Die invloed van kampuitleg op dierevoeding en produksie

692
Wanneer daar ’n tekort aan voeding in ’n reservaat is, kan lusern, verskillende grashooie en oesreste gebruik word.

Die jaarlikse migrasie van witbaard-wildebeeste is ’n goeie voorbeeld van hoe die natuur ’n gesonde, produktiewe dier en ’n gesonde ekosisteem verseker.

Die groot migrasie vind in die bewaringsgebiede rondom die Masai Mara Nasionale Reservaat in Kenia en Tanzanië plaas. Sowat 1,4 tot 1,7 miljoen witbaard-wildebeeste en duisende Thomson’s gaselle, sebras en elande migreer saam op soek na beter weiding.

Die wildebees-migrasie illustreer hoe die gehalte en beskikbaarheid van plantvoedingstowwe die diere se voedselkeuse beïnvloed. Die diere sal na gebiede met geskikte weiding en water migreer wanneer min eetbare gras en oop water beskikbaar is.

Verskillende vereistes

Die groot kudde diere wat op die welbekende migrasieroete vertrek, is dus nie net ’n reuse grasvreetmasjien wat alle beskikbare plantegroei opvreet nie, maar ’n kudde diere met verskillende voedingsvereistes wat saambeweeg op soek na geskikte voedselbronne om gesond te bly, te groei en kalwers te produseer. Dit is belangrik om kennis te neem dat alle jong, groeiende diere, insluitend lakterende koeie, meer proteïen, energie en ander voedingstowwe as ’n droë koei of bul nodig het.

Die diere vreet nie net die beskikbare gras soos wat hulle op die migrasieroete beweeg nie. Hulle verskaf ook indirek voedingstofryke humus, wat van die ontbinding van vertrapte gras, ontlasting en urine wat hulle agterlaat afkomstig is, aan die plante.

Die kudde sal oor die algemeen altyd na ’n spesifieke gebied migreer ná goeie reën, waar hulle die vars hergroei, wat ryk aan voedingstowwe is, vreet. Wanneer dit nie reën nie, verlaag die gehalte van die weiding, wat diere dwing om na gebiede met beter gehalte grasvoeding te beweeg. Die diere sal eers die volgende jaar na dié gebied terugkeer, wat die grasveld genoeg tyd gee om te rus, saad te versprei en te groei.

Die uitwerking van kampe

Indien dit nie korrek bestuur word nie, kan die bekamping van diere tot kleiner gebiede ’n negatiewe uitwerking op die ekosisteem en diere hê. Terwyl die vorige afdeling uitgewys het hoe voedsame groen voeding diereproduksie en -reproduksie bevoordeel en hoe ’n behoorlike wagtydperk gras in staat stel om weer te groei, kyk ons nou na moontlike probleme – en metodes om dit te verlig, verminder en te voorkom – as diere gedwing word om die hele jaar in een gebied te bly.

Faktore wat in gedagte gehou moet word wanneer diere tot kleiner gebiede ingeperk word:

  • Diere kan nie meer hul natuurlike migrasieroetes volg om voer van ’n uitstaande gehalte en hoeveelheid te vind soos wat die seisoene verander nie.
  • Die oorbenutting van beter gehalte gras/voer vind in die toegekampte gebied plaas, wat tot negatiewe grasveld-opvolging en gevolglik die vestiging van swakker gehalte voer in die gebied lei.
  • Oorbenutte gebiede kan tot kaal kolle lei, wat geen aktief-groeiende plante of wortels het om te keer dat die bogrond tot slote en dongas verweer nie.

Bewaringsgebiede

Wildreservate of bewaringsgebiede word oor die algemeen geklassifiseer as gebiede wat groter as die gemiddelde wildplaas is, waar min of geen ekstra ruvoer of voer verskaf word nie. Hierdie gebiede is nie groot genoeg om grootskaalse migrasie na gebiede met groener weiding te ondersteun nie, wat daartoe lei dat diere in die droë maande kondisie verloor.

Dit kan deur beheerde brande en/of snyprogramme twee tot drie maande ná die laaste reën beheer word. Die toe- en oopmaak van waterpunte kan ook help om die diere na gebiede te dwing waar hulle nie normaalweg wei nie, selfs in verskillende seisoene.

Die gebrande of gesnyde gras gebruik die vog wat in die grond ingetrap is vir hergroei, wat op sy beurt aan die diere gras verskaf wat hoër in proteïen en ander noodsaaklike minerale vir uitstaande diereproduksie is. Verder dwing dit diere om die ander gebiede te verlaat, wat die gras in dié gebiede ’n kans gee om te rus.

Dit is noodsaaklik om te weet watter aanvullings om vir diere te voer as die voer van swak gehalte is, selfs as daar ’n oorvloed daarvan is. Die volgende kan in droogtetye of wanneer die voer wat natuurlik voorkom laag in proteïen en ander noodsaaklike voedingstowwe is, gebruik word:

  • As ’n proteïenbron: Proteïenblokke en/of lusern en soutmineraallekke vir minerale.
  • As ’n bron van ruvoer in droogtetye: Lusern, verskillende grashooie en oesreste.

Voeding van diere

Wanneer daar meer diere as voeding in ’n reservaat is – soos onder normale winter- of droëseisoentoestande met ’n tekort aan natuurlike voer – kan lusern, verskillende grashooie en oesreste gebruik word om die diere se pense vol te maak, terwyl lusernhooi en proteïenblokke as ’n proteïenbron kan dien en soutmineraallekke minerale kan verskaf.

Dit is belangrik om die voerplekke van tyd tot tyd te verskuif, aangesien dit oorbenutting en die vertrapping van ’n spesifieke gebied voorkom. As dit nie moontlik is nie, skep ’n spesifieke voerplek wat gereeld skoongemaak word.

Gekorrelde rantsoene word nie onder sulke omstandighede aanbeveel nie. Indien korrels die enigste manier is om diere van die nodige voedingstowwe te voorsien, voer hulle in bakke of op enige klipperige plek, waar kontak met die grond of stof voorkom word. Verskaf slegs elke twee tot drie dae korrels, aangesien dit sal voorkom dat diere hulself ooreet en siektes soos rumenitis en asidose opdoen.

’n Proteïenlek wat sout as ’n inname-inhibeerder bevat, is meer geskik vir diere wat in sulke gebiede gehuisves word.

Maak ’n plaas winsgewend

Dit is vir die meeste wildplaaseienaars wie se fokus die teel van diere is om aan hul eie of ander jagplase te voorsien, belangrik om die natuur so ver as moontlik na te boots.

Dié tipe plase verwag elke jaar ’n kalf of lam van elke vroulike dier. Net so is veeboerdery se hoofdoel om elke jaar ’n kalf of lam te produseer. Veeboere boots die natuurlike migrasie-patrone al vir die grootste deel van die laaste eeu op hul plase na. Wisselweiding word gebruik om beeste en/of skape en ander vee van een kamp na die ander te skuif, wat aan die gras ’n kans gee om te rus, saad te versprei en te hergroei.

Die langtermyn-oorlewing van ’n wild- of veeboer is van die uiterste belang. Ruvoer is normaalweg die duurste deel van voer – nie omdat dit duur is nie, maar omdat dit die grootste deel van ’n dier se dieet uitmaak. Die meeste aanvullings verskaf minder as ’n derde van ’n dier se totale daaglikse inname. Die oorblywende twee derdes of meer is die voer wat op die plaas beskikbaar is. Indien dit nie beskikbaar is nie, moet dit gekoop word.

Veeboerdery is wêreldwyd suksesvol, grootliks omdat boere verstaan hoeveel weiding (drakrag) hulle het en besef dat hulle nooit dié getal moet oorskry nie. Boere laat dus nie hul plase oorbewei met meer diere as waarvoor die beskikbare gras/voer oor ’n vasgestelde tydperk voeding kan verskaf nie.

Meer eetbare gras

Wanneer drie of vier kampe of meer per kudde of groep diere geïnkorporeer word, sal dit die groei, hergroei, verspreiding van saad en rypwording van gras ondersteun. Een van die belangrikste voordele van dié stelsel is dat geruste gras tot die groei van meer eetbare gras lei, wat die weidingskapasiteit en die plaas se vermoë om meer diere in ’n spesifieke gebied aan te hou, verbeter. Dit is al op baie wildplase in Suid-Afrika gedoen en sal hopelik binne die volgende paar jaar die norm word.

Onthou dat selfs wanneer die volume van gras verbeter het, dit nie noodwendig van ’n geskikte gehalte is om elke jaar ’n kalf te produseer nie. Die konsentrasie proteïen en ander voedingstowwe in natuurlike voer daal wanneer die droë seisoen aanbreek. Wildkorrels of selfgemengde voer kan verskaf word om die tekort aan voedingstowwe in die beskikbare voer aan te vul.

Wanneer in die groen maande genoeg beskikbare weiding is, sal die diere slegs ekstra minerale benodig, wat met die gebruik van soutmineraallekke verskaf kan word. Die voerplekke moet in die reënseisoen gereeld verskuif word vir weiding- en parasietbestuur.

Klein kampies, bomas en dieretuine

Klein kampies het normaalweg beperkte of geen weiding beskikbaar nie. Die vereiste voer moet daagliks aan die diere verskaf word.

Korrels, selfgemaakte voer of semi-volledige voere kan gemaak en verskaf word. Verseker dat geskikte hooi altyd as ’n bron van ruvoer beskikbaar is. Hooi wat in kampe verskaf word, moet nie op die grond geplaas word nie, maar eerder op hooirakke of in bakke wat spesifiek vir hooi bedoel is.

Skuif die voerbakke gereeld of gebruik spesiale voerplekke wat gereeld skoongemaak kan word. Ontlasting en ou voer moet verwyder word.

Vir meer inligting, skakel Craig Shepstone van Wildlife Nutrition Services by 083 305 1380 of stuur ’n epos aan craig.shepstone@gmail.com. –Craig Shepstone, Wildlife Nutrition Services