Die landbouprentjie in Suid-Afrika is nie net donker nie – trouens, as die vennootskapsinisiatiewe wat tans aan die gang is tussen die regering en georganiseerde landbou werk, kan die prentjie baie rooskleurig lyk. Dit is die boodskap van dr John Purchase, uitvoerende hoof van die landbou-besigheidskamer Agbiz, wat een van die gassprekers by die Harrismith Distrikslandbou-unie se jaareindfunksie was.

Dr Purchase sê bestedingspatrone in die wêreld is besig om drasties te verander as gevolg van die ekonomiese oplewing van veral Oosterse lande soos China en Indië. “Dit geld ook vir voedselprodukte. Hierdie verhoogde vraag skep enorme bemarkingsgeleenthede aan lande wat netto uitvoerders van voedselprodukte is.

“Hierdie verandering in die wêreldorde het natuurlik ’n groot invloed op die magsbalans in die wêreld, en baie van die Verenigde State van Amerika se optrede kan teen die agtergrond van hierdie verskuiwende magsbalans gesien word.”

Wat die plaaslike politieke situasie betref, het hy gesê, wag daar ’n onstuimige tydjie op die publiek tot met die verkiesing, waarskynlik in Meimaand. Daar sal baie politieke retoriek wees, wat duidelik onderskei moet word van die werklike ontwikkelings agter die skerms.

“Moenie op loop gaan met politieke retoriek nie. Daar gaan nogal baie hiervan wees,” was sy advies. “Ten opsigte van die landbou, steun die bestaansreg van ’n sterk landbousektor in die land baie sterk op mededingendheid en produksie om invoere die hoof te bied.

“Ons mededingendheid impliseer dat ons teen uitvoerpariteit produseer, wat drasties laer is as invoerpariteit en ’n reuse-verskil aan voedselpryse maak. Die regering besef wat ’n wonderlike bate hulle in die landbousektor het. Bekostigbaarheid is ’n sleutelbeginsel vir voedselsekuriteit.”

Hy meen ekonomiese groei is die belangrikste boodskap wat georganiseerde landbou aan die regering verkoop. Die armstes voel die agteruitgang van die ekonomie die meeste, en hulle sal slegs verligting ervaar as die ekonomie omgedraai word. Die regering koop hierop in en president Cyril Ramaphosa het aan hulle opdrag gegee om met ’n landbougroeiplan vorendag te kom om in Februarie by die Staatsrede ingesluit te word.

Hy sê mense moenie die fout maak om te dink dat almal in die ANC sosialisties is en grondonteiening sonder vergoeding wil sien nie. “Daar is baie entrepreneurs in die ANC wat dit definitief nie wil sien nie. Die voordele van eiendomsreg en die uitbreiding daarvan is dus ’n baie belangrike boodskap wat beklemtoon moet word, veral in die kommunale gebiede, dorpe en stede.

“Die boodskap van die president, nie net aan georganiseerde landbou nie, maar ook aan sy Kabinet, is dat vennootskappe tussen die staat en die privaatsektor die enigste manier is waarop die ekonomie omgedraai kan word.

“Ons het die president ook meegedeel wat ons eie vereistes is op grond waarvan ons ’n bydrae tot ekonomiese groei kan lewer. Dit sluit beleidsekerheid, samewerking met die regering en diens van die regering in.”

Dr Purchase het dit beklemtoon dat die landbousektor nie moet laer trek nie. “Moenie die toekoms van ons land in ’n ‘ons’ teenoor ‘hulle’ verander nie. Kyk eerder wie die mense is wat soos ons dink en sluit sterk vennootskappe met hulle om die land te laat werk. Daar is baie sulke mense wat ons waardes deel.” – Izak Hofmeyr, AgriOrbit