Die hoeveelheid melk wat koeie produseer, bepaal grootliks ’n melkery se winsmarges. Koeie se voerkoste is die grootste enkele kostefaktor in melkproduksie. Daarom is doeltreffende melkproduksie noodsaaklik vir winsgewendheid. Elke melkprodusent het waarskynlik sy eie metode om doeltreffendheid te beraam, maar die algemene definisie is die hoeveelheid melk geproduseer per kilogram voer ingeneem.

Aanvanklik is net die melkproduksie van koeie in melkaantekeningstelsels gemeet. Later is die melk se vet- en proteïenpersentasie ook bepaal. Dié rekords word saam met stamboominligting gebruik om koeie se teelwaardes te beraam. Deesdae word nog meer inligting oor koeie versamel, maar dit is moeilik om die doeltreffendheid van melkproduksie op ’n nasionale skaal te bepaal omdat koeie se voerinname nie geredelik beskikbaar is nie.

Navorsing met klein datastelle het getoon dat die oorerflikheid van melkproduksie en doeltreffendheid van produksie grootliks ooreenstem. Daarom is hoofsaaklik vir hoër melkproduksiepeile geselekteer. Dié seleksiedoelwit het egter mettertyd negatiewe resultate gelewer, wat veral die leeftydproduksie benadeel. Die benadering om net vir meer melk te selekteer, moet dus heroorweeg word.

Op plaasvlak

Dit is moontlik om die doeltreffendheid van melkproduksie vir koeie, koeigroepe of die kudde op plaasvlak te beraam. Die melkproduksie per kilogram kragvoer kan vir weidingskuddes gebruik word, terwyl die melkproduksie per groepvoerinname vir volvoerkuddes gebruik kan word.

Die gereelde monitering van dié syfers oor tyd kan ’n aanduiding van die bestuurspeil in die kudde gee. Resultate kan egter moeilik tussen kuddes en produksiestelsels vergelyk word.

Tabel 1: ’n Illustrasie van Holsteinkoeie se doeltreffendheid op ’n volvoerstelsel.
Groep Dae in melk Voerdoeltreffendheid
(Kg melk/kg DM-voer)
Alle koeie 150-225 1,4-1,6
Eerste laktasie <90 >200 1,5-1,6 1,2-1,3
Tweede laktasie <90 >200 1,6-1,8 1,3-1,4
Vars koeie
Probleemkoeie
<21 150-200 1,1-1,2 <1,3

Boere se menings

Ek het onlangs op die Facebook-blad Boere Gesels gevra hoe melkboere die doeltreffendheid van hulle melkkoeie beraam. Blykbaar word die verhouding van melkproduksie per kilogram liggaamsgewig in sommige kuddes gebruik. Ek het gewonder of ander stelsels ook gebruik word en of produsente bewus is van die wetenskap daaragter.

Abraham Marais Malan reken dat die beste faktor dié een is wat vir die eienaar die grootste persentasie rendement gee op die insette wat gemaak word.

Johannes van Eeden meen dit moet die hoeveelheid vastestowwe per leeftyd geproduseer wees.

Koos Coetzee noem dat die benadering van ‘meer melk beteken meer geld’ in Amerika geld. “Dit betaal om meer te voer vir hoër melkproduksie as die melk-tot-voerprysverhouding gunstig is. Dit is moeiliker om dié punt op weiding te bepaal, aangesien weiding met addisionele voer aangevul word. Sogenaamde ‘spookkoeie’ word by volvoerstelsels bygesit om produksie te verhoog.” (Ek vermoed dit beteken dat 100 koeie in ’n voergroep dieselfde hoeveelheid voer sal ontvang as 110 koeie.)        

Persentasie van liggaamsgewig

Coenraad Coenie Basson noem dat hy in sy volvoerstelsel die eienskap ‘melkproduksie uitgedruk as ’n persentasie van liggaamsgewig’ gebruik. “Die gemiddeld vir my kudde is 6%, maar ek mik vir 7%. Koeie word geslag wanneer hulle onder 3% is. Koeie se inname is sterk gekoppel aan hul liggaamsgewig. Dit beteken dat ’n koei van 600kg wat 40 liter melk per dag produseer, winsgewender gaan wees as ’n koei van 700kg wat dieselfde melkproduksie lewer.”

