Die inheemse Hu-skaap word op grond van haar uitsonderlike moedereienskappe en vrugbaarheid in kruisteelprogramme gebruik om die ideale F1-moederlyn te skep.

Skape, en spesifiek vleisskaapproduksie, is een van die veevertakkings wat deur die Chinese regering geïdentifiseer is as ’n manier om armoede in China te verminder. Dis in hierdie konteks dat die Internasionale Vleisskaapsimposium onlangs in die stad Tianjin in die suide van China aangebied is.

Read it in English. 

Manie en dr Karin Wessels van Mamre Intensiewe Skaapproduksie naby Frankfort is as Suid-Afrikaanse sprekers genooi, en ek was bevoorreg om as joernalis saam te gaan. Die vierde lid van ons geselskap was Phillip Oosthuizen van die Sernick Groep, wat spesifiek uitvoermoontlikhede na China wou gaan bestudeer.

Bekamping van armoede

Volgens dr CJ Lin, een van die organiseerders van die simposium en uitvoerende hoof van Tianjin Aoqun Animal Husbandry, ’n reuse skaapproduksieplaas net buite die stad, gaan die Chinese platteland onder die uiterste armoede gebuk.

Hy sê die Chinese regering se mikpunt is om armoede teen die jaar 2020 uit te wis, en skaapproduksie is een van die voertuie wat geoormerk is om dit te bereik. Daarom gooi die Chinese regering sy gewig volledig agter hierdie inisiatief deur onder andere staatsondernemings te betrek en groot subsidies beskikbaar te stel.

CJ sê die doel van die simposium was spesifiek om dialoog aan die gang te sit om antwoorde te kry op die vraag van hoe meer lammers volhoubaar geproduseer kan word om die Chinese bevolking te voed.

“Die skaapbedryf is tans ongeorganiseerd en elkeen probeer op sy eie ’n vastrapplek in die voorsieningsketting kry. Dit sou soveel meer sin maak as die bedryf ’n gesamentlike inisiatief kan bekendstel en kan saamwerk, vanaf genetika en teling regdeur tot by die verspreiding van die vleis.”

Klemverskuiwing na megaplase

CJ verwys interessant genoeg na die rewolusie in skaapproduksie, ’n term wat ook in Suid-Afrika gebruik word by die Veeplaas Intensiewe Skaapproduksieskool wat Manie en Karin in samewerking met Plaas Media aanbied.

“Hoewel daar verskeie mega-skaapeenhede in China is, met soveel as 60 000 skape onderdak op een plaas, is dit nie verteenwoordigend van die hele bedryf nie. Ongeveer 70% van die skaapplase in China besit 100 of minder skape. Slegs sowat 5% is megaplase.

“Die bemoedigende punt is egter dat daardie 5% megaplase besig is om te groei. Dit is inderdaad waar dat die bedryf ’n rewolusie ervaar waarin die klein, onvolhoubare eenhede verdwyn en die groot plase groter en meer word,” sê CJ.

Verbruik van skaapvleis

Verlede jaar was daar 301 miljoen skape en bokke in China, waarvan ongeveer 170 miljoen skape was. Hierbenewens is 260 000 ton skaapvleis ingevoer, hoofsaaklik uit Australië en Nieu-Seeland. Die per kapita-verbruik van skaapvleis in China is slegs 3,1kg.

“Die Chinese kom al hoe meer onder die indruk van die waarde van rooivleis as hoë-gehalte proteïenbron, en die vraag is besig om drasties te styg. Die projeksie is dat die per kapita-verbruik teen 2025 sowat 5kg kan wees.”

Hoewel baie min natuurlike uitdagings rondom die ekstensiewe produksie van skape in China bestaan, is die grootste remskoen aan produksiedoeltreffendheid eerder kultureel van aard. Mense wat in die afgeleë platteland van ’n provinsie soos Inner Mongolia woon, is byvoorbeeld steeds uiters tradisioneel en oorlewingsgeoriënteerd. Verder is hulle uiters lojaal aan die tradisionele skaapras van hulle streek, wat nie juis bydra tot die ontwikkeling van produksie-eienskappe nie.

Die verwagting is dus nie dat hierdie bestaansboere in groot getalle deel van die skaaprewolusie sal word nie. Die drywers van die rewolusie kom hoofsaaklik van buite die tradisionele skaapbedryf en kyk vanuit ’n suiwer besigheidsperspektief na die bedryf.

“China het nog nie strukture soos ’n nasionale genetiese evaluasiestelsel nie, wat beteken dat elkeen maar op sy eie aangaan. Nasionale strukture is dringend nodig sodat skakels tussen die verskillende evaluasiestelsels geskep kan word om ’n nasionale databasis op te bou. Die regering is tans besig om hieraan aandag te gee,” sê CJ.

