Oor die afgelope paar weke het dinge dramaties in ons land verander as gevolg van die COVID-19-pandemie. Die Melkprodusente-organisasie (MPO) ondersteun die drastiese maatreëls wat president Cyril Ramaphosa aangekondig het om die verspreiding van die COVID-19-virus te beperk.

Die MPO maak deel uit van die tegniese taakspan wat deur die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling aangewys is, met subkomitees vir ekonomie, maatskaplike uitwerking en kommunikasie. Die komitees funksioneer virtueel en die MPO sal die belange van melkprodusente ten alle tye bevorder.

Melkprodukte is noodsaaklik

Met die 21 dae inperking word baie van ons vryhede weggeneem en die basiese behoefte aan kos is op almal se lippe. Miljoene mense is daagliks afhanklik van melk en melkprodukte as deel van hul dieet omdat dit energie, proteïen en baie vitamiene en minerale in een produk voorsien.

Afgesien van die voedingswaarde van melk en melkprodukte, voorsien die bedryf ook werk aan baie mense en ekonomiese sekuriteit aan talle families. Ons land se mense moet weet dat ons melkboere en melkverwerkers selfs in hierdie baie moeilike tyd onverpoosd werk om in die land se suiwelbehoeftes te voorsien.

Weens die beperking op mense se bewegings kan die vraag na melk moontlik afneem. Om dit te voorkom versoek die MPO kleinhandelaars om die melkprys in die winkels te verlaag om die geleentheid aan almal te bied om melk en melkprodukte te kan aanskaf in hierdie besondere uitdagende periode.

Wat behoort melkprodusente op hul plase te doen?

Gesonde individuele selfregulering op elke plaas is die hoofvereiste. Kontak met persone buite die plaashek moet tot ’n minimum beperk word, en waar moontlik moet die werksmag tot die noodsaaklike minimum afgeskaal word.

Maskers, handskoene en ontsmettingsmiddels moet ook beskikbaar gemaak word. Verder kan die publiek verseker wees dat die virus nie deur gepasteuriseerde melk oorgedra kan word nie. Suid-Afrika se landboubedrywighede sal voortgaan en die melkbedryf sal alles doen om steeds gehalteprodukte te lewer. – Persverklaring, MPO