’n Trop Ile de France-kruislammers.

Doelgerigte teling en seleksie vir eienskappe wat ekonomiese voordele bied, werp vrugte af in die Ile de Franceskaapras. Die moderne Ile de France beskik oor fenotipiese eienskappe wat funksionele doeltreffendheid verseker, asook die genetiese vermoë om winsgewende slaglamproduksie te verseker.

Die Ile de France is uiters gewild in voerkrale omdat hy die vermoë het om baie vinnig gewig aan te sit. Onder normale voedingstoestande word ’n gewig van 19 tot 22kg op 42 dae, en 35 tot 46kg op 100 dae, behaal. Dit stel die slaglamprodusent in staat om reeds op 100 dae lammers te bemark. In ’n na-speen ramgroeitoets is ’n uitstekende gemiddelde daaglikse toename (GDT) van 704g behaal.

Prestasies in slaglamkompetisies

Die Ile de France lewer puik gespierde karkasse met egalige vetverspreiding sonder oormatige vet. Resultate wat in slaglamkompetisies behaal is, het die uitstaande karkas- en vleiseienskappe van die Ile de France onteenseglik bewys.

Die kampioen- en reserwekampioen Ile de Francekarkasse
by ALFA 2018.

’n Ile de France-lam is verlede jaar by ALFA 2018 in Parys as die kampioen aan die hak in die Virbac  nterras-slaglamkompetisie aangewys. Altesaam twaalf rasse het aan dié kompetisie deelgeneem.

Ile de France-lammers het ook die eerste vyf enkelkarkasplasings aan die hak verwerf in die Hoëveld TAU Voere-slaglamkompetisie. Hulle is ook as kampioengroep aan die hak aangewys. Altesaam 120 lammers van verskeie rasse is vir dié kompetisie, wat ook tydens ALFA 2018 aangebied is, ingeskryf. Een van die deelnemers se Ile de France-lammers het 41,8kg op die hoef geweeg en 21,98kg uitgeslag.

 

Nog ’n noemenswaardige prestasie is die feit dat ’n elfde en twaalfde plek deur twee Ile de France- en Meatmasterkruislammers verwerf is – ’n uitstekende bewys dat kruisteling met Ile de France-ramme die bouvorm en karkasgehalte van lammers verbeter.

Die 2017 Royal Skou-slaglamkampioen was ’n Ile de France, wat op 107 dae teen 23,3kg uitgeslag het. ’n Punt van 99,37% is behaal en die lam is vir R1 350/kg opgeveil.

Verlede jaar het Annatjie le Roux, ’n 81-jarige kommersiële teler van Vergeleë wat al sedert 1975 met Ile de Franceskape boer, ’n derde plek in die nasionale South African Meat Industry Company-slaglamkompetisie behaal met ’n punt van 98,92%.

Potensiaal met kruisteling
Die verskillende Ile de France-vleissnitte.

Basterkrag se volle potensiaal word deur kruisteling met Ile de France-skape ontsluit, aangesien dié ras in Frankryk geteel is en daar geen genetiese verwantskap is met die dubbeldoelrasse wat plaaslik ontwikkel is nie.

Francois van Wyk van die plaas Gelegenfontein in die Burgersdorp-distrik vertel dat sy pa Ile de France-ramme op sy Witdorper-tipe ooie begin gebruik het. Hierdie kruislammers presteer uitstekend op gemengde gras- en bossieveld en hy bemark telkemale lammers wat sowat 6kg swaarder as sy suiwer lammers is. Teen heersende pryse is dit ’n addisonele R183 per lam in sy sak.

Met die styging in wolpryse die afgelope jare het sterk klem op die seleksie van diere met aanvaarbare goeie wol geval. Fred Vermaak en sy dogter, Cornelia, is Dohne Merinoboere van die plaas Schoongezicht in die Memel-distrik. Hulle gebruik die afgelope sewe jaar Ile de France-ramme op hul ooie. Die lammers se lewenskragtigheid is uitstekend en eerstekruisvervangingsooie lewer ’n goeie kempvrye vag van 22 mikron. – Gert van der Linde

Vir meer inligting, skakel June Wiid van die Ile de France Skaaptelersgenootskap van Suid-Afrika by 051 410 0953 of stuur ’n epos aan idf@studbook.co.za.

 

Lees wat sê boere en verbruikers oor die Ile de France :

  • Liz Whitehead is 80 jaar oud en van Bedford. Sy het haar hele lewe op ‘n skaaplaas gebly:

“Ek eet natuurlik al my lewe lank lamsvleis, maar toe ek die eerste keer Ile de France-vleis geeët het, was dit ‘n heel nuwe ervaring. Dit was die beste lamsvleis wat ek nog geeët het. Ek is ook baie opgewonde oor die feit dat my seun nou besluit het om ons wolskaap-ooie met ‘n IDF-ram te kruis.”

  • Minky Blumberg is ‘n huisvrou in Port Elizabeth:

“Ons koop skaapvleis by ‘n plaaslike Ile de France-teler. Ek sien altyd daarna uit dat hy my bel om te sê dat hulle nou weer geslag het. Ek staan dan eerste in die ry om die beste, lekkerste, sappigste lamsvleis met minimale vet te koop.”

  • Candy Ferreira is ‘n huisvrou in Grahamstown:

“Ek is baie bederf en ek weier nou om enige ander lamsvleis as IDF-vleis te koop. My verskaffer weet ek sal eerder wag om sy vleis te koop wanneer dit beskikbaar is. Ek braai net my IDF-tjops saam met baie goeie vriende.”

  • Johan Swart is kommersiële lamvleisprodusent:

“Ek produseer al jare lank lamsvleis, toe ek egter IDF-ramme begin gebruik het, kon ek nie die verbetering glo nie – veral in groeivermoë, dae tot markgereed, uitslagpersentasie en meer – dit is alles belangrike ekonomiese eienskappe. Die IDF-skape pas ook baie goed aan op my plaas en behaal baie goeie speenpersentasies.”

  • Gareth Rosslee is ‘n entrepeneur in Kaapstad:

“Ek is die gelukkigste mense in Kaapstad as verskaffer my bel om te sê dat hy IDF-vleis beskikbaar het. Ek koop nou 5 karkasse op ‘n slag sodat my voorraad nie opraak voor daar weer beskikbaar is nie. Die grootte van die tjoppies is uitsonderlik en dit is maklik om lekker gaar te maak.”

  • Bossie Clarke is ‘n IDF-teler in Hermanus:

“Ek het ‘n paar jaar gelede Woolworths uitgedaag om skaapboude by hulle kantore gaar te maak vir ‘n proetoets. Een skaapboud was van hulle rakke af en een was ‘n IDF-boud deur my verskaf. Byna almal teenwoordig het die vleis van die IDF-boud bo die ander verkies.”