Volgens Gerdie Landman word in hul weidingstelsel minder op die produksie van individuele koeie gefokus en meet hulle eerder melkproduksie per hektaar. “Kragvoerpeile is relatief laag en is aan die melkpryse gekoppel. Baie koeie word geslag omdat hulle nie beset raak nie, die uiers uitsak, hulle gereeld mastitis kry en hoefprobleme ontwikkel omdat hulle lang afstande moet stap.

“Die kragvoer- tot voerprysverhouding bepaal grootliks die aanvullende voerbeleid. Dit het ’n groot invloed op die hoeveelheid weiding wat benut word, wat op sy beurt die aantal koeie per hektaar bepaal. ’n Belading van vier tot sewe koeie per hektaar word in die Visriviervallei onder besproeiing behaal. Afhangende van die kragvoeraanvulling (3 tot 6kg per koei per dag), produseer die koeie dan tussen 4 800 en 6 000kg melk, met 4% bottervet en 3,6% proteïene per laktasie,” sê hy.

Gerald Barker noem dat sy benadering 1 200kg melk per 100kg liggaamsgewig was. “Ek het dit nou opgeskuif na 1 500kg per 100kg liggaamsgewig. Dit is 500kg vir weidingskoeie. ’n Volvoerkudde in Botswana het al die groot koeie geslag. Die oorblywende koeie weeg tans 525kg, vreet sowat 23kg per dag en produseer 26kg melk per dag.”

Uiteenlopende sienings

Uit bogenoemde kommentaar kan gesien word waarom doeltreffendheid dikwels as ’n vae begrip beskryf word. Dit bevestig verder dat die vergelyking tussen stelsels moeilik is omdat beramings net op ’n spesifieke plaas van toepassing is. Die produksiestelsel word op sy beurt deur die natuurlike hulpbronne (grond, water, reënval, finansies, bestuursvermoë, ens.) beïnvloed.

Daar kan dus vir elke kudde ’n doeltreffendheidsdefinisie opgestel word. Sommige menings dui ook op ’n aantal wanpersepsies in die melkbedryf omdat min navorsing plaaslik oor hierdie onderwerp gedoen word.

’n Studie word tans beplan om ’n aantal doeltreffendheidsnorme te vergelyk. Die rede hiervoor is dat melkproduksie se doeltreffendheid ’n finansiële impak het. Die oogmerk is om melkproduksie-, melksamestelling- en liggaamsgewigrekords te bekom van koeie in kuddes wat outomatiese melkaantekeningstelsels gebruik en om daarvolgens verskillende doeltreffendheidsnorme te beraam.

Vervolgens word seleksiegrenswaardes vir elkeen van die doeltreffendheidsnorme beraam om die onderste 20% van die koeie uit te skot. Die melkproduksie, liggaamsgewig en melkinkomste van koeie wat in die kudde agterbly, word dan vergelyk.

Verbetering van doeltreffendheid

Ongeag die produksiestelsel en melkpryse, is die manier hoe ’n melkkudde se doeltreffendheid verbeter moet word eintlik dieselfde. Melkkopers wil graag die meeste melk by elke melkpunt kry. Melk moet die hoogste vet- en proteïenpersentasie moontlik bevat, met ’n lae somatiese seltelling.

Dit begin by die bulle wat geselekteer word om koeie en verse beset te kry. Altesaam 85% van die genetiese vordering in ’n melkkudde word deur die bulle bepaal. Die uitwerking van bulseleksie word egter eers na ’n hele paar jaar gesien. Die verse van bulle wat nou uitgesoek word, kom eers oor drie jaar in melk. Die huidige kudde bestaan dus uit bulle wat vier tot agt jaar gelede uitgesoek is.

