Boere het voortdurend nuwe en beter tegnologie nodig om volhoubaar te kan produseer. Suid-Afrika se landboubedryf is ook afhanklik van goeie navorsing om kompeterend te bly op internasionale vlak. Goeie inligting is egter skaars en nuwe navorsing en geleenthede word al hoe skaarser.

Die gebruik van verwerkte presisiedata bied wel geleenthede om die effektiwiteit van insette soos saad en kunsmis in rand en sent te begin kwantifiseer. Die vraag ontstaan dan of graanboere met variërende saad- en kunsmisaanplantings meer wins kan maak op ‘n hektaarbasis?

Geleentheid vir groter winsgewendheid

Die insetkoste op grane styg elke jaar. Omdat boere prysnemers in die graanbedryf is, bestaan die vraag of groot insette soos saad en kunsmis wel meer doeltreffend bestuur kan word. Saad en kunsmis maak ongeveer 35% van die graanboer se totale insetkoste per hektaar uit. Hoewel dit ‘n groot gedeelte van sy insetkoste opmaak, is dit tog moontlik om meer winsgewend te boer deur saad en kunsmis te varieer volgens die grond se potensiaal.

Daar bestaan verskillende opinies in die graanbedryf oor of die gebruik van variërende saad- en kunsmisinsette op lande wel die moeite werd is. Daar bestaan veral vrae rondom die duurder toerusting wat hiervoor nodig is.

Die antwoord lê waarskynlik daarin dat daar meer intensief elke spesifieke plaas en sy omgewing gekyk moet word. Die presisie-inligting waaroor boere reeds beskik, soos grondklassifikasie, grond-chemiese presisieontledings en akkurate stroperkaarte sal die basis van so ‘n analise vorm. Die uiteindelike antwoord gaan lê in die verskil tussen lande, plase, gebiede en natuurlik grondtipes.

Agri Technovation se MyFarmWeb-platform maak dit nou baie makliker om hierdie data optimaal aan te wend en kan antwoorde op ‘n meer tyd- en koste-effektiewe wyse verskaf.

Die belangrikheid van grondklassifikasie

Grondklassifikasie, of die identifisering van grond se fisiese eienskappe, kan ’n goeie aanduiding gee van grond se langtermyn heersende fisiese toestande, byvoorbeeld die teenwoordigheid en diepte van die watertafel, die versuipingsrisiko, logingspotensiaal, keerlaagdiepte en dies meer. Dit alles dra by tot die risiko wat die grond inhou vir langtermyn suksesvolle opbrengste.

Die grond op ’n plaas kan drasties van een gedeelte tot die volgende varieer. Opbrengs- en risikobestuur is direk gekoppel aan besluite rakende watter tipe gewas, kultivar en plantpopulasie per hektaar op watter gronde geplant sal word. Die variërende toediening van saad en kunsmis gebaseer op die potensiaal en risiko van die gronde, is krities om insetkoste so effektief as moontlik te bestuur.

Kultivarseleksie wat gebaseer is op jou grond, in kombinasie met variërende plantestand en bemesting, plaas jou boerdery in ’n ander liga. Hierdie potensiaal en risiko’s kan nou bepaal word deur werklike beskikbare data.

Al is jy nie ingerig vir variërende toediening nie, kan jy steeds hoë-, medium- en lae-risiko gronde identifiseer en daarvolgens bestuursones opstel om besluite te neem. Daar sal iets wees wat op daardie stuk grond werk. Al wat moet gebeur is dat die korrekte bestuurspraktyk, gewas en kultivar geïdentifiseer word.

Rol van saamgestelde opbrengskaarte

Akkurate stroperkaarte kan aangewend word om meerjarige langtermyn opbrengskaarte vir grane op te stel. Hierdie kaarte kan vir drie- of vyf-jaar periodes opgestel word. Verskillende opbrengsvlakke in ton per hektaar kan aan die kaarte gekoppel word. So byvoorbeeld kan alle beeldelemente (pixels) op kaarte in halfton- of ton-inkremente op die legende uitgedruk word.

Die legende kan dan gebruik word om potensiële gemiddelde opbrengsvlakke en totale tonne per oppervlak uit te werk. Graan SA se sensitiwiteitsanalise kan dan gebruik word om op ’n streeksbasis vas te stel teen watter prys per ton en teen watter produksievlakke mielies winsgewend geproduseer kan word. Deur die data te gebruik en dit saam met jou saamgestelde langtermyn opbrengskaarte in te trek, kan die totale geleentheid op variërende saad en kunsmis uitgewerk word. Elke plaas en streek asook geleentheid sal van mekaar verskil.

