Castle de Wildt

’n Eerste van sy soort geleentheid word van 28 Februarie tot 2 Maart by Castle de Wildt net buite Modimolle aangebied. Die Castle de Wildt Landbou-, Wild-, en Jag-ekspo dien as ’n platform om produsente en ander rolspelers in staat te stel om die nuutste tegnologie en produkte in verskeie landboubedrywe eerstehands te ervaar.

Volgens Engeline Gericke van Essential Marketing het die omvang van landboupraktyke in die gebied rondom Modimolle, asook die groter Limpopo streek, die gedagte rondom ’n ekspo laat posvat.

“Landboubedrywighede in Limpopo is baie divers. Op die Springbokvlakte is daar byvoorbeeld groot saaiboerderye, wat katoen, mielies, koring, sorghum en meer insluit. In die noorde is die sitruskomponent groot, asook baie avokado- en piesangboerderye. Daar is ook baie goed-gevestigde vee- en pluimveeboerderye. Ons het selfs een van die grootste krokodilboerderye in Bela-Bela.”

Die ekspo word dus op die been gebring om ’n platform te skep waar produsente uit verskillende bedrywe bymekaar kan kom om ’n network vir integrasie en diversifisering te bou.

Die ekspo kan opgesom word in sy hutsmerk, #hartklopvandieboer. “Ons wil die passie vir boerdery vasvang, en aan enigiemand met dié passie die geleentheid gee om die nodige hulpbronne te kry om dit uit te leef.”

Inligting in oormaat

Die program bars uit sy nate met landbouseminare, ’n wild-, jag-, en trofeeveiling, Arabierperdveiling, ’n streeksrondte in die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie, WRSA plaaswerkersopleiding, gesprekke oor aquakultuur en ander nisboerye, die HelpJag-fondsinsameling en meer.

Die 17-jarige Rikalize Reinecke gesels tydens die openingsgeleentheid met ekspo-gaste oor hoe sy sukses behaal met aquakultuur-sisteme. Saam met haar op die verhoog is Nick Serfontein van die Sernick-groep. Hy gaan internasionale marktendense en -statisitek met gaste deel.

Plaas Media dagseminare word op die 28ste Februarie van 11:00 tot 17:00 aangebied. ’n Lys indrukwekkende sprekers en onderwerpe kan na uitgesien word.

Henny van der Walt, wie sopas teruggekeer het uit Amerika waar hy die internasionale jagskoue besoek het, het ’n boodskap wat hy bring aan die Suid-Afrikaanse wildbedryf. Dan gesels Mike Bosch oor die benutting van die res van Afrika as uitvoermark. Dr Louis Boag gesels oor parasietbeheer in vee, en dr Hanré Bredenkamp Ferreira oor siektewaarneming en verslaggewing. Georgina Jeurissen praat oor die beperking van kalfsterftes in jou kudde, en Albert Loubser gesels oor die ontginning van konynboerdery vir voedselsekerheid. Laastens gesels Estie Badenhorst oor agritoerisme.

Die koninklikes

Die Kings & Queens wild-, jag-, en trofeeveiling gaan een van die groot hoogtepunte tydens die Castle de Wildt Landbou-, Wild-, en Jag-ekspo wees. Bernard Groenewald, besturende direkteur van Castle de Wildt, verduidelik dat meer as ’n 1 000 teel- en jagdiere beskikbaar gaan wees en dat buffels, goue wildebeeste, koedoes, rooibokke, kameelperde, swartwitpense, sebras, springbokke, blesbokke, njalas, blouwildebeeste, Livingstone elande, gemsbokke en vele meer onder die hamer gaan kom.

Verskeie jagpakette vir onder meer trofeejagters kom ook onder die hamer.

Klik hier vir meer inligting oor die veiling.

#HelpJag

Nog ’n belangrike hoogtepunt is 1 Maart se #HelpJag geleentheid saam met Bakkies Botha en Adam Tas.

Die #HelpJag-veldtog het ontstaan nadat tienjarige Johann Brink besluit het om die vleis van ’n bok wat hy gejag het, vir ’n nabygeleë weeshuis te skenk. Dit het gou duidelik geword dat daar baie jagters is wat graag ’n bydrae sal wil lewer om ’n kind se lewe makliker te maak.

#HelpJag versprei saam met Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkieprojek wildsvleis na 83 kleuterskole regoor die land, en voed daarmee 6 550 kleuters. Vir baie van die kleuters is hierdie bord kos die enigste wat hulle daardie dag sal ontvang. Dit is daarom van kardinale belang dat hierdie bord kos voedsaam is.

Die aanwesigheid van ’n hoë-proteïenvleis, soos wildsvleis, verbeter die kleuter se kanse om gesond te ontwikkel en dra by tot verhoogde konsentrasie en prestasie op skool.

’n Tafel vir tien gaste kan teen R3 500 per tafel gekoop word ter ondersteuning van die aand. Dit gaan ’n heerlike en spoggerige geleentheid wees.

Vir meer inligting stuur ’n e-pos na helpjag@helpendehand.co.za.

Arabierperde

Die Castle de Wildt Arabierperd-stoet bied sy eerste veiling tydens die Castle de Wildt Landbou-, Wild-, en Jag-ekspo aan. Vir die eerste keer gaan vullens van GFS Dantien op veiling aangebied word. Die perde kom almal uit top bloedlyne wat geskik is vir skou, ry en teel.

Vir meer inligting kontak Bianca van Zyl by bianca@lbgh.co.za of 072 787 3757.

Plaaswerkersopleiding

Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) bied reeds vir ’n geruime tyd opleidingsdae aan wat spesifiek gefokus is op plaaswerkers. Een van dié dae vorm ook deel van die Castle de Wildt Landbou-, Wild-, en Jag-ekspo. Onderwerpe waaroor werkers opgelei gaan word sluit in brandvoorkoming, chemiese onkruidbeheer, karkashantering, hospitaliteitsvaardighede en meer.

Vir meer inligting stuur ’n e-pos aan admin@wrsa.co.za.

Afslaerskompetisie

Jaarliks word verskeie streeksrondtes gehou om deelnemers die geleentheid te bied om vir deelname by die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie te kwalifiseer. Die Limpopo-streeksrondte word vanjaar tydens die Castle de Wildt Landbou-, Wild-, en Jag-ekspo aangebied. As jy dink jy het afslaersbloed in jou are, kom wys jou staal op die rostrum.

 Vir meer inligting stuur ’n e-pos aan Michelle Verster by michelle@plaasmedia.co.za.

Die ekspo, veiling en plaaswerkersopleidingsdae word in dié video bespreek:

Die ekspo word ondersteun deur Plaas Media, WRSA, Afrivet, VKB Landbou, Wild & Jag, De Kaap Wildbedryf en FNB.

Klik hier vir meer inligting. Besoek ook www.castledewildt.co.za of kontak 041 736 4635.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here