel silthiofam) is ’n saadbehandeling wat in 2001 geregistreer is. Die middel skep ’n buffersone om die plantwortels wat die simptome van vrotpootjie verminder, asook die aantal besmette plante verlaag.

Lande moet onkruidvry (insluitende opslagkoring) gehou word, veral in die voorafgaande gewas sodat daar nie onkruid oorgedra word wat dan as gasheer kan dien vir die oorlewing van spore nie.

Ter opsomming
Dit is belangrik om seker te maak dat die grond se voedingstatus reg is deur grondmonsters te neem en die nodige aanpassings te maak.

Daar bestaan tans geen weerstandbiedende kultivars nie. Dit maak dit moeiliker om die siekte te beheer. Die dooie are wat in die lande waargeneem kan word, kan ook soms as gevolg van ander oorsake wees.

‘n Kitsoplossing is daar nie en lê eerder in die bestuur van ‘n paar faktore waaroor ons beheer het. Met ander woorde, ’n goeie wisselbou-, onkruidbeheer-, voedingstatus- en chemiese beheerstelsel is die oplossing. – Abrie Venter, besigheidsontwikkelingsbestuurder, Laeveld Agrochem. Bronne verkrygbaar van die outeur.

Kontak gerus u naaste Laeveld Agrochem-agent vir meer inligting.

Besoek www.laeveld.co.za vir meer inligting.

Grootplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here