In die praktyk

Die proses en stelsel kan met ’n praktiese voorbeeld toegelig word:

’n Boer in die Oos-Vrystaat het 307ha mielies geplant op baie goeie lande. Sy drie-jaar langtermyn gemiddelde opbrengs (LGO) is baie hoog, naamlik 8,2 ton/ha. Uit die legende-indelings is 14% van die oppervlakte onder 5 ton opbrengs. Graan SA se sensitiwiteitsanalise vir die Oos-Vrystaat toon dat jy eers begin wins maak op 5 ton per hektaar se opbrengste, teen R2 300/ton en ’n totale inset van R9 500/ha.

Dus kan die inligting met die legende op ‘n kaart gebruik word om te besluit onder watter opbrengste en lande die boer nie wil plant nie, of eerder met verminderde insette wil plant. As die boer sou besluit om nie daardie hektare te plant nie, styg die opbrengste na 9,2 ton/ha, en het hy R403 000 gespaar deur nie op daardie grond te plant nie. Hy produseer 115 ton minder, maar maak steeds R172 000 meer wins.

Die kommersiële prentjie

Op die boer se totale aanplanting van 2 802ha lande mielies (2017/2018 seisoen), is die totale variërende saad indeling steeds op dieselfde sakkies saad-indeling uitgewerk, maar op sekere kultivars soos DKC 75-65BR het dit uit proewe tot 1,7 % oesverbetering uitgewerk, of R116,59 meer in sy sak per hektaar.

Op die variërende kunsmis-indeling was daar egter ‘n groot besparing van 28%. Dit verteenwoordig ‘n besparing van R457 per hektaar, en ‘n totale besparing van R1 282 282 oftewel 4,8% op totale insetkoste (R9 500/ha).

Die MyFarmWeb-platform

Die MyFarmWeb-platform is ontwerp om die produsent se lewe te vergemaklik en presisie-inligting vinnig en akkuraat te verskaf. Met die druk van ‘n paar knoppies kan produsente self ‘n winsgewendheidspresisiekaart genereer vanaf hul stroperkaarte. Terselfdertyd kan hulle ook hul eie insetkoste van saad en kunsmis asook graanpryse vir verskillende gewasse inlees.

Die winsgewendheidskaart word met ʼn legende vertoon wat visueel aandui op hoeveel hektaar gelykgebreek word en of daar wins gemaak of verliese gely word. Produsente kan met insetkoste rondspeel en dadelik sien wat hulle kan spandeer vir die komende seisoen, teenoor hulle mielie- of graanprys.

Lande wat konstant nie winsgewend is nie kan baie maklik geïdentifiseer word, sodat boere ’n ingeligte besluit kan neem om nie in hierdie kolle nie te plant nie, of teen laer insette te plant.

Wisselende resultate

Daar is heelwat proewe en internasionale literatuur wat wisselende resultate toon wat variërende saad- en kunsmisaanplantings betref. Waar plase goeie gemiddelde en hoë potensiële produksies ondervind, sal variërende saad- en kunsmisgeleenthede heel moontlik meer beperk wees, maar op grond van ‘n hele paar duisend hektaar se grondklassifikasiekaarte wat reeds deur Agri Technovation gedoen is, weet ons dat daar min van hierdie plase is.

Die werklike geleentheid wat winsgewendheid betref, is waar daar meer as 7% lae-potensiaal gedeeltes is op lande wat nie winsgewend is nie, en waar daar wel variërend geplant word. Plaaslike voorbeelde en geleenthede toon dat gronde nie net uitgegooi kan word met swakker produksie nie – dit help steeds om die totale oorhoofse kostes van plase te dra. Dit kan wel meer doeltreffend bestuur word.

Met bestaande presisiedata kan Agri Technovation elke plaasvoordeel in terme van variërende saad en kunsmis, nou prakties in rand en sent begin uitwys. Maak egter seker dat jy jou eie geleentheid uitwerk volgens jou plaas se unieke inligting en historiese presisiedata. – Willem JH Eigenhuis, Agri Technovation

Willem Eigenhuis is die hooflandboukundige vir graan- en pekanneute by Agri. Vir meer inligting, stuur ’n epos aan hom by willem.eigenhuis@agritechnovation.co.za of besoek Laeveld Agrochem by www.laeveld.co.za.