Verhoogde produksie per skaap

John McEwan van die maatskappy AgResearch by Invermay in Nieu-Seeland, was een van die internasionale sprekers by die simposium. Hy het tevore al met die Chinese skaapbedryf te doen gehad. Volgens hom produseer China nie naastenby genoeg skaapvleis om aan sy binnelande vraag te voldoen nie.

Sy waarneming is dat verhoogde skaapproduksie nie soseer gedryf sal word deur meer skape in die land nie, maar deur meer doeltreffende bestuur van die bestaande skaappopulasie.

“Daar is twee baie verskillende produksiestelsels in die land, naamlik in die hoogliggende, uitgestrekte ekstensiewe gebiede waar die skape in die somer buite wei maar in die winter binne gehuisves moet word, en ’n totale gemengde rantsoen (TGR)-stelsel waar die skape twaalf maande van die jaar binnenshuis bly en in ’n versnelde lamstelsel bestuur word.

“In beide hierdie stelsels is die produksiekoste hoog omdat voer ten minste vir ’n deel van die jaar na die skape gebring moet word. Die implikasie is dat hulle hoë pryse vir hulle produk moet kry en doeltreffende bestuurstelsels moet implementeer. In die binnenshuise, intensiewe produksiestelsels is baie hoë reproduksiekoerse ’n belangrike voorwaarde vir winsgewendheid. Hiermee saam is die vermoë om ooie regdeur die jaar dragtig te kry, ook baie belangrik,” verduidelik hy.

Die inheemse Hu-skaapras

Volgens John is een van die inheemse skaaprasse, die Hu, in hierdie opsig ’n besonder goeie moederlyn, met ’n gemiddeld van 2,6 lammers elke keer as ’n ooi lam. Die Hu is egter nie ideaal vanuit ’n vleisproduksie-perspektief nie, en baie werk word gedoen om die ideale F1-ooilyn te skep deur die Hu met ander vleisrasse te kruis.

Twee rasse wat tans baie aandag kry as terminale vaarlyne, maar ook as kombinasielyne om die ideale F1-moederlyn te skep, is die Australian White, ’n komposiete ras wat in Australië ontwikkel is, en die Suid-Afrikaanse Witdorper. Dis interessant dat beide die Witdorper en die Van Rooy-ras ’n rol in die ontwikkeling van die Australian White gespeel het.

Kevin Harrison, ’n skaapboer van Bath in Engeland en voorsitter van die land se nasionale skaaptelersvereniging, die National Sheep Association, het die Britse skaapbedryf verteenwoordig en was ook ’n spreker tydens die simposium. Ook vir hom was dit nie die eerste besoek nie en hy sê sy indrukke was heeltemal anders as wat hy aanvanklik verwag het.

“Die Chinese skaapbedryf waarmee ek te doen gehad het, is goed georganiseerd, het duidelike mikpunte waarheen hulle doelgerig op pad is, en is uiters professioneel. Verder word baie geld in die bedryf gestoot om armoede te verminder. Dis gesoute besigheidsmense wat die groot skaapplase bedryf.”

Regering se betrokkenheid

Manie en Karin sê die eerste ding wat ’n mens opval as jy die Chinese skaapbedryf probeer bestudeer, is die regeringsbetrokkenheid.

“Ek het veral drie fokusgebiede rondom hierdie regeringsbetrokkenheid geïdentifiseer,” sê Manie. “Die eerste is armoedeverligting, die tweede is werkskepping en die derde is voedselsekuriteit. En ek dink nie ons moet die kwessie van voedselsekuriteit onderskat nie. China voel hy is kwesbaar omdat hy ’n netto invoerder van voedsel is en is baie ernstig daaroor om hierdie kwesbaarheid te verminder. Dis ook waarom hulle so baie op Afrika fokus – om Afrika as voedselvennoot te ontwikkel.”

Hy beklemtoon dat baie geleenthede vir Afrika-boere hierin lê. “Wat ons waarnemings betref op die skaapplase wat ons besoek het, is die kondisie van die skape die eerste ding wat ’n mens opval. Die hoë vlak van versorging en uitstekende kondisie was opvallend. Verder het hulle klem op biosekuriteit ons ook baie beïndruk.”

Afvalbestuur en tegnologie

Manie sê ’n verdere punt wat genoem moet word, is China se afvalbestuur. “Nêrens was die reuk van afval te bespeur nie, en dit was opvallend hoe skoon alles was. Die mis en urine in die skaaphuise word daagliks met skrapers bymekaargemaak en weggery, waarna dit verwerk word en op die lande uitgesprei word.”

Wat die tegnologie betref, is dit baie duidelik dat China se skaapbedryf aan die voorpunt van tegnologie is. Om 60 000 skape in ’n binnenshuise stelsel te bestuur, spreek van uitstekende bestuurstelsels en personeel.

