Droogte, veral as dit lank en uitgerek is, veroorsaak die agteruitgang van die veld, veegetalle en finansies van ’n veeboerdery. Sodra die droogte gebreek word, staan veeboere voor die vraagstuk van hoe en wat die beste praktyke is om hierdie droogteskade te herstel en die boerdery weer tot sy voormalige posisie op te bou.

Die raaisel waarmee die meeste boere worstel, is wat kom eerste – die veld, die vee of die finansies? Die antwoord is eenvoudig. Al drie behoort gelyktydig herstel te word, want die drie is interafhanklik van mekaar. Die toepassing van ’n herstelplan op al drie vlakke is egter nie so eenvoudig nie.

Presisieboerdery en volhoubaarheid

Die belangrikste riglyne in die hele proses van herstel en heropbou, is presisieboerdery en volhoubaarheid. Die proses moet teen die agtergrond van die volgende aanbevelings uitgevoer word:

  • Die ‘pasiënt’ is in ‘intensiewe sorg’ en benodig optrede wat van die begin af resultate lewer. Daar is nie tyd vir speel, eksperimenteer of verkeerde besluite nie. Die medisyne is soms bitter, maar noodsaaklik.
  • Soek die advies van ’n multidissiplinêre span wat uit ’n weidingkundige, veekundige en landbou-ekonoom bestaan. Hul eerste taak is om die boerdery se ‘siektetoestand’ te bepaal, opgevolg deur ’n behandelingsplan of omdraaistrategie. Daar moet ’n plan wees. Hoop is goed, maar sonder ’n plan bly dit ’n dobbelspel.
  • Besluite moet op feite gebaseer word. Dit vereis behoorlike beplanning, nugterheid, goeie oordeel en selfdissipline. Daar is nie plek vir ou, slegte boerderygewoontes, sentiment, emosie of impulsiwiteit nie.
  • Dis ’n proses wat tyd neem. Daar is geen kitsoplossings nie.
  • Fokus tydens die herstel- en opbouproses volledig op die omdraaistrategie en maak tydige aanpassings wanneer nodig.

Die agterstande van swak veld

Goeie veld is een van die winsdrywers van ’n veeboerdery. Veld wat in ’n swak toestand verkeer, het vier agterstande in vergelyking met goeie veld. Dit het:

  • Minder water in die grondprofiel (met dieselfde reënval) en die grond is droër.
  • Die plante wat daarop voorkom produseer minder ruvoer met dieselfde hoeveelheid water.
  • Die ruvoer wat geproduseer word is van swakker gehalte.
  • Die wins per hektaar is aansienlik laer.

Dit is dus belangrik dat veeboere die skade aan die veld behoorlik regstel. Die belangrikste riglyne ten opsigte van veldherstel, is die volgende:

  • Sinkroniseer die heropbou van die veestapel met die tempo waarteen die veld herstel. Sorg dat die drakrag van die veld en die veegetalle met mekaar klop. Onthou, die drakrag van die veld sal aan die einde van die droogte swak wees en sal met verdrag verbeter, soos wat die veld herstel. Veeboere wat hul veegetalle in lyn hou met die drakrag van die veld, maak die meeste wins.
  • Indien moontlik, hou aan om die oorblywende diere weg van die veld te voer. Gebruik eerste die aangeplante voerbronne op die plaas totdat die veld voldoende herstel het. Skade aan hierdie voerbronne kan op ’n latere stadium relatief maklik herwin word.
  • Indien dit nie moontlik is om diere weg van die veld te voer nie, bewei eerste daardie kampe wat die minste benadeel sal word, terwyl die meer kwesbare en waardevolle veld kans gegee word om behoorlik te herstel. Gewoonlik is berg- en ranteveld, asook kampe met harde, onsmaaklike plante en vlak, klipperige grond, die beste om eerste te bewei. As daar nie sulke kampe op die plaas beskikbaar is nie, kies enkele kampe wat opgeoffer kan word, terwyl die res van die veld ’n kans op herstel kry. Hierdie beweide kampe moet egter later spesiale behandeling ontvang om ná die skade te verbeter.
  • Moenie die kamphekke oopgooi en die diere toelaat om na willekeur rond te loop nie. Hulle wei selektief en gaan die kosbare, smaaklike plante eerste vreet! Keer eerder terug na die normale weidingstelsel sodra die veld herstel het. As daar nie ’n goeie weidingstelsel op die plaas in plek is nie, is dit nóú die tyd om met een te begin (en nié tydens die droogte nie).
  • Ongewenste indringerbosse gaan ook die gunstige toestande gebruik om te vermeerder. Wees bedag hierop. Begin so gou as moontlik met indringerplantbeheer nadat hulle ontkiem en gevestig het. Dit is makliker en goedkoper om die jong plante te beheer.

