Gesondheid op Suid-Afrikaanse (SA) Sauvignon Blanc, veral op dié van 2020! Sauvignon Blanc SA het die wenners van die 2021 Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie aangekondig – en nie minder nie as sewe van die kampioenwyne is van die 2020-oesjaar, wat ’n uitstekende oesjaar vir Sauvignon Blanc was. 

Hierdie opwindende uitslae van die enigste kompetisie in SA wat aan Sauvignon Blanc toegewy is, is op 13 Oktober 2021 tydens ’n besonderse toekenningsgeleentheid bekendgemaak. Die geleentheid is met die ondersteuning van FNB en EVER Solutions by vyf verskillende restaurante in die Wes-Kaap en Gauteng aangebied.

Vanjaar se top 10 (in alfabetiese volgorde) is:

  • Bellevue Sauvignon Blanc 2021.
  • Diemersdal Sauvignon Blanc Reserve 2021.
  • Flagstone Free Run Reserve Sauvignon Blanc 2020.
  • Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2020.
  • Le Grand Domaine The Pledge Our Darling Sauvignon Blanc 2020.
  • Nitida Wild Child 2020.
  • Spier 21 Gables Sauvignon Blanc 2020.
  • Steenberg The Black Swan Sauvignon Blanc 2020.
  • Strandveld Pofadderbos Sauvignon Blanc 2021.
  • Thelema Sutherland Sauvignon Blanc 2020.

Die top 10 is beoordeel deur ’n paneel vooraanstaande wynkenners, met die Kaapse wynmeester, dr Winifred Bowman, as sameroeper, asook Charles Hopkins, keldermeester van De Grendel, wynbeoordelaar en -skrywer, Fiona McDonald, Rüdger van Wyk, wynmaker van Stark-Condé Wyne, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, asook twee Kaapse Wynmakersgilde protégés, Kelsey Shungking van Mullineux, en Leeu en Victoria Davis van Boekenhoutskloof. 

“Vanjaar sal onthou word as ’n wêreldklas-top 10 en al 96 produsente wat ingeskryf het, kan met reg trots wees op die prestasie van hul 157 wyne,” sê RJ Botha, Sauvignon Blanc SA-voorsitter. “Ons sien opwindende vernuwing met ses wen-wyne wat vir die eerste keer in die top 10 verskyn, asook ’n goeie balans met vier wen-wyne wat reeds voorheen hierdie prestasie behaal het.

“Hierdie uitslae bevestig diversiteit en groei in Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc, asook diversiteit in oorsprong met die wenners wat uit uiteenlopende streke kom, waaronder Darling, Durbanville, Constantia, Stellenbosch, Elgin en Elim.”

Ondersteun #SaveSARestaurants

Volgens Botha is dit nóú die tyd om mekaar in die bedryf te ondersteun. “Dit is ’n voorreg om, as ons land se topverkoperkultivar, aan die groter gasvryheidsbedryf te kan teruggee deur middel van #SaveSARestaurants.

“Ons dank gaan aan Reuben’s in Franschhoek, Decameron in Stellenbosch, PLTFRM in Pretoria, Magica Roma in Pinelands, en De Malle Meul in Philadelphia, wat ons met ope arms ontvang het. Baie dankie ook aan ons platinum-vennote, FNB en EVER Solutions, vir hul begrip vir ons bedryf en hul bydrae tot ons sukses,” sê Botha. – Persverklaring, Sauvignon Blanc SA

Kyk die video-aankondiging van die in Sauvignon Blanc SA Top 10-wyne hier onder: