Weiveld is en bly die goedkoopste voerbron vir diere en moet dus ten alle koste beskerm, bewaar en volhoubaar benut word. ’n Doeltreffende veldbestuurstelsel is die suksesvolste en mees ekonomiese wyse hiervoor. In hierdie artikel, wat die eerste van vier artikels oor veldbestuurstelsels in Suid-Afrika is, kyk die skrywers terug na die geskiedenis en waar veldbestuurstelsels vandaan kom.

Boerdery in Suid-Afrika was van 1652 tot 1870 op selfvoorsiening ingestel. Die verbindingsweë en markte was swak en baie boere was trekboere wat hulle uitsluitlik op veeboerdery en die voorsiening van hul eie benodigdhede toegespits het. Grond was volop, ongeskonde en slegs ’n klein persentasie daarvan was bewerk.

Landbouhulpbronne was oor die algemeen ongeskonde, hoewel natuurlike prosesse van geologiese of natuurlike erosie wel plaasgevind het. Baie van die eerste Europese immigrante het wel kennis gedra van begrippe soos die uitputting en herstel van grondvrugbaarheid. Aangesien grond egter vrylik beskikbaar was, is hulle nooit genoodsaak om dié kennis toe te pas nie.

Agteruitgang van hulpbronne

Die ooreising van natuurlike landbouhulpbronne het eers op groot skaal begin plaasvind toe goud en diamante teen 1875 ontdek is. Dit was ’n ongeordende ontwikkeling met baie nadelige gevolge vir die landbouhulpbronne, waarvan sommige vandag nog gesien en gevoel kan word.

Onrealistiese eise is aan landbouhulpbronne gestel en tesame met verkeerde beweidings- en bewerkingspraktyke, was dit die begin van die werklike grootskaalse agteruitgang van landbouhulpbronne in Suid-Afrika. Grond het ook mettertyd skaarser en duurder geword, wat aanleiding gegee het tot die onoordeelkundige onderverdeling van landbougrond en die ontstaan van sogenaamde onekonomiese eenhede.

Boere moes tot ongeveer 1925 sonder ’n voorligtingsdiens klaarkom en hoofsaaklik uit hul eie foute leer. Baie boere kon weens finansiële druk en ’n gebrek aan kennis nie altyd die onderliggende oorsake en gevolge van gronderosie vermy nie. Dit kom selfs vandag nog voor, ten spyte van die kennisontploffing.

Wisselwerking in die ekosisteem

Die wisselwerking tussen die verskillende komponente van die ekosisteem was ook nog nie so algemeen bekend soos vandag nie. Grond en weiveld is dikwels as ’n onuitputlike hulpbron beskou. In baie gevalle is die ewewig tussen grond, plante en water bewustelik en onbewustelik radikaal versteur en groot verliese in terme van grond, grondvrugbaarheid en produktiwiteit van weiveld het voorgekom.

Hierdie aanvanklike stadium van roofbou en die uitbuiting van hulpbronne is tipies ook van ander gebiede wat in die 17de en 18de eeu vanuit Europa gekoloniseer is, byvoorbeeld die Verenigde State van Amerika (VSA), Australië en Suid-Amerika.

Die omvang en gevare van die uitbuiting en versteuring van die weidingsekosisteem het egter mettertyd duidelik geword, en met behulp van nuwe kennis is pogings aangewend om die toestand te bekamp en ’n herhaling daarvan te probeer voorkom.

Beginsels van weiveldbestuur

Weistelsels kan breedweg in stelsels vir aanhoudende beweiding en wisselweiding verdeel word. Vorme van aanhoudende beweiding word hoofsaaklik in die kommunale gebiede en op sekere wildsplase toegepas. Kommersiële boere pas meestal een of ander vorm van wisselweiding toe.

Veeproduksiestelsels moet by die omgewing aangepas wees. Sinkroniseer dus die voedingsbehoeftes van vee met die weiding se voerproduksie.

Hoewel navorsers meen dat wisselbeweiding beter vir die veld as aanhoudende beweiding is, besef hulle ook dat die bestuurder en/of veeladings selfs ’n belangriker rol in die stelsel kan speel. ’n Goeie weistelsel is nie ’n waarborg dat agteruitgang van die veld voorkom kan word nie. Oor die jare is verskillende veldbestuurstelsels deur weiding- en plantkundiges, asook boere, ontwikkel.

Algemene riglyne

Die eerste breë beginsels vir doeltreffende veldbestuur het reeds in 1934 die lig gesien. Die volgende kan as algemene riglyne vir doeltreffende weiveldbestuur beskou word, wat ook die doelwitte met ’n veldbestuurstelsel insluit:

  • Die veebelading moet so na as moontlik aan die weidingskapasiteit vir die plaas wees. In baie gevalle beweer boere dat hulle plase se weidingskapasiteit met die toepassing van ’n spesifieke stelsel drasties verhoog. In sulke gevalle word die veldtoestand dikwels nie as basis van weidingskapasiteit gebruik nie. Gevolglik is slegs die veebelading verhoog, met die gevolg dat die veldtoestand en weidingskapasiteit oor die lang termyn verlaag.
  • Langtermynverbetering van die veldtoestand, wat tot ’n verhoging in weidingskapasiteit sal lei. Objektiewe veldtoestandbepalings is een van die metodes om hierdie doelwit te kwantifiseer.
  • Vreetbare plante moet die geleentheid kry om kiemkragtige saad te produseer en te versprei – ’n doelwit wat gewoonlik met wisselweiding bereik word. Ryp en droogte gee soms aanleiding tot nie-kiemkragtige/dowwe saad. Dit is belangrik dat rusperiodes met die groeityd saamval en lank genoeg sal wees om smaaklike spesies ’n kans te gee om te groei, te blom en saad te produseer.
  • Maak voorsiening vir droogtes deur die inbou van lang rusperiodes (ongeveer elke derde jaar). Baie weidingstelsels het in die verlede ook misluk omdat geglo is dat ’n kamp herhaaldelik weer bewei kon word indien die veld gerus het (bv. uitgegroei het of saad gemaak het) en nie noodwendig herstel het nie. Met herstel word bedoel die verhoging in plante se groeikrag weens ’n goed ontwikkelde wortelstelsel. Rus vir ’n volle groeiseisoen bied aan plante die geleentheid om hul groeikrag te herwin en te herstel om sodoende weerstand teen droogtes te verhoog. Die kerngedagte is dat veld moet rus om te herstel. Die lengte van hierdie lang rusperiode verskil van veldtipe tot veldtipe, terwyl die betroubaarheid van reënval, asook die veetipe waarmee geboer word, ook ’n groot rol speel. Hoe meer homogeen en soeter die veld is, hoe meer meriete is daar in ’n lang rusperiode.
  • Die groeikragtigheid van smaaklike plante moet hoër wees as dié van onsmaaklike plante. Dit dien as ’n vroeë waarskuwing dat die veldtoestand gaan verswak en kan maklik tydens lang rusperiodes waargeneem word. Plante soos rooigras, vingergras en assegaaigras se groeikragtigheid moet byvoorbeeld hoër wees as dié van terpentyn-, koperdraad- en beessteekgras.
  • Die rusperiode tussen beweidings moet ooreenstem met die weidruk wat toegepas is. Indien ’n kamp vir ’n lang tyd of deur baie diere bewei is, moet dit lank genoeg rus om die verlore plantmateriaal aan te vul en te laat herstel.
  • Weistelsels moet buigsaam wees om wei- en rusperiodes by onverwagse klimaatsgebeure aan te pas. Dit beteken dat ’n voerreserwe in stand gehou moet word om ten minste die teelvee (kernkudde) te onderhou.

Skadelike weipraktyke

Oorbelading (vir lang tydperke), aanhoudende beweiding, weitydperke wat te lank is, herhaalde beweiding in dieselfde tyd van die jaar, veerasse of wildspesies wat nie by die veldtipe aangepas is nie, asook langtermyn en onoordeelkundige toediening van lekke en byvoeding, kan as die belangrikste skadelike weipraktyke beskou word. – prof Hennie Snyman, dr Mias van der Westhuizen en Kotie van den Berg

Volgende maand fokus die skrywers op verskillende wisselweidingstelsels. Vir meer inligting, kontak prof Hennie Snyman by 078 458 5242 of hensny1@gmail.com, dr Mias van der Westhuizen by 082 335 9016 of mias@fs.agric.za, en Kotie van den Berg by 083 969 2727 of meelberg@telkomsa.net.