Baie melkerye het begin met ’n paar koeie in ’n oop kampie, ’n paar losstaande voerkrippe of omgekeerde motorbuitebande. Maar soos dit met die meeste melkerye gaan, groei die aantal koeie vinnig deur verdere vee-aankope en natuurlike aanwas. Dit is om die aanvangs- en produksiekoste van die melkery oor meer koeie (en melk) te versprei.

’n Harde reënbui wys egter gou die gebreke van ’n tydelike stelsel uit. Melktye word vertraag omdat koeie se spene en uiers vuil is en die skoonwasproses langer neem. Pootbeserings kom ook meer dikwels voor terwyl mastitis ook algemeen is. Koeie wat in vuil kampe kalf, het ook ’n groter kans vir baarmoederinfeksies en dit benadeel reproduksie.

‘n Vlak watertafel en turfgrond

Mia Swanepoel het onlangs op die Facebook-blad Melkboere Gesels gekla oor te veel reën op hul plaas in die Brits-omgewing. Dit het hul plaas in ‘modderdamme’ omskep. Sy het dit toegeskryf aan die feit dat dié omgewing nie ’n waterskaars gebied is nie. “Wanneer ’n mens sowat 1m tot 1,5m diep grawe, kry jy water. Na twee dae se reën lyk dit erg. As ek kon, het ek die reënbuie na die droë dele van Suid-Afrika gestuur.”

Mia Swanepoel noem dat daar geen weiding op die plaas is nie. “Die plasie is klein, net 30ha, en daar is 200 koeie in melk, met droë koeie en verse. Alle ander grond is onder lusern wat gesny word. En daar is ook ’n dam, wat spasie opneem.”

Johannes van Eeden stel voor dat sy ernstig daaraan moet dink om behoorlike droë onderdakbehuising vir die koeie op te rig voordat ’n ernstige gesondheidsprobleem ontwikkel.

Mia Swanepoel sê dat hulle daarmee besig is. “Dit gebeur net nie vinnig genoeg nie.”

Die probleem

Die probleem hier is te veel koeie op die beskikbare oppervlakte. Groter kampe sal die probleem tydelik verlig. Die reën en grondtipe vererger die probleem. Dit lyk nie of die kampe en voerfasiliteite reg beplan is nie.

’n Melkery het ’n aantal basiese strukture nodig om bestuur te vergemaklik en probleme te voorkom. Wat min mense besef, is dat fasiliteite in plek moet wees voordat koeie aangekoop word. Om nuwe strukture op te rig terwyl koeie gemelk word, sal spanning verhoog en hul melkproduksie benadeel. Melkboere behoort bewus te wees van die behuisingsbehoeftes van koeie en die fasiliteite wat ’n melkery benodig.

Koeie het beskutting nodig

Melkbeesrasse kom oorspronklik vanaf Wes-Europa en die Britse Eilande. Koeie is goed bestand teen koue, maar gevoelig vir hitte en hoë lugvogpeile. Die minimum beskutting vir koeie in voerkampe is ’n skaduwee-afdak. Hulle het ook ’n plek nodig waar hulle gemaklik kan vreet en kan lê om te rus en herkou.

Die lêplek moet droog en gelyk wees. Koeie hou daarvan om teen ’n helling te lê en sal eerder staan as om in modder te gaan lê. Voerkrippe wat verkeerd ontwerp en stukkend is, kan koeie beseer en grootskaalse voervermorsing veroorsaak. Selfs klein melkkuddes benodig die regte beplanning en behuising om probleme te voorkom.

Die tipe weidingstelsel

In Suid-Afrika word ’n weiding- of ’n nulbeweidingstelsel gebruik. Min melkplase maak uitsluitlik van weiding gebruik. Koeie word ook dikwels gevoer. Dit is omdat weiding beperk is en met ekstra voer word die uitset van die plaas verhoog. Seisoenale droogtes het ook tot gevolg dat koeie vir tye gevoer moet word. Behalwe dat hierdie tipe infrastruktuur die insetkoste van ’n weidingsplaas vergroot, word bestuur ook bemoeilik.   

’n Nulbeweiding- of volvoerstelsel word gebruik wanneer geen weiding beskikbaar is nie. Alle diere word dan gevoer. Gewoonlik word ’n totale gemengde rantsoen (TGR) met al die ruvoere, graan- en proteïenbronne, minerale, vitamiene en voeraanvullings in ’n voermenger gemeng en twee keer per dag aan koeie in voerkrippe gevoer.

