Die Suid-Afrikaanse landbousektor se impak op die ekonomie is veel groter as slegs die bydrae wat dit tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) maak en het ook ’n groot invloed op die land se werkloosheidsyfers, veral in plattelandse gebiede.

Read it in English.

Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) is sitrus, suikerriet, druiwe, tamaties en aartappels die vyf grootste landboubedrywe wat tot die indiensneming van arbeiders bydra, en word dit maklik beïnvloed deur ’n verandering in die minimumloon. Gesamentlik voorsien dié bedrywe werk aan sowat 267 000 mense. Uit dié getal is sowat 189 000 werkers seisoenaal aangestel in hierdie sektore, terwyl net meer as 77 000 permanente werkers in dié sektore se diens is.

’n Minimumloon is die eerste keer in 2003 ingestel en word gesien as die eerste groot loonskok wat die landbousektor die afgelope twee dekades ervaar het. Die tweede loonskok het in Maart 2013 plaasgevind toe die minimumloon met net meer as 50% verhoog is.

Lone teenoor aantal arbeiders

In Figuur 1 word die afgelope tien jaar se minimumloon van plaaswerkers met die hoeveelheid arbeiders in diens van landbou, visserye en bosbou vergelyk. Die lone word uitgebeeld in rand per uur en die getal plaaswerkers in diens van die landbou per kwartaal.

’n Mens kan waarneem dat daar met tye ’n sterk negatiewe korrelasie bestaan tussen die minimumloon en die hoeveelheid mense wat in diens van die landbou is. Met ’n verhoging in die minimumloon van 2008 tot aan die begin van 2011, was daar ’n daling in die hoeveelheid mense wat in die sektor se diens was.

Die verswakking in die wisselkoers in 2011 het veroorsaak dat boere, wat onder andere groente en vrugte verbou, mededingend kon begin uitvoer en dit het gevolglik ’n styging in die vraag na landbou-arbeiders veroorsaak. Buiten ’n effense seisoenale uitwerking, het die aantal werkers in diens van die landbousektor tot vroeg in 2013 bly styg.

Daling in aantal werkers

Met die verhoging van die minimumloon in 2013, van R7,71 per uur tot R11,66 per uur, kan gesien word dat van minder arbeid in die landbou gebruik gemaak is. Volgens dié syfers het die aantal werkers in die landbou met amper 100 000 gedaal tussen die eerste kwartaal van 2013 en die tweede kwartaal van 2014.

Die landbousektor se indiensneming het van die middel van 2014 af tot aan die einde van 2016 ’n positiewe tendens getoon, ondanks die styging in minimumlone. Sedert 2017 het statistiek weer ’n negatiewe tendens begin toon, wat onsekerheid skep oor wat die impak van die nuwe R20 per uur minimumloon-voorstel vir die landboubedryf gaan inhou.

Figuur 1

Die wetsontwerp is reeds deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) goedgekeur, maar was ten tyde van die skryf van hierdie artikel nog nie in werking gestel nie. Indien die minimumloon ingestel word, sal dit veroorsaak dat dié loon teen ’n hoër koers styg as wat die afgelope paar jaar ervaar is. Dit sal waarskynlik daartoe lei dat baie landbouprodusente hul aantal arbeiders verminder en eerder meganiseer ten einde insetkoste te verlaag.

Wat is die opsies?

Dominique van Deventer, ’n regsadviseur by Small Enterprise Employers of South Africa (SEESA), is van mening dat dit tot grootskaalse werksverliese in die landbousektor sal lei as die wet in werking gestel word. Hy herinner produsente daaraan om seker te maak dat hulle gebruik maak van die toegelate aftrekkings.

Werkgewers kan tot 10% van ’n arbeider se loon aftrek vir onderskeidelik behuising en kos. Sekere vereistes word egter gestel oor hoe dié voordele aan arbeiders voorsien moet word en dit mag nie afgeskeep word nie.

Hy is van mening dat indien arbeid duurder gaan word, landbouprodusente meer gebruik gaan maak van projek-spesifieke dienskontrakte waar arbeiders net tot die voltooiing van ’n sekere aktiwiteit of projek aangestel sal word, waarna die werkskontrak outomaties verval.