Die 60 000 skape onderdak was op een van die plase wat besoek is, en die skape is in 81 huise gehuisves, elkeen 100m lank en 12m breed. Die spasie is opgedeel in hokke van sowat 4m x 6m, met ’n gang van 2,8m in die middel waarvandaan die voerkar dan voer aan weerskante kan aflewer.

Die vloer bestaan uit hortjiesvloere, wat van plastiek of bamboes gemaak is. Mis en urine gaan daardeur, maar dit word daagliks met skrapers onder die vloere uitgeskraap. Die skrapers werk met kabels op ’n katrolstelsel en die afval word in ’n put versamel, waarvandaan dit weggery word.

Die gebruik van kuilvoer

Manie sê die Chinese staan ook nie terug wat teling, genetika, gesondheid, voeding en gewasverbouing betref nie. “Dit wat hulle nie het nie, koop hulle in.

“Die voeding in die groot skaaphuise is kuilvoergebaseer. Daar is ook nie ’n groot variasie in die rantsoene van die verskillende biologiese fases van die skape nie, maar slegs in die hoeveelheid wat gevoer word. Hulle maak multi-spesie kuilvoer om ’n spesifieke gehalte en samestelling te bewerkstellig. Die manier waarop hulle kuilvoer met kleinvee benut, is vir ons in Suid-Afrika relatief vreemd.

“Hulle toegespitste navorsing is ook opvallend. Dis duidelik dat alles daarop gerig is om toepaslike kundigheid te genereer en om armoede te verminder.

“Wat vleisproduksie betref, is daar duidelik ook twee fokuspunte. Aan die een kant is daar definitief die fokus om die massas te voed, maar aan die ander kant is daar ’n onteenseglike fokus op die fynproewersmark. In hierdie mark is navorsing oor vleisgehalte en -sagtheid vir hulle baie belangrik.”

Wat kan ons leer?

As ’n mens die waarnemings in China op Suid-Afrika van toepassing wil maak, sê Manie, is dit duidelik dat die skaapbedryf ’n noemenswaardige rol kan speel in ons eie soeke na armoedeverligting. Dit impliseer egter dat ons ons eie navorsing ten opsigte van vleisgehalte en kleinvee moet versnel, asook moet aanvaar dat die toekoms van skaapboerdery in intensiewe stelsels lê. Dit impliseer dat navorsing sterk op voeding gerig sal moet wees, maar ook op teling, om die ideale moeder- en vaarlyne te identifiseer en te ontwikkel.

Phillip Oosthuizen, navorsingsbestuurder by die Sernick Groep, wys egter daarop dat daar nog heelwat ruimte vir verbetering is. “Produksiegewys was dit opvallend dat die Chinese steeds nie hulle voedings- en versnelde produksiestelsels geoptimaliseer het nie. Voeding vir die ooie se voedingsbehoeftes in die verskillende reproduksiestadiums, is nog gebaseer op ’n algemene voedingskonsep.

“Die versnelde lamstelsel is gebaseer op dagliglengte vir die ooie om natuurlik op hitte te kom, terwyl die gebruik van sinkronisasie daardie uitdaging uit die weg kan ruim. Die regering gee baie geld en doen baie moeite met die skaapbedryf vir voedselsekuriteit en armoedeverligting, maar die basiese beginsels bly dalk in die proses agter.”

Subsidies sorg vir winsgewendheid

Hy sê winsgewende produksie op hierdie megaplase word deur die regering gesubsidieer in die vorm van belastingvoordele en direkte subsidies. Die indrukwekkende fasiliteite is baie produktief, maar sonder regeringshulp, soos in Suid Afrika, sal die winsmarges baie onder druk wees.

“Die groot dryf deur die regering om voedselsekuriteit te verhoog en armoede te verlaag, is indrukwekkend en gaan noemenswaardig wees. Die realiteit is egter dat die vraag na voedsel hoër is as wat hierdie ‘rewolusie’ in die bedryf kan voorsien en die vraag sal ook al meer raak met die groeiende bevolking. Invoere bly dus baie belangrik.

“Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt is ons plaaslike vooruitskatting dat ons skaap- en beesproduksie die plaaslike verbruik gaan oorskry, wat toenemend die klem op uitvoergeleenthede sal plaas. Uitvoerkanale is ook belangrik om van gunstige wisselkoerse gebruik te maak en risiko’s te versprei.

“Die produksiekoste in China is relatief hoog as gevolg van die behuising wat nodig is vir die uiterste koue winters, asook die gebrek aan weiding en oppervlakte om te boer. Goedkoper produksie in Suid-Afrika kan dus die uitvoere op grond van pryskompetering bevoordeel,” sê hy. – Izak Hofmeyr, Veeplaas