Om die legkaart van ’n ekonomiese skaapboerdery – wat dikwels ’n hamelkomponent insluit – beter te begryp, het Veeplaas met ’n paar kenners gesels.

Dr Louis du Pisani is ’n onafhanklike landboukonsultant wat ’n geruime tyd by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se kommersiële en kommunale studiegroepe betrokke was. Volgens dié groepe se berekeninge was die gemiddelde wolinkomste vir wolrasse (Dohnes en Merino’s) 44% en die vleisinkomste 56% vir die 2019 finansiële jaar. Met dubbeldoelrasse is ’n normverskuiwing waargeneem – die gemiddelde vleisinkomste was tussen 70 en 80% en die wolinkomste tussen 20 en 30%.

Dr Du Pisani meen ’n mens moet baie versigtig te werk gaan wanneer die wol-vleisverhouding van 40:60 deur ’n wolprodusent gebruik word om te bepaal of sy boerdery aan die norm voldoen. “Byvoorbeeld, een produsent se wolinkomste is R400 per kleinvee-eenheid met ’n vleisinkomste van R600, en die ander se wolinkomste is R800 met ’n vleisinkomste van R1 200. Beide produsente het dus ’n 40:60 wol-vleisverhouding, maar dit moet in perspektief gesien word. Al is die verhouding dieselfde, beteken dit nie hulle maak ewe veel geld nie.”

Sommige produsente wyk wel van die norm af en dit kan gewoonlik aan een, of ’n kombinasie van die volgende redes, toegeskryf word: “As 70% van ’n produsent se inkomste uit vleis gegenereer word en 30% uit wol, kan dit wees omdat hy ’n geweldige goeie inkomste uit vleis verdien, terwyl sy wol steeds aan die verwagte standaard voldoen. Maar, dit kan ook wees dat sy wol van die aangewese standaard afwyk en dít kan probleme voorspel,” sê dr Du Pisani.

Die 40:60 wol-vleisverhouding moet in perspektief gesien word, want al is die verhouding dieselfde vir verskillende boerderye, beteken dit nie dat daardie produsente ewe veel geld maak nie. (Foto: Danie Vorster)

Jan Louis Venter, produksie-adviseur van die NWKV, meen dat wanneer die verhouding omswaai en ’n produsent se wolinkomste hoër as sy vleisinkomste raak, die kanse goed is dat die afwyking ’n probleem met reproduksie en lamoorlewing aandui. Waar dit die geval is, beveel beide Jan Louis en dr Du Pisani aan dat ’n kundige se raad ingewin word.

Hamels in ’n ooiboerdery

Die gelyktydige bestuur van ’n hamelkomponent en ’n ooiboerdery kan ’n versoenbare besigheid met indrukwekkende dividende oplewer.

Frikkie Strauss is ’n skaap- en wolbeampte by BKB in Bloemfontein. Volgens hom kan ’n hamelboerdery veral ’n groot verskil maak in ’n klimaat waarin ondergemiddelde reënval die norm is. “Boonop vergemaklik dit nie net jou boerdery nie, maar jy kan jou winsgrense verhoog mits dit korrek bestuur word,” sê hy. “Dit baat altyd om te onthou dat hoe beter jy na jou diere omsien, hoe groter die wins is wat hulle vir jou gaan gee.”

Hamels vervul ’n belangrike skoonmaakrol wat tot veldverbetering lei en is ’n goeie opsie waar die helfte van die plaas nié vir lammerveld geskik is nie.

Dr Du Pisani meen dat goeie voeding gewoonlik die ‘ja’ of ‘nee’ vir ’n hamelkomponent is. Hy verduidelik: “Gedurende die produksiejaar is ’n ooi vir vyf maande dragtig, sy lakteer vir drie tot vier maande, die lam word gespeen en die ooi is dan vir drie maande droog voordat die hele siklus herhaal word.

“Gedurende laatdragtigheid en laktasie, met ander woorde 50% van haar produksiejaar, benodig die ooi besonder goeie voeding. Indien jou plaas dan argumentshalwe 3 000ha groot is, benodig jy minstens 1 500ha topgehalte weiding per jaar, oftewel 50% lammerveld. As jy nie 1 500ha goeie weiding het nie, kan jy nie nét met ooie boer nie, omdat die kans goed is dat jou ooie se produksie sal afneem of jou voerkoste deur die dak gaan skiet.”

