Met soveel uitdagings in die landboubedryf kan geen plaas dit meer bekostig om diere te huisves wat nie waarde tot die boerdery toevoeg nie. Daarom is dit uiters belangrik dat die regte keuses gemaak word wanneer ’n boer besluit met watter ras hy wil boer. Alle rasse lê klem op dieselfde karaktereienskappe, maar nie almal kan die resultate daarvoor wys nie.

Die Bonsmara het uit ’n wetenskaplike kruisteelstelsel, wat alreeds in die vroeë 1930’s begin het, ontstaan. Die hooffokus was om ’n ras te ontwikkel wat die vermoë het om in enige van die diverse omgewings in Suidelike Afrika aangepas te wees, maar waarmee steeds winsgewend geboer kan word in gebiede met marginale weiding of ’n moeilike klimaat.

Seleksie vir aanpasbaarheid

Tropiese degenerasie was in die vroeë 1920’s en 30’s ’n groot probleem in die produksie van Bos Taurus-beesrasse in tropiese en subtropiese streke van die wêreld. Britse beesrasse het swak gevaar onder die warm toestande van die ekstensiewe vleisbeesstreke van Suid-Afrika.

Voor 1940 is wanvoeding vir die tropiese degenerasie van Britse vleisbeesrasse geblameer. Die proteïeninhoud van natuurlike weiding in die Suidelike Halfrond is laag, met baie lae vlakke in die najaar en vroeë winter. ’n Voedingsproef onder leiding van prof Jan Bonsma is in 1937 met ’n groot groep verse van verskeie Britse vleisbeesrasse by die Messina-proefplaas begin.

Dit het prof Bonsma laat besef dat wanvoeding nie die sondebok was nie. Van die verse het merkbaar beter presteer as hul maats. Deeglike waarneming het bewys dat dié wat hitte beter verdra het, beter gedy het. Diere wat die hitte swak verdra het, het vinniger en hoorbaar asemgehaal, ’n vinniger polsslag gehad, hul tonge het uitgehang en hulle het erg gekwyl.

Waarde van meting

Prof Bonsma wou alles meet en het dus talle waarnemings op sy proefdiere aangeteken. Hierdie deeglike navorsing het onteenseglik bewys hoe uiters belangrik beeste se vel en hare is in die handhawing van die regte balans tussen liggaamstemperatuur en dié van die omgewing. Hipertermiese diere se asemhaling en polsslag het versnel, met gepaardgaande fisiologiese en hormoonsteurnisse.

Sedert die begin van die kruistelingsprogram en met die stigting van die genootskap, was seleksie vir aanpasbaarheid een van die belangrikste seleksiekriteria vir Bonsmaratelers. Met ’n kommersiële mark wat diere met min onderhoud maar met goeie vrugbaarheid en produksie in geharde toestande benodig, is aanpasbaarheid in Suidelike Afrika ononderhandelbaar. Aanpasbaarheid en vrugbaarheid loop hand in hand.

Riglyne vir aanpasbaarheid

Wanneer ’n mens na aanpasbaarheid kyk, moet ’n dier die volgende drie stappe in ’n nuwe omgewing volg:

  • Oorlewing: ’n Dier se eerste behoefte en instink in ’n nuwe omgewing is om te oorleef. Slegs ’n dier wat by die nuwe weiding, klimaat en omgewing kan aanpas, sal oorleef.
  • Produksie: Slegs diere wat in die nuwe omgewing oorleef en aangepas het, sal hul liggaamskondisie kan behou en weer voldoende vet en reserwes stoor.
  • Reproduksie: Slegs ’n dier wat ’n goeie liggaamskondisie het en die omgewing optimaal benut, kan weer reproduseer.

Dit is hoekom aanpasbaarheid die eerste hoeksteen van vrugbaarheid is. Diere wat nie in die nuwe omgewing kan aanpas nie, sal slegs in ’n oorlewingstryd bly. Indien diere egter goed aangepas is, sal hulle maklik weer kan begin produseer en reproduseer.

Produksie op veld

Die Bonsmara was die eerste ras waarop inspeksies van bouvorm en produksierekords gedoen is om te verseker dat alle diere kostedoeltreffend van die veld af kan produseer. Alle geregistreerde Bonsmaradiere word op teelouderdom geïnspekteer en diere wat nie funksioneel doeltreffend is nie, word uitgeskot. – Louis Steyl, Bonsmara SA

Vir meer inligting, besoek die webtuiste www.bonsmara.co.za of stuur ’n epos aan info@bonsmara.co.za.