SAVM
Op 5 September is die eerste fondasie ooie getatoeëer by Abé Visser en Seun van Reitz. Hennie Visser van Harrismith het help keur.

As ons na die geskiedenis van die SAVM-ras kyk, kon kudde-ooie tot en met Desember 1954 as aanhangsel-A ooie opgeneem word en in ’n Hulpstamboek opgeteken word. Daar was baie goeie kudde-ooie (graad) beskikbaar waarmee die ras se geregistreerde diere aangevul en uitgebrei kon word. Dit was veel goedkoper as om byvoorbeeld ooie uit Duitsland in te voer. Verder het dit die voordeel gehad dat plaaslik aangepaste ooie se nageslag die ras kon help verbeter. In die tabel hieronder word aangedui hoe die opgradeerstelsel die ras se aantal registrasies per jaar vinnig laat styg het tot 1970.

Tabel 1: Aanvanklike opgradering van kudde-ooie se effek op die aantal registrasies per jaar:

  Stamboek Hulpstamboek
Jaar Ramme Ooie
1955 321 642 2 652
1956 178 573 2 017
1957 228 640 2 985
1958 307 653 2 673
1959 448 1 083 4 205
1960 389 1 019 2 703
1961 565 1 889 3 098
1962 522 2 076 2 088
1963 660 2 301 2 110
1964 557 2 102 1 135
1965 717 2 588 1 144
1966 707 3 004 911
1967 1 003 5 084 986
1968 908 4 063 383
1969 903 4 103 386
1970 1 180 5 194 356

 

Danksy hierdie stimuleringsproses asook verdere ontwikkeling en veredeling van die ras in Suid-Afrika, is die ras se naam in Januarie 1971 verander na die Suid-Afrikaanse Vleismerino. Vir meer as 60 jaar – sedert 1955 tot vanjaar – was die ras geslote en is daar nooit weer kudde-ooie as aanhangsel-A diere toegelaat nie.

Die afgelope twee dekades was daar heelwat versoeke tot die raad gerig van boere met goeie kuddes wat graag hulle ooie wou opgradeer na geregistreerde diere. Hulle gebruik deurentyd goeie ramme en wil graag uit hulle beste en aangepaste ooie begin met opgradering. So is daar ’n wetenskaplike opgraderingsproses opgestel en voorgelê aan die telers by die 2016 AJV. Stemming daaroor deur die lede het ’n gelykopuitslag tot gevolg gehad. By die AJV van Augustus 2017 het die lede toe weer gestem oor die opgradeerstelsel en was die uitkoms ten gunste daarvan.

Die stelsel is so ontwerp dat daar groot groepe ooilammers saam gebore en grootgemaak moet word sodat goeie seleksiedruk met behulp van speen- en na-speense indekse in die eerste twee generasies toegepas kan word. Daarna sal reproduksie prestasie die deurslag gee vir toelating as volwaardige stoetooie.

Dit is dus beslis nie ’n najaag van getalle diere nie, maar veel eerder die afskep van die room (top produseerders). Ons wil slegs die beste genetika wat regtig ’n bydrae tot rasverbetering kan maak, intrek om op dié manier genetiese diversiteit te verbreed. Hier is dus ’n unieke geleentheid vir ernstige SAVM kudde-boere om hulle diere op te teel en hulle waarde te verbeter. Dit is deel van presisieboerdery om jou diere individueel te identifiseer en te meet.

Op 5 September is die eerste fondasie ooie getatoeëer by Abé Visser en Seun van Reitz. Hennie Visser van Harrismith het help keur.

Aanvaarde opgradeerstelsel

Kuddeboere kan aansoek doen om hulle ooie se ooilammers te laat opgradeer na stoetooie deur die volgende proses te volg:

  1. Aansoek doen by die Genootskap om hulle ooi-kudde as SAVM Fondasie-kudde te laat sertifiseer deur die Raad, onderhewig aan die volgende vereistes:
  • Die teel-geskiedenis en ontstaan of oorsprong van die kudde moet verskaf word en aanvaar word as deelsgeteelde SAVM tipe ooie.
  • Daar moet ’n minimum van 300 ooie in die kudde wees (in dieselfde produksiestadium).
  • Bewys van aankope van minstens drie SAVM gekeurde ramme by ramveilings moet voorgelê word (aangekoop oor die laaste drie jaar).
  • Aanvaarbare hanteringsfassiliteite (krale) moet bestaan op die aansoeker se plaas.
  1. Indien die aansoek aanvaar word, sal die ooi-kudde besoek word deur inspekteurs of amptenare aangewys deur die Genootskap nadat hulle reiskoste betaal is (soos vasgestel deur die Raad).
  2. Na inspeksie van die ooi-kudde en hanteringsfassiliteite gedoen is en goedkeuring van die verslag wat die inspekteurs of amptenare by die Raad ingedien het, sal die aansoeker kennis kry dat sy/haar ooi-kudde gesertifiseer word as ’n SAVM Fondasie-kudde. Dié ooie moet tatoeëer word met die voorgeskrewe merk (SAVM in regteroor) tydens inspeksie.
  3. Daarna moet die aansoeker aansluit as lid van die Genootskap en slegs die SAVM ramme reeds in sy/haar besit (soos aangekoop by ramveilings) sal as geregistreerde diere op sy/haar naam verskyn by die Genootskap. ’n Fondasie register of datastel sal apart bygehou word deur die Genootskap.
  4. Die aansoeker moet dan in sy/haar eerste jaar as lid ’n SAVM kursus deurloop.

