Die verkoop van landbougrond is nie ’n eenvoudige proses nie. Sodra ‘n stuk plaasgrond aan twee of meer persone verkoop of bemaak word, of indien ’n gedeelte van die plaas oor ’n lang tydperk uitverhuur word, word dit as onderverdeling van landbougrond beskou.

Onderverdeling van landbougrond behels ’n lang proses wat met heelwat wetlike vereistes verband hou. Hierdie vereistes is in die Wet op Onderverdeling van Landbougrond, 1970 (Wet 70 van 1970) vervat. Sodra die eienaar die grond wil onderverdeel, is die minister van grondsake se skriftelike toestemming nodig alvorens onderverdeling mag plaasvind.

Belangrikheid van wetgewing

Die primêre oogmerk van Wet 70 is om te voorkom dat landbougrond gefragmenteer word, wat toekomstige landbou kan bemoeilik. Volgens ’n onlangse artikel van Statistiek Suid-Afrika het die ou tuislande tussen 2011 en 2016, meer as 500 000 landbouhuishoudings verloor. Dié huishoudings het op versnipperde grond van sowat 0,5ha gewoon, waarop daar voorheen gekweek of geboer was, maar weens die grootte van die grond was dit onproduktief.

Dit is dus in nasionale belang om die onderverdeling van landbougrond in klein, onekonomiese gedeeltes te verbied en landbougrond met ‘n hoë opbrengs te beskerm. Daar is wel gevalle waar die minister se toestemming nie benodig word nie, byvoorbeeld wanneer plaasgrond aan die staat oorgedra word.

Die onderverdelingsproses

Die onderverdelingsproses verskil afhangend van die situasie. Die eerste stap vereis dat ’n landmeter ’n kaart van die onderverdeling opstel. Daarna moet ’n aansoek by die minister ingedien word, saam met die onderverdelingskaart, waarna die nodige toestemming uitgereik sal word.

Aangesien dit ’n burokratiese proses is, kan die proses baie lank neem. Indien ’n eienaar dus onderverdeling oorweeg, sal dit wys wees om ’n kundige in die veld te nader.

Hier volg ’n paar wenke om in ag te neem voor landbougrond onderverdeel, verkoop of uitverhuur word.

Verkoop van ’n plaasdeel

Indien ’n produsent ’n gedeelte van sy plaas wil verkoop, moet hy/sy onthou dat die twee partye nie ’n geldige kontrak kan sluit voordat die minister se goedkeuring vir die onderverdeling ontvang is nie. Artikel 3(e) bepaal dat geen gedeelte van landbougrond, hetsy opgemeet of nie en hetsy daar ’n gebou op is of nie, verkoop of geadverteer mag word sonder die minister se skriftelike toestemming nie.

Dit beteken verder dat die partye ook nie ’n kontrak mag sluit met die opskortende voorwaarde dat die minister se goedkeuring eers verkry moet word nie. Die eienaar mag ook nie die gedeelte adverteer sonder die minister se toestemming nie. Daar mag dus geen voorlopige stappe geneem word nie. Indien dit wel gebeur, sal so ’n kontrak nietig wees.

Verhuring van ’n plaasdeel

Indien ’n produsent regte aan ’n persoon wil verleen, maar nie die plaas wil verkoop nie, kan hy/sy ’n gedeelte van die plaas uitverhuur. Artikel 3(d) bied inligting rakende die verhuring van ’n gedeelte van ’n plaas.

Indien die produsent sy/haar plaas vir tien jaar of langer uitverhuur, sal hy/sy die nodige toestemming moet verkry. ’n Langtermynhuurkontrak is ’n vorm van vervreemding, aangesien sekere regte aan die huurder verleen word. Dit is dus belangrik om in so ’n geval steeds die landbougrond te beskerm.

Vererwing in ’n testament

Tydens boedelbeplanning is dit belangrik om te spesifiseer aan wie die plaas bemaak word. Sou ’n produsent byvoorbeeld sy plaas aan sy twee kinders wil bemaak, beteken dit dat elkeen ’n helfte sal erf – dus ’n onverdeelde aandeel. Wet 70 bepaal egter spesifiek dat geen persoon ’n onverdeelde aandeel mag besit sonder die nodige toestemming nie. Onnodige probleme kan dus ontstaan wanneer die boedel beredder word.

’n Beter voorstel sal wees om die erf aan ’n maatskappy, waarvan elke kind ’n direkteur en aandeelhouer is, of aan ’n testamentêre trust te bemaak. Alternatiewelik kan die plaas verkoop en die opbrengs tussen die kinders verdeel word.

Dit is duidelik dat Wet 70 op verskeie aspekte van toepassing is, hetsy die verkoop van ’n gedeelte van ’n plaas, uitverhuring daarvan of selfs die bemaking van die plaas, om maar ’n paar te noem. Die Wet is dus van uiterste belang, aangesien dit die onderverdeling van landbougrond in klein onekonomiese gedeeltes verbied. – Shirande Schmidt, VDT Prokureurs

Hierdie artikel is slegs vir inligtingsdoeleindes. Melding word nie noodwendig van al die fynere nuanses gemaak soos uiteengesit in die bovermelde wetgewing nie. Hierdie artikel moet onder geen omstandighede as formele regsadvies beskou word nie. Vir meer inligting, kontak VDT Prokureurs by
012 452 1300 of besoek www.vdt.co.za.