Verkorte werksure

Werkgewers kan in finansieel uitdagende tye aansoek doen vir verkorte werksure. Dit sal beteken dat, eerder as om arbeiders te verminder, almal behou word, maar vir minder ure vergoed word. Die bekostigbaarheid van arbeid mag wel in dié gevalle ondersoek word.

Laastens waarsku hy werkgewers wat dit oorweeg om aansoek te doen vir kwytskelding van die minimumloon, om hul opsies eers mooi te oorweeg en die menings van professionele mense in ag te neem. Volgens wat berig word, gaan die aansoekstelsel aanlyn wees en ook met instansies soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geïntegreer word.

Hoe vergelyk SA se arbeid?

Die Agri Benchmark-groep, wat landbousektore in verskeie lande regoor die wêreld op plaasvlak vergelyk, vergelyk ook onder andere die koste en produktiwiteit van landbou-arbeiders. In Figuur 2 word die produktiwiteit van verskillende groottes ooiproduksieplase teen mekaar opgeweeg.

Boerderypraktyke in Suid-Afrika (ZA) kan met lande soos Australië (AU), Namibië (NA), Brasilië (BR), en Colombië (CO) vergelyk word. Met die produktiwiteit wat hier in kilogram lewende gewig geproduseer per uur van arbeid uitgedruk word, kan ’n groot verskil gesien word tussen Australië en Suid-Afrika. Australië het tussen ’n minimum van 47,1kg en ’n maksimum van 80,8kg per uur aangeteken, terwyl Suid-Afrika se produktiwiteit tussen 2,5kg en 5kg gewissel het.

Selfs Namibië se arbeid blyk doeltreffender aangewend te word, met die land se produktiwiteit wat tussen 5,7kg en 10,2kg wissel. Suid-Afrika se produktiwiteit is wel beter as dié van Colombië, maar die troppe in dié land is kleiner, wat ook die produktiwiteit beïnvloed.

Koste van arbeid

Die persentasie wat die koste van arbeid op ’n ooiproduksie-eenheid in Suid-Afrika verteenwoordig, wissel tussen 10% en 20% op die verskillende groottes plase. In Australië beslaan arbeidskoste slegs tussen 1% en 5% van die totale koste, en in Namibië wissel dit tussen 6% en 31%.

As gekyk word na die koste van arbeid, kan ’n wesenlike verskil gesien word tussen Suid-Afrika en Australië, wat een van die beste betalende lande is ten opsigte van plaasarbeid. Hulle betaal tussen $19 en $28 Amerikaanse dollar per uur vir hul arbeiders, terwyl Suid-Afrika slegs $1 per uur betaal.

Beesvertakkings

In die geval van beesboerdery (’n koei-kalf produksiestelsel) word ’n soortgelyke prentjie gesien, waar die produktiwiteit van arbeid in Australië dié van Suid-Afrika verdwerg. In Australië word tussen 45,5kg en 203,9kg se produksie gemeet, in lewende gewig, geproduseer per uur arbeid, teenoor 3kg tot 12kg in Suid-Afrika. In die meeste gevalle vaar Brasilië en Colombië ook beter as Suid-Afrika, terwyl die produktiwiteit van Namibië binne die waardes van Suid-Afrika val.

Die persentasie wat arbeidskoste in koei-kalf-produksiestelsels van die totale boerderykoste uitmaak, wissel tussen 10% en 57% in Suid-Afrika, wat selfs die maksimum van skape oorskry. Indien ’n mens die persentasie met dié van Australië vergelyk, wat tussen 10% en 22% wissel, is Suid-Afrika ietwat meer mededingend met sy koei-kalf-boerdery as in die geval van skaapboerdery.

Ten slotte

Indien Suid-Afrika en Australië se syfers vergelyk word, blyk daar ’n sterk verband te wees tussen die produktiwiteit van arbeiders, die getal arbeiders en die loon per uur. Met dit in gedagte, is die oplossing eenvoudig.

Indien landbouprodusente verplig gaan word om meer vir arbeid te betaal, sal beslis van meer produktiewe arbeiders gebruik gemaak moet word, maar wel van baie minder werkers. Die situasie gaan uitdagend wees vir die regering, wat ’n dubbele doelwit najaag om die minimumloon te verhoog en terselfdertyd werkloosheid te verminder. – WA Lombard, Walter van Niekerk en Mario van den Heever, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, epos LombardWA@ufs.ac.za.