Daar word voortdurend berig dat Suid-Afrika melkprodusente verloor en melkboerderye uitverkoop. Ten spyte van die getal melkboere wat afneem, is die land se totale melkproduksie egter steeds aan die styg, wat beteken dat melkprodusente se kapasiteit al groter word en die minder melkboerderye meer produseer. Dit laat ‘n mens wonder hoe die bedryf in die toekoms gaan lyk.

Lewensvatbaarheid van melkplase

In 1998 was daar 7 077 melkboere wat sowat 2,1 miljard liter melk produseer het. Produksie het sedertdien gestyg, met sowat 3,4 miljard liter wat in 2019 deur 1 254 produsente geproduseer is. Figuur 1 wys die prysindeks van die produsenteprys van varsmelk teenoor die koste-indekse van veevoer, dieregesondheid en die gekombineerde indeks vir alle intermediêre goedere en dienste.

Figuur 1: Die prysindeks van die produsenteprys teenoor die verskeie koste-indekse. (Bron: Kortbegrip van Landboustatistiek vir Suid-Afrika, 2019)

Dit is noemenswaardig dat die koste van veevoer deurlopend vinniger styg as dié van die produsenteprys vir melk, met die prysindeks van dieregesondheidsprodukte wat ook in meeste jare ’n soortgelyke tendens toon.

Voerkoste is die grootste uitgawe en die feit dat die prys van melk nie tred hou met die koste van voer en ander insette nie, is waarskynlik deel van die rede waarom die getal melkprodusente daal en die oorblywende produsente terselfdertyd groter raak.

In die geval van skaap- en vleisbeesboerdery het die prysindekse beter tred met stygings in insetkoste gehou, wat tot gevolg het dat dié bedrywe ’n beter kans as die primêre suiwelbedryf staan om winsgewend te produseer.

Tendense in die melkbedryf

’n Dokument wat Melk Suid-Afrika vroeër vanjaar beskikbaar gestel het, gee ‘n goeie aanduiding van veranderinge in die melkbedryf. Melkproduksie verskuif al meer na kusgebiede, met die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal wat vandag ’n groter deel van die land se melk produseer as tien jaar gelede. Dié drie provinsies het in 2019 saam 87,5% van die land se melk geproduseer, teenoor 71,9% in 2009 (Tabel 1).

Tabel 1: Melkproduksie in Suid-Afrika oor die afgelope tien jaar. (Bron: Lacto Data, 2020)

 Melkproduksieverspreiding (%)Getal koeie per kuddeGetal melkprodusente
ProvinsieSeptember 2009Oktober 2019Gemiddeld vir 2019Januarie 2020
Wes-Kaap27,131,3345379
Oos-Kaap2528,1814206
Noord-Kaap0,40344
KwaZulu-Natal19,828,1727208
Vrystaat145,9327145
Noordwes5,32,3170100
Gauteng3,4224965
Mpumalanga4,51,835550
Limpopo0,30,51437
Totaal1001004591 164

Die ander provinsies se bydrae tot algehele melkproduksie het almal oor dieselfde tydperk gedaal. Een rede vir die verskuiwing van melkproduksie is dat produsente verkies om weidingsgebaseerde produksiestelsels eerder as volvoerrantsoene te gebruik, ten einde melk goedkoper te produseer. Dit lei egter daartoe dat melkprodusente verder van stedelike gebiede beweeg, wat beteken dat hul produk verder vervoer moet word om die mark te bereik.

Kuddegrootte

Die getal melkboere het aanhou daal tussen Januarie 2019 en Januarie 2020, waartydens die aantal op 1 164 bereken is. Die gemiddelde grootte van melkkuddes is in 2019 op 459 bereken, met die grootste kuddes wat in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal aangehou word.

Die gemiddelde melkproduksie per koei per dag het oor die jare heen verbeter en is in 2019 op 17,97ℓ bereken, met 98% van die totale produksie wat aan die mark gelewer is. Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se basislynverslag vir 2020, word daar verwag dat melkproduksie oor die volgende dekade met byna 20% gaan styg.

Die International Farm Comparison Network (IFCN) versamel, verwerk en vergelyk data van tipiese melkplase in 100 lande regoor die wêreld. Volgens dié vergelyking word Suid-Afrika in die laer produksiekostegroep geplaas. Die gemiddelde getal koeie per kudde in Suid-Afrika is van die hoogste en vergelyk goed met dié van Nieu-Seeland (416). Kuddegetalle verskil geweldig oor die wêreld heen. Indië, wat die wêreld se grootste melkprodusent is, se gemiddelde melkkoeikudde is op twee bereken.

