Die minister van landbou, Thoko Didiza, het op 16 Maart ‘n dringende vergadering met die land se landbourolspelers gehad waar bespreek is hoe om die koronavirus-uitbreking te hanteer. Alle rolspelers het die geleentheid gehad om insette te lewer en ‘n taakspan is saamgestel. Die span bestaan uit die departement en georganiseerde landbou. TLU SA het in ‘n persverklaring bekendgemaak dat hulle op die taakspan dien en dat die span op 19 Maart sal vergader. Verdere besluite sal, soos wat dit ontsluit word, gedeel word.

Die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (NEDLAC) is ook besig om ‘n meer omvattende reaksie saam te stel op die COVID-19 rampverklaring. Dit is volgens ‘n persverklaring wat deur Agri SA uitgereik is. Vir tyd en wyl word boere gemaan om alle protokolle te volg, soos uiteen gesit in president Cyril Ramaphosa se aankondiging. Let veral op die verbod op groepe mense van meer as 100.

Koronavirus-riglyne vir boere

Agri SA het riglyne vir boere bymekaargesit om ‘n gesonde en veilige werksomgewing vir almal te skep en te handhaaf. Die riglyne is in lyn met dié van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Klik hier vir toegang na die koronavirusriglyne. Werkers moet ook ingelig word oor hoe die koronavirus versprei en die belangrikheid van persoonlike higiëne moet beklemtoon word. Seep en water moet beskikbaar wees sodat higiënestandaarde gehandhaaf kan word.

TLU SA het boere ook aangeraai om die gevare van sosialisering in groter gemeenskappe oor naweke, terwyl daar nog onsekerheid is oor die momentum van die verspreiding, uit te wys. Die organisasie het ook voorstelle gemaak vir ’n protokol rondom toegang tot plase. Persone wat plase besoek moet ook baie higiënies wees en plase moet as ‘n tipe kwarantyngebied hanteer word waar toegang slegs met goedkeuring gegee sal word.

Ken die simptome

Dit is belangrik om die simptome van COVID-19 te ken, het Vrystaat Landbou (VL) in sy kommentaar op die situasie gesê. Die belangrikste siektetekens sluit in koors, ‘n droë hoes en moeilike asemhaling. Hierdie simptome moet veral kommer wek indien die persoon onlangs gereis het na ‘n hoë-risiko omgewing wat deur die koronavirus geaffekteer is.  

Persone wat simptome toon moet die Nasionale COVID-19 noodnommer skakel op 080 002 9999 of WhatsApp 060 012 3456. – Ursula Human, AgriOrbit