Een van die belangrikste beginsels in die sakewêreld en ook in landbou is om aandag aan detail te gee. Dié beginsel is veral belangrik by die instandhouding van groot implemente, want só gaan ’n mens baie tyd, moeite, frustrasie en geld spaar.

Baie veeboere, veral diegene met voerkrale op hul plase, bestee heelwat geld om hul eie voer te meng omdat dit ’n kostedoeltreffende opsie is. Indien die voermengers egter nie behoorlik hanteer en in stand gehou word nie, kan die proses ’n mens heelwat meer uit die sak jaag as waarvoor jy begroot het.

Doen dit self

Johan van Staden, ’n werktuigkundige by Agrifriend op Prieska, werk feitlik daagliks met groot implemente. Hy glo die meeste van dié implemente is so ontwerp dat boere self ’n groot deel van die instandhoudingswerk kan doen.

Johan van Staden werk gereeld met voermengers. Hy glo elke boer kan jare by sy menger se lewe voeg deur goeie instandhouding.

Hy sê die gemiddelde voermenger is eintlik eenvoudig en maklik om te diens. Die geheim om die beste diens daaruit te kry, lê by die daaglikse instandhouding.

Dit neem ’n mens net ’n paar minute elke oggend om die menger na te gaan. “Dit is beter om elke oggend vyf minute af te staan en seker te maak alles is reg, as om vyf ure te gebruik om iets reg te maak wat jy voor die tyd moes raakgesien het.”

Begin met die basiese aspekte

Johan sê heelwat aspekte is ooglopend en maklik om na te gaan voordat met die dag se werk begin word. “Maak seker die bande is reg, aangesien die masjien daagliks van een plek op die plaas na ’n ander moet gaan. ’n Band word gewoonlik op ’n ongeleë tyd pap.

“Kyk dat die elektriese bedrading korrek is. Omdat die voermenger aanmekaar beweeg en skommel, gebeur dit maklik dat die drade begin deurskuur. My raad aan boere is om die drade met kabelbinders aanmekaar te bind sodat dit nie naby die bewegende dele tussen die trekker en die menger kom nie.

’n Voermenger is ’n stuk toerusting wat die hele tyd beweeg en skommel, wat meebring dat die drade maklik kan onklaar raak.

“Gaan ook die olievlakke na. Dit is ’n maklike inspeksie en kan baie geld en tyd spaar. Maak ook seker die skaal is geyk.

“Een van die dinge wat mense dikwels nalaat, is om die ghriespunte te smeer. Sommige glo dit moet net elke 50 of 100 ure gedoen word, maar ek het uit ondervinding geleer dat dit baie makliker is om dit sommer as deel van jou daaglikse roetine te doen. In dieselfde proses kan die elektriese drade en hidrouliese pype ook skoongemaak word.”

Hou ekstra onderdele byderhand

Omdat die voermenger eintlik ’n baie eenvoudige ontwerp is en maklik herstel kan word, is dit wenslik om ekstra onderdele wat maklik onklaar kan raak, te koop en op die plaas te hou.

Volgens Johan is daar sekere onderdele wat hy gereeld moet vervang, maar wat die boer eintlik self kan doen. Ekstra onderdele soos die snylemme van die menger, die ontlaaiketting, kruiskoppelings, die laaisel (“load cell”) wat die gewig in die menger bepaal, en die laers, wat ongesiens slyt, moet in die skuur gehou word. Dit is juis hierdie noodsaaklike onderdele wat belangrik is om die werk te laat voortgaan, wat gewoonlik op ’n ongeleë tyd onklaar raak.

Die regte hantering

Onnodige probleme met ’n voermenger kan egter nie altyd net voor die deur van slytasie gelê word nie. Dit is dikwels ook die operateur wat voor stok gekry moet word. Die regte hantering van die masjien kan jare by sy leeftyd voeg.

Een van die gereelde foute is om te veel gewig in die voermenger toe te laat. Dit is dikwels die gevolg van ruvoer wat te nat is en maklik die bewegende dele van die menger laat verweer.

Dis nie noodwendig die water in die ruvoer wat die bewegende komponente in die menger laat verweer en roes nie, maar eerder die soute en sure wat in sommige grondstowwe is. Daarom is dit wenslik om nie klaar gemengde voer in die menger te los nie.

’n Goeie diens

Net soos met ’n motor, moet plaasimplemente ook een of twee keer per jaar ’n goeie diens by ’n kundige kry.

Dit is vir baie boere moeilik om tyd in te ruim om implemente, soos ’n voermenger, behoorlik te diens, skoon te maak en te smeer, omdat dit elke dag gebruik word. Om die masjien egter behoorlik skoon te maak, olie af te tap en alle werkende dele na te gaan, bring dikwels onderliggende probleme na vore wat aanvanklik nie gesien is nie omdat dit toegepak was met voerstukkies.

Tydens hierdie groot diens behoort die skaal ook weer gekalibreer te word. Dit kan gebeur dat modder aan die skaalstelsel kleef of die laaiselle (“load cells”) kan stof inkry, wat kan veroorsaak dat die skaalstelsel nie korrek funksioneer nie.

’n Langer leeftyd

Johan sê ’n boer wat sy toerusting versorg en oppas, gaan beslis langer diens uit die implemente kry. ’n Voermenger wat nie meer doeltreffend werk nie, neem baie ekstra tyd in beslag.

“As die snylemme byvoorbeeld stomp word, neem dit dubbel die tyd om die voer te meng. Waar die werker vir ’n halfuur sou besig wees met die mengwerk, moet hy nou vir ’n uur wag voordat die menger klaar is en kan hy niks verder doen nie, want hy moet by die trekker staan en toesien dat alles glad verloop.

“Dieselfde geld vir die skaal van die menger. As die skaal foutief is, is die voermengsel nie korrek nie. Op die lang duur gaan die skape wat gevoer word, baie langer neem om die regte gewig te bereik om verkoop te word.

“Op die oog af lyk dit nie na groot bedrae geld wat hier ter sprake is nie, maar as ’n mens dit oor ’n langer tyd uitwerk, gaan jy verbaas wees hoeveel geld jy kon bespaar deur jou plaasimplemente in stand te hou,” sê Johan.

Daaglikse inspeksielys vir voermengers

  • Maak seker die banddruk is korrek.
  • Ghries alle punte.
  • Sorg dat die olievlakke korrek is.
  • Is die hidrouliese pype in ’n goeie werkende toestand?
  • Maak die sluis maklik oop en toe?
  • Is die uitlaaimeganisme stewig?
  • Is die spanning op die kettings korrek?
  • Is die elektriese harnas wat van die trekker na die skaal gaan, stewig vasgemaak?
  • Is alle elektriese drade skoon?
  • Is alle hegtings op elektriese drade stewig?
  • Is die krag-aftakkas (PTO) se skerm op om veiligheid te verseker?
  • Is die snylemme skerp?
  • Is die skaal geyk?
  • Is die kruiskoppelings geghries?

Vir meer inligting, skakel Johan van Staden by 083 542 3127 of stuur ’n epos aan prieskawerkswinkel@agrifriend.co.za. –Koos du Pisanie, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here