Heropbou van die veestapel

Boere wroeg telkens met die vraag of die kudde uit eie teling opgebou moet word en/of deur die inkoop van nuwe diere. Daar is baie faktore wat die antwoord op hierdie stokoue vraagstuk bepaal. Die roete wat gevolg gaan word, sal hoofsaaklik afhang van die effek wat dit op kontantvloei gaan hê en die tempo waarteen die veld herstel.

Die belangrikste faktore wat tydens die beplanning van hierdie deel van die omdraaistrategie in ag geneem moet word, sluit in:

  • Die getal en ouderdom van die diere wat in die kernteelkudde oor is ná die droogte, asook die kondisie van hierdie diere.
  • Die aankoopprys van teeldiere.
  • Die beskikbaarheid van diere wat tydens die droogte na ander plase verskuif is. Hou altyd in gedagte dat ingekoopte diere en diere wat verskuif is, ’n biosekuriteitsrisiko inhou.
  • Die beskikbaarheid van die kapitaal van die diere wat tydens die droogte verkoop is en elders belê is. Hou ook in gedagte dat die likwidasie van hierdie kapitaal moontlike inkomstebelasting-implikasies kan hê.

Die tempo waarteen ’n kudde opgebou kan word, is direk gekorreleer met die reproduksietempo daarvan, ongeag of die vee aangekoop word en of die boer sy eie kudde se aanwas vir kuddeherstel gebruik. Die omdraaistrategie moet dus fokus op maksimum reproduksietempo en presisie-reproduksiebestuur. Dit sluit die presisiebestuur van die kudde, voeding en gesondheid in.

Finansiële herstel

Die belangrikste riglyne wat gevolg moet word by die opstel van dié gedeelte van die omdraaistrategie, is die volgende:

  • Maak eerstens seker of die besigheid solvent is.
  • Indien wel, bepaal hoe die terugbetaalvermoë van die boerdery lyk. ’n Eenvoudige boeresom is om al die plaas se finansiële verpligtinge (bedryfskoste, skuldvereffening en trekkings) deur die aantal teelooie te deel. Hierdie syfer sal wys of die teelkudde in staat is om die bedryfskoste, skuldverpligtinge en trekkings te kan diens. Byvoorbeeld, ’n las van R2 500 per ooi per jaar is nie haalbaar nie.
  • As dit blyk dat die kudde nie die plaas se verpligtinge sal kan diens nie, bepaal of daar iewers eie kapitaal is wat gebruik kan word om die verpligtinge tot ’n aanvaarbare vlak te verlaag, byvoorbeeld ’n strandhuis wat verkoop kan word.
  • Ontwikkel ’n reeks van herstel-scenario’s deur die gebruik van begrotings- en finansieringsmodelle. Die beplanningshorison van die begrotings moet breed genoeg wees om die verloop van die herstelproses duidelik uit te wys. Stel dan ’n volledige besigheidsplan saam.
  • Gaan sien die bankbestuurder met hierdie besigheidsplan. Soms het bankbestuurders nie veel vertroue in boere se besigheidsplanne nie – veral nie as ’n boer in die verlede nie by sy besigheidsplan gehou het nie. As dit die geval is, sluit ’n onderneming in om by die besigheidsplan te hou ten einde vertroue by die bankbestuurder te skep.

Monitering van die herstelplan

Selfs die beste planne kan skeefloop. Daarom is dit nodig om die verloop van die omdraaistrategie te monitor en tydige aanpassings te maak. Hiervoor gaan die boer waarskynlik ’n onafhanklike raadgewer benodig wat probleme vinnig kan identifiseer, selfs voordat dit opkom. – dr Louis du Pisani, Veeplaas

Gedeeltes van hierdie artikel is geneem uit die boek Slim droogtebestuur vir veeboere. Vir meer inligting, kontak dr Louis du Pisani by epos ldupisani@gmail.com.