Groter klem moet in bulseleksie gelê word op die melkproduksie, reproduksie en produktiewe leeftyd van bulle se dogters. Die tweede metode om doeltreffendheid te verbeter, is om laer produserende koeie vroeg in hul leeftyd te identifiseer en uit te skot.

Die redes waarom koeie tydens hul eerste laktasie beoordeel word, is omdat hierdie groep koeie die kleinste bydrae tot die totale daaglikse melkproduksie maak en omdat die herhaalbaarheid van melkproduksie hoog is. Dit beteken dat koeie wat in hul eerste laktasie laag produseer, ook in daaropvolgende laktasies lae produseerders gaan wees.

Doeltreffendheidsnorme

Dit het met die installering van melkmasjiene met outomatiese melkaantekeningstelsels en oorstapskale moontlik geword om melkproduksie en liggaamsgewig as doeltreffendheidsnorme te beraam. Dit is reeds in 1940 voorgestel as vetgekorrigeerde melkproduksie gedeel deur die gemiddelde liggaamsgewig van koeie oor die laktasieperiode.

Die veronderstelling is dat liggaamsgewig ’n aanduiding van voerinname gee. Dit het nie algemeen in gebruik gekom nie weens lae melkproduksie in koeie. Genetici verkies om direkte eerder as indirekte eienskappe te gebruik om die genetiese meriete van koeie te beraam.

Die liggaamsgewig gee weliswaar ’n aanduiding van koeie se potensiële inname – groter koeie vreet byvoorbeeld meer as kleiner koeie, maar daar is ook ander faktore wat hul inname beïnvloed. Liggaamskondisie beïnvloed byvoorbeeld liggaamsgewig. Die Nasionale Navorsingsraad (NRC) se tabelle gebruik 4% vetgekorrigeerde melkproduksie, metaboliese liggaamsgewig en laktasiestadium om innames te beraam.

Nuwe navorsing dui egter daarop dat eerder na liggaamsmates gekyk moet word om voerinnames te beraam. Die Amerikaanse Holsteinvereniging gebruik ’n liggaamsgewigindeks wat skouerhoogte, sterkte, liggaamsdiepte, kruisbreedte en sprong van rib insluit. Vir die beraming van produksiedoeltreffendheid word hierdie liggaamsgewigindeks saam met die teelwaardes vir melk, vet en proteïene gebruik. Die dieet se verteerbaarheid beïnvloed ook die voerinname.

Melkproduksie en liggaamsgewig

Die probleem is dat die beraming van koeie se doeltreffendheid deur beide melkproduksie en liggaamsgewig beïnvloed word. Daar is ’n genetiese korrelasie tussen dié twee eienskappe. Doeltreffendheid kan verbeter word deur melkproduksie te verhoog en liggaamsgewig te handhaaf, of deur melkproduksie te handhaaf en liggaamsgewig te verlaag.

Veral die tweede opsie lyk vir baie produsente aantreklik. Die rede hiervoor is dat die liggaamsgewig onderhoudsbehoeftes bepaal. Hierdie onderhoudsbehoeftes neem egter proporsioneel af met ’n toename in koeie se melkproduksie. Koeie se liggaamsgewig word nog ’n kleiner faktor wanneer hul leeftydproduksie in ag geneem word. Leeftydproduksie word weer deur reproduksiebestuur gedryf.

Genetici beveel aan dat die seleksie van bulle op koeie se melkproduksie gerig moet wees, maar dat die liggaamsgewig (of grootte) ook in ag geneem moet word. Dit beteken dat bulle met hoë teelwaardes vir melk en negatiewe syfers vir skouerhoogte eerder oorweeg moet word. Kuddedoeltreffendheid kan ook verbeter word deur minder voer te mors, met beter reproduksiebestuur en ’n langer produktiewe leeftyd. – dr Carel Muller, navorsingsgenoot, Universiteit van Stellenbosch

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Carel Muller by careljcmuller@gmail.com.

Lees vorige opvolggespreke oor melkboerdery en die omgewing, koeikoop is nie perdekoop nie en koeie en hulle blyplekke.