Estimated reading time: 4 minutes

Suid-Afrika se vrugtebedryf oorheers landbou-uitvoer. Sitrus, tafeldruiwe en vlesige vrugte soos appels en pere het in 2020 meer as R40 miljard tot ons uitvoerinkomste bygedra. Maar met meer as 50 gewasvariëteite in Suid-Afrika wat op die bestaan en werk van die heuningby staatmaak, is die oorlewing van dié belangrike bestuiwer en die winsgewendheid van ons vrugtebedryf nou verweef.

Byebevolkings daal om verskeie redes, insluitend plaagdoders, droogte, habitatvernietiging, voedseltekorte, lugbesoedeling en aardverwarming. Baie van dié oorsake is onderling verwant en gevolglik skiet die bestuiwingsvereistes van ons landboubedryf ver tekort – veral tuinbou, wat swaar leun op bestuiwing deur heuningbye.

Dat dié kwessie getakel word, is veral van belang vir tuinbougewasse, wat onlangs sterk groei ervaar het. Sagtesitrus se uitvoervolumes het van 2011 tot 2020 met 257% gegroei. Suurlemoene en lemmetjies het met 180% oor dieselfde tydperk gegroei.

Uitvoer is die primêre drywer van die groei in tuinbou, wat Suid-Afrika se landbou-uitvoer oorheers, en die nuutste syfers van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid voorspel groei van meer as 100% in makadamias, avokado’s en lemoene teen 2030. Hiermee saam raak kleinhandelaars en verbruikers in baie van ons oorsese markte toenemend bewus van bewarings- en omgewingsboerderypraktyke. Die belangrikheid daarvan om ’n oplossing vir dalende byebevolkings te vind, is duidelik.

’n Hupstoot vir bye én landbougemeenskappe

Vir nou, met te min bye om die gewasse te bestuif wat nodig is om ons ontluikende bevolking te voed, bestee die gemiddelde kommersiële vrugteplaas tydens bestuiwingstyd tussen R700 en R1 100 per byekorf om dié belangrike bestuiwers te huur. Hoe sou dinge lyk indien van dié geld bestee is aan die aanplant van inheemse plantegroei om biodiversiteitsbewaringsgebiede uit te brei, voedingsterreine te vergroot en habitatverlies te verminder, terwyl produksiekoste verlaag word?

Nedbank het daarom verlede jaar ’n vennootskap met The Bee Effect en Greenpop se Forests for Life deur die Boland Bome-vir-bye-program gesluit, om by te dra tot die aanplant van 36 000 by-vriendelike bome teen 2025. Die projek het ten doel om ekosisteme en vervalle inheemse woude in die Wes- en Oos-Kaap te herstel, om klimaatsverandering se invloed te verklein, ons waterbronne te ondersteun en habitatte vir bye en ander gebruikers daarvan te beskerm.

Die Nedbank Green Trust werk nou saam met die Wêreld Natuurlewefonds (WWF) en Living Lands om fynbos vir heuningbyweiding en noodsaaklike habitat vir plaaslike diere en insekte te herstel, veral in die Langkloof-streek van die Oos-Kaap, ’n belangrike landbougebied wat vir appel- en peerproduksie bekend is.

Dié inisiatief kan ook help om ander inkomstebronne vir produsente in die omgewing te skep. Dit sluit in heuningbosproduksie vir uitvoer, plaaslike mikro-ondernemings wat verskeie heuningprodukte bemark en geleenthede in ekotoerisme wat help om inkomste in landbougemeenskappe te diversifiseer. Die ekonomiese voordele hiervan kan nie geïgnoreer word nie. In 2016 het byeboerdery- en heuningbyprodukte en -dienste byna R16 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie, sowel as 180 000 werkgeleenthede, bygedra.

Heuningproduksie in Suid-Afrika

In die afgelope dekade het plaaslike heuningproduksie met meer as 50% gedaal, terwyl die invoer van heuning met tot 1 000% toegeneem het. Projekte soos dié kan help om opnuut in die plaaslike heuningbybedryf te belê. Sodoende hoef ons minder in te voer, is meer bestuiwing moontlik en vind broodnodige plaaslike ekonomiese ontwikkeling plaas.

Afgesien van dié voordele, bly die feit staan dat mense afhanklik van plante is. Op hulle beurt is plante afhanklik van bestuiwers, en ’n balans moet gehandhaaf word om lewe op aarde te onderhou.

Tans is daar geen standaard of erkenning vir by-vriendelike boerderypraktyke in Suid-Afrika nie. Gelukkig het talle produsente hulle reeds daartoe verbind om minder chemikalieë te gebruik en gesonde volhoubaarheidsbeginsels op hulle plase toe te pas.

Verantwoordelike, by-vriendelike boerderypraktyke

Beste praktyke wat grondeienaars toepas – onder meer in die landbousektor – bied ’n gunstige habitat vir bye, wat goeie bestuiwing fasiliteer en op sy beurt beter oesopbrengste en gehalte beteken. Beste praktyke sluit verantwoordelike en sensitiewe gebruik van plaagdoders in, veral tydens die blom- of bestuiwingstydperk, en die opleiding van plaaswerkers om dieselfde te doen.

Dit behels ook die voorsiening van voeding vir heuningbye, deur die herstel van natuurlike plantegroei en deur gewasse soos kanola, sonneblomme en lusern by wisselbousiklusse in te sluit. Byeboere moet toegang tot grond hê waar korwe veilig is en nie verniel of geplunder kan word nie. Die plant van ongelyste bloekom- en ander by-vriendelike bome op ongebruikte plaasgrond, kan ook ’n groot bydrae maak. – Daneel Rossouw, funksionele hoof van landbou by Nedbank se Verhoudingskanale