Die teel-proses om ooi-nageslag uit die fondasie-kudde op te gradeer na stoet kan nou begin word as volg:

  1. Die ooie in die Fondasie-kudde moet gedek of met vars saad ‘natuurlik ge-KI’ word deur minstens drie SAVM stoetramme en die dekseisoen mag nie 35 dae oorskry nie.
  2. Elke F1 (generasie A) ooilam moet ’n oorplaatjie met voorgeskrewe nommer kry na geboorte en haar geboortedatum asook geboortestatus moet aangeteken word. Indien haar moeder 4-tand of jonger is, moet dit aangeteken word dat haar ma ’n jong ooi is. Die teler moet tydens merk reeds alle ooglopende foute en kleur aanteken in sy/haar geboorteboek.
  3. Alle F1 ooilammers moet inspekteer word en onder toesig geweeg word op speentyd (weegdatum) binne vyf maande nadat eerste lam gebore is. Erge visuele prulfoute kan dan reeds aangeteken word en sulke ooilammers moet uitgeskot word. Ooilammers met ’n speen-indeks van onder 85 moet ook uitgeskot word. F1 ramlammers word geslag na speentyd.
  4. Oorblywende ooilammers moet verkieslik in een groep loop na speen en dan vyf maande na speen weer geweeg word. (Gewig en weegdatum word aangeteken en gestuur aan die Genootskap.) Ooie met ’n na-speense indeks van onder 90 sal uitgeskot word.
  5. F1 ooitjies moet dan individueel gepaar word met SAVM stoetramme (vaders van die volgende generasie moet identifiseer kan word) voor of op die ouderdom van 19 maande (riglynmassa ≥ 55kg). Paarlyste moet ingevul word met die nommers van alle ooie wat gedek word per ram.
  6. Die F1 ooie moet skandeer word en eenlinge, meerlinge en droë ooie moet gemerk word. Slegs dragtige ooie word dan visueel gekeur net na skandering. Die wat slaag moet dan tatoeëer word op voorgeskrewe wyse.
  7. F1 ooie se F2 (generasie B) ooilammers en ramlammers word dan met lamtyd genommer met plaatjies en volledige geboorteregisters moet ingevul word van elke lam wat gebore word.
  8. Dieselfde proses as by punt drie genoem word gevolg vir die F2 ooilammers, en hulle broers (die ramlammers) moet slegs identifiseer word ter wille van volledige lamrekords van hulle moeders. Aksies soos genoem in punt vier, vyf en ses word ook vereis vir F2 ooie. F2 ramlammers moet geslag word na speentyd (of kastreer word).
  9. F1 en F2 ooie se lammers moet ’n gemiddelde speen-indeks van 85 haal om op die F1 en F2 registers te bly, en F1 en F2 ooie moet elke jaar lam (ILP ≤ 380 dae) en dit kan bly handhaaf. Sodra hulle terugsak, word hulle gekanselleer vir verdere teling.
  10. Alle F3 (generasie C) lammers word oorgedra na die Genootskap se hoof datastelsel en daar sal teelwaardes vir hulle bereken word. Hulle sal as volgeregistreerde stoetdiere beskou word nadat hulle visueel goedgekeur is tussen 10 en 24 maande, en is al diere wat bemark kan word as stoetdiere aan mede-telers onder beskerming van die Genootskap en onderhewig aan normale reëls en fooie.

Voorbeeld van hoe ’n stamboom op veilingskatalogusse sal vertoon:

Skematiese voorstelling van ’n opgradeerstelsel:
SAVM FONDASIE-KUDDE X SAVM GEKEURDE
MINSTENS 300 OOIE (Basis) VEILINGSRAMME (SP)
F1 OOI NAGESLAG (A) X SAVM GEKEURDE
WAT KWALIFISEER VEILINGSRAMME (SP)
F2 OOI NAGESLAG (B) X SAVM GEKEURDE
WAT KWALIFISEER VEILINGSRAMME (SP)
ALLE F3 NAGESLAG (SP)
KWALIFISEER NA GOEDKEURING AS VOLGEREGISTREERDE STOETDIERE

 

Hierdie is ’n uiters positiewe stelsel wat ’n dinamiese ras meer toeganklik maak vir ernstige skaapboere wat bereid is om volledig rekord van hulle diere te hou en ’n wesenlike bydrae tot die bedryf te lewer. Met die stelsel sal dit ook moontlik wees om vorige stoetdiere waarvan die rekords verlore geraak het of verwaarloos is, se nageslag weer terug te kry op ons datastelsel as bruikbare volwaardige geregistreerde diere. – Jan Vosloo, SAVM

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here