Sekondêre bedryf

Veranderinge word ook in Suid-Afrika se sekondêre suiwelbedryf waargeneem. Die getal melkverwerkers het oor die afgelope elf jaar met sowat 30% gedaal tot 133. Die meeste van die verwerkers is in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal geleë. Die getal melkprodusente wat hul eie produkte aan verbruikers en kleinhandelaars verkoop, het met 60% gedaal tot 68.

In die geval van skaap- en vleisbeesboerdery het die prysindekse beter tred met stygings in insetkoste gehou, wat tot gevolg het dat dié bedrywe ’n beter kans as die primêre suiwelbedryf staan om winsgewend te produseer.

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) se marktendenseverslag meld dat die gaping tussen die produsenteprys vir varsmelk en die prys van melk op die rakke van kleinhandelaars, die laaste paar jaar vergroot het. In tye waar die melkprys op produksievlak gedaal het, is dieselfde mate van daling nie in kleinhandelspryse waargeneem nie. Dit sou dan ook meebring dat produsente meer doeltreffend moes produseer om winsgewend te bly.

Wat sê die kenner?

Volgens dr Koos Coetzee, ’n landbou-ekonoom met baie ervaring in die suiwelbedryf en voormalig van die MPO, sluit van die hoofredes vir die afname in die getal melkprodusente die verswakkende ruilvoet van landbou, en meer spesifiek van suiwel, in. “Die feit dat tegnologie skaal-afhanklik is en produsente ’n sekere volume moet handhaaf om die voordele van tegnologie te benut, speel ’n rol. Verwerkers diskrimineer teen kleiner produsente en premies word vir groter volumes betaal.”

Om die grootte van ’n lewensvatbare melkkudde te bereken hang, volgens hom, van verskeie faktore af. “Dit sluit die produsent se kapitaalstruktuur, skuldlas, hoe hoog sy lewenstandaard is en ook hoe doeltreffend hy boer, in. Oor die algemeen twyfel ek of kuddes kleiner as 300 koeie onder normale omstandighede lewensvatbaar kan wees, tensy daar aan ’n nismark voorsien word,” sê hy.

Volgens dr Coetzee is van die groot risiko’s vir melkprodusente markrisiko’s soos laaggeprysde invoere, asook die feit dat produsente grootliks prysnemers is en dus op verwerkers aangewese is. Bykomend hiertoe is daar biosekuriteitsrisiko’s, verbruikersaktivisme (veral deur diereregtegroepe), nagemaakte suiwelprodukte en die vermenging van suiwel- en nie-suiwelprodukte.

Minder, maar groter

Hy is verder van mening dat die vergroting van melkprodusente se ondernemings ook in die toekoms waargeneem behoort te word. Daar is gevalle waar melkprodusente mekaar uitkoop om ‘n eenheid te vergroot. Een boerdery-onderneming kan byvoorbeeld ’n paar afsonderlike plase besit en ’n bestuurder op elke plaas aanstel. In ander gevalle smelt boerderye saam om skaalvoordele te geniet – dr Coetzee meen dat dit meer gedoen kan word.

Daar is steeds heelwat melkprodusente wat waarde tot hul produkte probeer voeg deur self hul melk en ander suiwelprodukte te bemark. Hy glo dié aksies is die moeite werd indien die mededingende voorsprong nie nét prys is nie.

Hy verwag dat daar oor tien jaar steeds sowat 1 000 melkprodusente in die land gaan wees. Sy raad aan melkprodusente om hul lewensvatbaarheid in die toekoms te verseker, is prof Eckard Kassier se leuse: “Get big or get out”, of sy persoonlike leuse: “Get big, get together or get out.”

Suid-Afrika se melkbedryf blyk steeds in ’n moeilike posisie te wees, met insetkoste wat vinniger as die produkprys styg. Dit wil ook voorkom of die melkprys op produksievlak agtergebly het teenoor die prys op die winkelrak. Dit alles behoort die tendens te ondersteun dat melkplase groter word, meer doeltreffend moet produseer en meer gebruik moet maak van weidingsgebaseerde produksiestelsels om koste laag te hou. – Dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat


Volg dié skakel om te lees oor die huidige die vooruitsigte vir die melkbedryf:

Vir meer inligting of bronverwysings, kontak die outeur by LombardWA@ufs.ac.za.