’n Hamelkomponent in ’n ooiboerdery is dus ’n goeie opsie waar die helfte van die plaas nié vir lammerveld geskik is nie. Dit bied onder andere die volgende voordele:
1. Hamels produseer uitstekende gehalte en groot hoeveelhede wol teen ’n billike produksiekoste.
2. Die vleiskomponent is lonend waar ’n hamel op 30 tot 32kg gespeen kan word en op ’n volwasse ouderdom maklik tussen 55 en 60kg kan weeg.
3. Hamels kan tydens droogtes verkoop word om die druk op voerbronne te verlig sodat die ooie vir ’n langer tydperk op die veld kan loop.


Dr Du Pisani maan egter dat dit belangrik is om te onthou dat hamels nie kapitaal bou nie, terwyl ooie ’n goeie kapitaalbelegging is wat in waarde kan toeneem.

’n Ander perspektief

Guillau du Toit boer al ongeveer 35 jaar in die Fraserburg-distrik en hou hamels aan om die veld wat nie vir sy ooie geskik is nie te benut en om die meer uitgegroeide veld terug te snoei. Ongeveer vyf jaar gelede het hy ’n kopskuif gemaak om te midde van die droogte nie sy hamels te verkoop nie, maar eerder ’n persentasie van sy ooie van die hand te sit.

Sy inkomste uit die lammeroeste het dus gedaal, maar sy uitgawes het ook drasties gedaal omdat hy minder ooie moes voer. “My uitgawes het vinniger gedaal as my inkomste, met die gevolg dat my netto wins gestyg het,” sê hy. “Ek moes my hamels vir die eerste keer voer toe die 2019-droogte op sy ergste was. Hou in gedagte dat ons ondergemiddelde reënjare in 2013 begin het en 2019 reeds die sewende jaar van die droogtesiklus verteenwoordig het.”

Hy meen ook dat die uithouvermoë van hamels onderskat word. “Jy kan dit ook nie met ’n droë ooi vergelyk nie, omdat die fisiologiese werking van hamels en ooie verskil,” sê hy.

Beide Guillau en dr Du Pisani se raad aan produsente wat dié strategie wil volg, is om die inkomste van hul ooie wat in die droogte verkoop is te bêre, sodat daar ’n bedrag beskikbaar sal wees om die ooikudde weer op te bou wanneer die droogte verby is. Die strategie sluit natuurlik ook in dat die hameltrop kleiner gemaak word wanneer die ooitrop se getalle vermeerder.

Wat sê die syfers?

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se hoof uitvoerende beampte, Gerhard Schutte, meen dat elke produsent die wol-vleis-som versigtig moet maak, gegewe skommelinge in die wolmark, waar gehalte ’n bepalende faktor is, asook die wisselende prys van skaapvleis.

“Daar is die afgelope jaar 4 935 311 skape formeel in Suid-Afrika geslag teen ’n gemiddelde karkasmassa van 20kg. As ’n mens 98 miljoen kilogram teen ’n markprys van R80/kg vir die boer bereken, is dit R7,8 miljard omset per jaar,” sê Gehard.

“Alle aanduidings is dat die formele bedryf 50% van die totale bedryf uitmaak en dat die informele sektor in skaapvleis net so groot soos die formele bedryf is. Ons kan dus die afleiding maak dat die jaarlikse omset van die skaapvleisbedryf op produsentevlak R15,6 miljard is.”

Daar kan ook afgelei word dat wolskape 70% van skaapslagtings uitmaak. “Die jaarlikse omset in skaapvleis uit wolrasse is dus R10,92 miljard, oftewel 70% van R15,6 miljard. Gegewe die jaarlikse omset van R5 miljard in die wolbedryf, is die wolinkomste uit alle wolrasse 31% en die vleisinkomste 69%. Ons kan dus aanneem dat reproduksie vir die wolprodusent uiters relevant is.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of [email protected], Jan Louis Venter by 083 650 1131 of [email protected],
Frikkie Strauss by 082 772 2059 of frikkie.stra[email protected],
Guillau du Toit by 083 561 6325 of [email protected],
en Gerhard Schutte by 012 349 1102 of [email protected].