Die Boerbokmark: Buitelandse belangstelling hou aan groei

0

Estimated reading time: 6 minutes

Navorsing dui daarop dat vleisverbruik in ontwikkelende lande toeneem, veral in Afrika en die Midde-Ooste, waar dit ekonomies beter met verbruikers gaan en hulle meer vleis by hul daaglikse dieet insluit. Die meeste van dié verbruikers verkies bokvleis, omdat dit vrylik in hierdie lande beskikbaar is. Om die waarheid te sê, driekwart van die wêreld se bokbevolking word in ontwikkelende lande in Afrika en die Midde-Ooste aangetref en 60 tot 75% van die wêreldbevolking verkies bokvleis.

As jy met Boerboktelers gesels wat reeds gevestigde uitvoermarkte het, besef jy die ware impak van hierdie statistieke, veral ook as jy na die pryse kyk wat deesdae op Boerbokveilings behaal word. Gerrie Ferreira van Karoo Livestock Exports vertel dat die pryse vir goeie gehalte Boerbokke die afgelope twee jaar byna verdriedubbel het. Dit is grootliks te danke aan internetveilings waar buitelandse kopers ook kan bie.

Groeiende oorsese mark

Hy sê die Boerbok het al naam gemaak op talle oorsese plase. Aanvanklik was dit meer ’n stokperdjie onder ryk telers wat Boerbokke as ’n nuutjie gekoop het, maar in die laaste paar jaar het telers die waarde van die Boerbok begin besef. Namate die vraag na gehalte vleisbokke styg, word Boerbokgenetika ál meer in kruisteelprogramme op hul inheemse rasse gebruik en is telers nou bereid om enorme pryse daarvoor te betaal.

Judith Weideman, uitvoerende bestuurder van Kalahari Kid, ’n maatskappy wat Boerbokke en Kalahari Reds op groot skaal uitvoer, sê telers in Afrika, Oos-Europa, die Midde-Ooste, Asië en die Ooste, is gereelde kopers en hulle kan nie voorbly om in die vraag na dié ras te voorsien nie.

Sy sê Suid-Afrika het ’n klompie jare gelede al begin om Boerbokembrio’s en -semenstrooitjies uit te voer. Ongelukkig is die genetika nie beskerm nie en teling met oorspronklike Suid-Afrikaanse Boerbokke het oor die wêreld begin versprei. Gerrie vertel dat hulle al na 42 lande diere uitgevoer het en daar word waarskynlik in meer as 60 lande met Boerbokke geboer.

Ideale eienskappe

Volgens hom is die Boerbok nie net bekend vir sy gehalte vleis nie, maar ook vir gehardheid en goeie moedereienskappe. In baie gebiede waarheen die diere uitgevoer word, is dit juis dié eienskappe wat gesog is. Die Boerbok is ook ’n uitstekende kruisrasdier en Boerbokramme word in baie lande op inheemse rasse gebruik om vleisgehalte te verbeter. Die feit dat die Boerbok ook baie vroeër markgereed is, is natuurlik ideaal vir kommersiële telers.

“Met die regte voeding kan Boerbokke die skaal reeds op ses maande tot by 45kg trek en ’n karkas van sowat 20kg uitslag. Boerbokke het sagte, sappige, jong vleis wat in aanvraag is onder verbruikers. Baie bokrasse kan nie hierby uitkom nie en kommersiële telers soek bokke wat op ’n vroeër ouderdom slaggereed is, maar steeds genoeg vleis het om dit ’n goeie kopie te maak,” vertel hy.

Bokvleis word ook deur navorsers as ’n gesonde vleis beskou, omdat dit laag in cholesterol en vet is. Dit maak die gehalte vleis van Boerbokke nog meer gesog onder verbruikers.

Pryse styg en die mark groei

’n Handjievol Suid-Afrikaanse telers het ’n dekade of twee gelede hierdie gaping gesien en begin om buitelandse markte te vestig. Dié mark het intussen gegroei. Waar ’n goeie ram ’n paar jaar gelede in die omgewing van R30 000 op veilings behaal het, is dit nou nie meer ongewoon as ’n Boerbokram vir tussen R50 000 en R100 000 verkoop word nie.

Op ’n onlangse Boerbokveiling op Groblersdal is die duurste stoetram vir R140 000 verkoop, terwyl die duurste kudderam R275 000 gehaal het. Die res van die veiling het soortgelyke pryse ingebring en volgens Judith is dit ’n bewys van die waarde wat telers deesdae aan Boerbokke heg.

Gehalte is die wagwoord

Sy benadruk egter dat alles oor gehalte gaan. Binnelandse én buitelandse kopers is bereid om daarvoor te betaal. Sy glo dit is ’n mark wat wag om behoorlik ontgin te word. Baie van die buitelandse telers sit egter nie stil nie. “In die Midde-Ooste en Afrika begin telers met Boerbokteelstasies waar hulle goeie genetika kan vermeerder en hul genepoel vergroot.”

Suid-Afrikaners het egter die voordeel dat hulle steeds aan die voorpunt van Boerbokgenetika en -kennis staan, en volgens Gerrie sal dit nog jare vir die buiteland neem om hierdie vlak te bereik. Die mark kan uiteindelik stabiliseer namate oorsese telers beter genepoele opbou.

Uit sy ervaring van lewendehawe-uitvoer oor die afgelope 25 jaar, kos dit die teler ’n aardige bedrag om die diere in ’n ander land te kry. Behalwe vir die aankoopprys, is daar uitgawes vir doeanebelasting, kwarantyn, veeartse, permitte, vervoer ensovoorts, wat die koper ook moet byreken. “As buitelandse kopers dus stoetdiere koop, moet dit van uitstaande gehalte wees om vir die koper die moeite werd te wees.”

Gerrie en Judith is dit eens dat die oorsese mark enorm is. Volgens hulle sal die mark vir Boerbokvleis en -teeldiere nie sommer gou versadig raak nie. Omdat die meeste lande wat belangstel om lewende boerbokke van Suid-Afrika in te voer, ontwikkelende lande is, behoort die behoefte net te groei en Suid-Afrikaanse telers, wat oor die beste genetika en kennis van dié ras beskik, is in ’n gulde posisie om munt daaruit te slaan. – Koos du Pisanie

Vir meer inligting oor die plaaslike en oorsese mark vir boerbokke, kontak Gerrie Ferreira by 082 450 2110 of Judith Weideman by 083 601 8055.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene