Mynbou en landbou is twee bedrywe wat dikwels loodreg teenoor mekaar staan. Politici gebruik graag die mynbou-troefkaart as hulle beloftes oor ’n beter lewe vir alle Suid-Afrikaners moet maak, want nuwe myne beteken meer geld, werksgeleenthede, die ontwikkeling van plattelandse gemeenskappe, vooruitgang en kitsrykdom.

Read it in English.

Die feit dat myne binne ’n kort tyd uitgeput kan wees, mynboutegnologie so verander het dat daar nie meer so baie hande by ’n myn nodig is nie en voedselsekerheid in die gedrang kan kom omdat myne landbougrond oorneem, word verswyg. Aan die ander kant word mense opgesweep om te glo dat boere te veel grond het, hulle nie ondergrondse regte hoef te kry nie en maar kan terugstaan as iemand mynregte op hul plase wil hê.

Janse Rabie, beleidshoof vir natuurlike hulpbronne by Agri SA, sê Suid-Afrika het, soos enige ander land, ’n beperkte hoeveelheid landbougrond. “Met die uitdeel van mynregte en -lisensies word die spasie waarop volstoom geboer kan word, al hoe kleiner. Die kompetisie rondom skoon water word ook al strawwer en in die meeste gevalle trek die boer aan die kortste end. Dit laat ’n mens wonder of daar plek is vir landbou en mynbou op dieselfde grond.”

Voldoende wetgewing

Janse sê daar is genoeg wetgewing en regulasies in plek om grondeienaars, die omgewing, landbou, die gemeenskap én mynmaatskappye te beskerm. “Elke voornemende myner moet eers aan ’n magdom voorvereistes voldoen voordat hy toegelaat word om te begin myn en boonop word alle partye betrek voordat ’n kontrak gesluit word.”

Hy verduidelik dat verskeie staatsdepartemente aanspraak maak op goeie regulering van mynbou om die omgewing te beskerm. Dit sluit in die Departement van Minerale Hulpbronne (DMR), die Departement van Water en Sanitasie, die Departement van Omgewingsake en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, wat almal insette lewer voordat toestemming vir mynbou gegee word.

Veral die DMR dring baie sterk daarop aan dat grond waar gemyn is, in dieselfde of in ’n beter toestand aan die grondeienaar teruggegee moet word as die mynwerk afgehandel is. Die enigste manier om dit te doen, is deur wetgewing.

Impakstudies en rehabilitasie

Hy sê mynmaatskappye is verplig om impakstudies te doen en aan te dui hoe hulle die grond gaan rehabiliteer. Dit is dan die boer en DMR se plig om toe te sien dat die maatskappy sy woord hou.

“Die mynmaatskappy moet die DMR inlig oor die uitwerking wat die mynbou-aktiwiteite op die omgewing gaan hê, asook wat die langtermyngevolge gaan wees en watter stappe hulle gaan volg om die omgewing te beskerm.

“Die omgewingsimpakstudie moet ’n omgewingsbestuursplan insluit, waarin spesifieke stappe vervat word wat uitgevoer gaan word om die omgewing tydens die konstruksie-, bedryfs- en sluitingsfases te beskerm en te rehabiliteer,” verduidelik hy.

Sommige mynmaatskappye doen baie moeite om die grond weer te rehabiliteer. Een van die groot voordele wat boere het, is ontbossing op hul weiveld. In hierdie geval word die swarthaak, wat ’n indringer is, uitgehaal en die grond word herstel soos wat die mynproses vorder.

Ongerehabiliteerde myne

As daar egter na die hoeveelheid ongerehabiliteerde myne in die land gekyk word, sit ’n mens ’n vraagteken by die stelling dat toesig gehou word oor die rehabilitasie van die grond. Sommige bronne beweer dat daar sowat 3 000 ongerehabiliteerde myne in die land is. Ander sê egter heelwat meer myne is nie gerehabiliteer nie en op dié manier gaan duisende hektaar landbougrond verlore, ten spyte van die rehabilitasiefonds wat elke mynmaatskappy verplig is om by die DMR te skep.

’n Boer in die Prieska-omgewing op wie se plaas vir diamante gedelf word, Charl de Villiers, sê mynmaatskappye moet ’n fonds van R5 tot R10 miljoen by die DMR skep wat vir rehabilitasie aangewend kan word as die maatskappy versuim om dit te doen.

Charl de Villiers van Prieska het ’n enorme pekanneutplantasie langs die Oranjerivier en hy sê die mynboubedrywighede op sy plaas bedreig dié plantasie.

Volgens Charl kos dit egter tot R40 miljoen om die grond te rehabiliteer en baie mynmaatskappye verloor eerder die fonds voordat hulle dié geld moet uithaal. “So plaas hulle dus die onus op die DMR. Baie plase verloor hul waarde as die myne hul toerusting oppak en die rehabilitasieproses word dan die grondeienaar se probleem.

“ ’n Myn maak oor die kort termyn vinnig geld, maar die grond is vir honderde jare daarna niks werd nie. Indien die grond egter net vir landbou aangewend word, kan ons vir baie geslagte hierna nog wins daaruit haal,” is sy mening.

Geweldige impak

Mynbou is ’n realiteit in Suid-Afrika en dit kan nie weggewens word nie. Die impak wat ’n myn op ’n plaas of gemeenskap kan hê, is egter so groot dat dit ook nie misgekyk mag word nie.

Janse sê die impak van mynbou op die boerderygemeenskap kan geweldig groot wees. “Selfs al is die myn op die buurplaas, kan dit ook ’n groot impak op jou plaas hê.

“Sommige probleemareas is die impak op die gehalte en hoeveelheid van water, lugbesoedeling, die boer se infrastruktuur, besoedeling van die grond, visuele impak, geraasbesoedeling, uitwerking op biodiversiteit, erfenisbronne soos familiegrafte op die plaas, grondvibrasie en die sosio-ekonomiese impak, soos ’n toename in werkers wat soms met verhoogde misdaad gepaardgaan.”

Charl vertel dat baie van hierdie probleme ook aan sy deur kom klop het sedert daar op sy grond vir diamante gedelf word. “Die stof is soms só erg, dat dit die weiding op my skaapplaas beïnvloed. Dit hou ook ’n bedreiging in vir my pekanneutbome, wat reeds meer as tien jaar staan en nou in volle oes moet wees.

“Een van my bekommernisse is dat baie van die klippe en grond wat klaar gedelf is, in die waterbane op die plaas gegooi word. Dit beteken dat dié grond op pad is na die Oranjerivier, wat oor my plaas loop. Dit lei tot die ontwikkeling van erosieslote, wat verdere skade kan aanrig.”

Volgens wet moet die gruis wat uitgehaal word weer teruggesit word. In hierdie geval word die gruis in die waterbane gestort, vanwaar dit met ’n bietjie reën na die Oranjerivier sal afskuif.
Ander kant van die munt

’n Saak het egter altyd twee kante. Wanneer ’n mens met mynbestuurders en -eienaars gesels, kom jy agter daar is myneienaars wat baie meer as hul kant bring om grond te rehabiliteer.

Hennie van Wyk, eienaar van ’n diamantmyn in die Prieska-omgewing, beskou die diamante én die natuur as ’n geskenk van God. Behalwe dat hy deur die wet verplig word om die grond te rehabiliteer, glo hy ook dit is ’n mens se plig om ’n plek beter agter te laat as wat jy dit gekry het.

Volgens hom kla die boere vinnig oor mynbou-aktiwiteite op hul plase, maar elk boer word enorme bedrae geld as kompensasie betaal. “Ek glo dit is ook die grondeienaar se plig om met die rehabilitasie van die grond te help. Daar is plek vir beide die myner en boer op dieselfde stuk grond, maar dan moet elkeen sy kant van die ooreenkoms nakom en volgens die wet handel.”

Deeglike proses

Tydens ’n besoek aan sy myn het sy bestuurder, Marius Swanepoel, verduidelik dat dit eintlik baie maklik is om die grond te rehabiliteer.

“Ons roep eerstens die hulp van ’n geoloog in, sodat ons ’n aanduiding kan kry van waar om te myn. Die gate wat ons ontgin, is gewoonlik sowat 100m x 80m groot en die grond word in lae uitgehaal. Ons haal eers die bogrond af en sit dit eenkant. Daarna word die kalklae uitgehaal en fyngemaak voordat ons by die werklike diamantgruis uitkom.

Hierdie myn het die bogrond uitgehaal en in ’n hoop op die rand van die gat geskuif. Die kalklaag onder die bogrond word fyner gemaak en uitgehaal voordat hulle by die diamantgruis kom. Sodra een gat klaar gemyn is, word die gruis en kalk weer teruggesit in die gat en die bogrond word weer versprei.

“Sodra ons ’n gat klaar bewerk het, begin ons met die volgende gat. Die gruis van die vorige gat kom eerste terug in die gat, daarna die kalklaag wat fyngemaak en gebreek is en dan die bogrond. Die rehabilitasie is dus deel van ons daaglikse bedryf en dit kos ons die minimum om die landbougrond te verbeter. Omdat die gruis en die kalklae nie meer so gekompakteer is nie, is hierdie gedeelte van die plaas dan baie meer vrugbaar.

“Boonop is die gebied ook ontbos van indringerbosse. Wanneer ons ’n stuk grond klaar bewerk en terug gepak het soos dit hoort, saai ons gewoonlik ’n goeie mengsel grassaad wat in die omgewing sal aard. Binne ’n jaar of twee, afhangende van die reënval, het die boer weer ’n lieflike stuk weiding.”

Bedreigde plantspesies

Marius vertel ook dat hulle eintlik baie meer doen as om net die grond te rehabiliteer. As deel van hul aansoeke om ’n mynlisensie moet hulle ook ’n botaniese studie van die stuk grond waar gemyn gaan word, laat doen en op dié manier word alle bedreigde plantspesies uitgewys. In die gebied waar hulle tans myn, is die witgatboom, kokerboom en noorsdoring as bedreigde plantspesies uitgewys, en hulle doen moeite om hierdie spesies behoue te laat bly.

Mynmaatskappye moet onder meer ’n botaniese studie op die plaas doen om bedreigde plantspesies uit te wys voordat hulle begin myn. In hierdie geval word die witgatboom as ’n bedreigde spesie gesien en baie moeite gedoen om dié boom te beskerm.

“Eintlik is alles wat ’n mens moet doen in die omgewingswette saamgevat en as jy net daarby hou, is dit maklik om die landbougrond te verbeter of ten minste in dieselfde toestand terug te gee. Indien jy die reëls, regulasies en wette nakom, kos dit jou minder as wat die rehabilitasiefonds jou sou kos.”

Hy verduidelik dat elke myn ’n plan oor die watergebruik moet opstel, waarop aangedui moet word hoe hy die minimum water gaan gebruik en hoe hy die stelsel kan verbeter. Heelwat water word by die diamantmyn gebruik, maar hulle het groot slikdamme gebou wat die water deur sand syfer sodat dit weer gebruik kan word. Boonop laat die slikdamme baie goeie en vrugbare grond agter.

“Die slotsom is dat daar op dieselfde stuk grond plek is vir beide die mynbouers en landbouers. Daar is ook genoeg wette en regulasies wat elke party en bowenal die natuur beskerm. Alles hang net af van of almal volgens die wet optree,” sê hy.

Vir meer inligting, skakel Janse Rabie by 076 451 9601 en Charl de Villiers by 082 906 7201. Koos du Pisanie, Veeplaas