Anders as oppervlakwater, is grondwater onsigbaar en dit is juis dié eienskap wat grondwater so geweldig kwesbaar maak in ons huidige eeu. Buiten besoedeling wat grondwater bedreig, is die volhoubaarheid van ons grondwaterbronne (akwifere) direk afhanklik van hoofsaaklik twee aspekte in verhouding tot mekaar: volume aanvulling en volume onttrekking.

Waar kom grondwater vandaan?

Het grondwater ontstaan weens reënwater wat oor eeue heen afgesak het na ondergrondse akwifere? Of kom dit vanaf reën wat in die laaste paar jaar geval het? Beide is waar, maar omdat ons tradisioneel nog altyd vlak gate geboor het (<150m) is laasgenoemde eerder vandag op ons van toepassing.

Ons boere is gewoond daaraan dat hul boorgate buite die reënseisoen ’n ‘swakker’ lewering gee en ‘sterker’ is nadat goeie reëns geval het. Boere wat boorgate naby riviere gesink het, is ook baie bewus van die feit dat die gate swakker is wanneer die rivier droog is of ’n lae vloei het. Hulle weet dus dat die oppervlakwater in die rivier die grondwater tot ’n mindere of meerdere mate aanvul.

Omdat boere hul boorgate en oppervlakwater so goed verstaan, weet hulle wanneer om minder grondwater te pomp ten einde die bron te beskerm.

Druk weens bevolkingsgroei

Boere wat aangrensend tot dorpe of stede woon, is deeglik bewus dat die aanvraag na water, en in besonder grondwater, eksponensieel besig is om te styg, omrede die bevolkingsgroei toeneem en inwoners van dorpe en stede geregtig is op basiese water en sanitasie. In terme van sanitasie sluit dit spoeltoilette in, wat die druk op watervoorsiening geweldig laat styg.

Dorpe brei uit en aanliggende landbougrond word opgekoop, in baie gevalle bloot vir die grondwater wat op die plase teenwoordig is. Daar blyk eenvoudig net nie genoeg water te wees om ons huidige bevolkingsgroei te versadig nie. Dit is ’n probleem wat op regeringsvlak aangespreek moet word, maar ook op die vlak van die gebruiker en die watervoorsieningsowerhede.

Klimaatsverandering

Daar is egter ’n groter en meer dringende probleem, naamlik klimaatsverandering. Die gevolge van klimaatsverandering neem verskeie vorme aan, onder andere droogte, donderstorms, vloede, sterk winde en uiterste temperature. Die aanvulling vanaf reënwater tot grondwater is egter grootliks afhanklik van langdurige, sagte en gematigde reënval, lang tydperke van bewolktheid en vol, stadigvloeiende riviere.

Droogtes veroorsaak dat natuurlike plantegroei doodgaan en wanneer daar dan stortvloede voorkom, versnel die afloop van reënwater sodat dit nie kans kry om in die grond in te sypel nie. As gevolg van die afname gedurende tydperke waartydens reënwater die grondwater kan aanvul, is die toevoeging tot grondwater aansienlik minder. Weens toenemende vloede en donderstorms vloei riviere ook teen hoër snelhede en vir korter tye.

Al hierdie faktore, tesame met die groeiende aanvraag na grondwater en die gebrek aan kennis en korrekte grondwaterbestuur, plaas toenemende druk op die langtermynbeskikbaarheid van grondwater.

Moontlike oplossings

Wat staan grondeienaars en gebruikers dan te doen? Moet ons meer damme bou om vloedwater op te vang, moet ons meer van reënwater (bv. reënwatertenks) gebruik maak, of moet ons dieper boor vir grondwater?

Die antwoorde lê in dié en soortgelyke benaderings. Ons sal moet kyk na maniere om beskikbare reënwaterafloop op te vang, stormwater in dorpe en stede op te vang en gryswater te hergebruik. Ons sal beter tegnieke moet navors om seewater te ontsout. Watergebruikers op alle vlakke moet eenvoudig verstaan dat water skaarser en duurder word, en dat maatreëls vir waterbesparing die norm moet wees en nie net tydens droogtes toegepas moet word nie.

Wat dieper boorgate betref, moet die volgende in gedagte gehou word:

  • Dieper boorgate is heelwat duurder as vlakker gate. Die bedryfskoste is ook baie hoër.
  • Nie enige boorkontrakteur kan diep gate (>200m) suksesvol boor nie.
  • Die kans dat goeie gehalte grondwater deur swak gehalte grondwater besoedel kan word, is groot.
  • Dieper akwifere word nie in ons leeftyd weer aangevul nie.

Wat wateropsporing betref is daar slegs ’n paar geofisiese tegnieke wat dieper as 200m kan ‘kyk’. Moenie geflous word deur ‘nuwe’, goedkoop tegnieke of apparate nie; doen eers jou huiswerk of raadpleeg ’n geohidroloog.

Onkunde is jou vyand

Daar word van die watergebruiker, veral die grondwatergebruiker, verwag om al die aspekte wat die aanvulling asook die besoedeling van grondwater beïnvloed, te verstaan. Onkundige boor en gebruik van grondwater, tesame met die negatiewe impak van klimaatsverandering, sal ons almal benadeel deur ons beursies leeg te maak en ons krane te laat opdroog.

Vir meer inligting, skakel Gert Nel by 083 281 0056. – Gert Nel, geohidroloog, SRK Consulting