Koeie word gewoonlik in groepe verdeel en volgens hul produksiepeil of laktasiestadium gevoer. Kampe word ook benodig vir droë koeie en verse van verskillende ouderdomme. Kalwers word gewoonlik in kalwerhokke aangehou.

Deeglike beplanning

Ongeag die stelsel, moet ’n melkery met ’n skoon vel papier begin sodat die hele terrein beplan kan word. Dit is makliker om ’n lyn op ’n plan uit te vee as om ’n heining of gebou te skuif. Daar moet ’n natuurlike vloei van diere en voertuie wees, koeie moet na en van die melkportaal beweeg, en voermengwaens moet van die voerskure na die oop kampe beweeg. Voerpaaie moet verkieslik nie koeipaaie kruis nie.

Verder moet daar opbergingsfasiliteite vir voer wees en ’n plek waar hooi gemaak kan word en diëte gemeng kan word. Daar moet ’n misafvoer- en -hanteringstelsel wees van waswater uit die melkportaal, kalwerhokke en ander geboue. Reënwater wat op paaie en dakke val, moet van oop kampe afgekeer word sodat dit nie met mis besoedel raak nie.

Uitleg van kampe

Oop kampe kan oorweeg word wanneer die melkery in ’n beginstadium is. Die uitleg van kampe moet só wees dat ’n uitbreiding na ’n intensiewe behuisingstelsel moontlik is.

Die waterkrip moet ’n entjie weg van die voerkrip wees om te voorkom dat die water met voerreste besoedel word. Voerkrippe moet diep en breed wees om voervermorsing te beperk. Loopspasie van ten minste 100 tot 150m²per koei moet voorsien word.

Vir goeie dreinering moet die kamp se grondhelling weg vanaf die voerkrip wees. ’n Betonblad van 2 tot 3m langs die voerkrip sal uittrapping voorkom. Mis wat naby die voerkrip versamel, moet jaarliks verwyder word of oor die hele kamp versprei word. Die kampoppervlakte moet gelyk wees, sonder klippe en groot rotse.

In oop kampe moet daar ’n skaduwee-afdak wees. Die lengte-as moet in ’n noord-suid rigting staan. Dit moet ten minste 4m hoog wees, met vaste dakplate wat swart geverf moet wees om ligweerkaatsing te verminder. Voorsien 4 tot 5m² dakspasie per koei.

Skadunette is minder doeltreffend omdat dit sonlig deurlaat en ’n korter leeftyd het, veral in dele met baie wind. Afdakke oor die voerkrippe is nie baie doeltreffend nie omdat die skaduwee beweeg en dit soms buite die kamp is. Dit veroorsaak ook ’n samedromming van koeie naby die voerkrip.

’n Intensiewe behuisingstelsel

Hoewel die klimaat in Suid-Afrika gematig is en koeie eintlik net beskutting teen die son nodig het, moet ’n intensiewe behuisingstelsel oorweeg word wanneer koeie op ’n klein oppervlakte aangehou word. Dit kan selfs vir ’n klein kudde van 25 koeie geld. Vir ’n intensiewe behuisingstelsel word sowat 10m² per koei benodig. So ’n struktuur sal koeie teen hitte, reën en modderige toestande beskerm.   

Met ’n behuisingstelsel kan misafval ook maklik bestuur word. ’n Misafvalput om mis- en afloopwater van die melkportaal op te vang, moet ook voorsien word om die besoedeling van natuurlike waterbronne te voorkom.

Betonvloere is nie ’n natuurlike oppervlakte vir koeie nie en sand word in slaapkratte gebruik. Om hoefprobleme te voorkom, kan koeie ook toegang tot ’n oefenkamp kry. Dit is egter nie altyd prakties nie. Koeie verkies die natuurlik grondoppervlakte en sal dit benut, ongeag of die kamp vuil is.

Die beweging van die son moet ook in ag geneem word omdat koeie teen die son beskerm moet word wanneer hulle by die voerkrippe vreet. Voerkrippe behoort in die middel of aan die suidekant van die gebou te wees, met ’n dak-oorhang om die voer teen reën te beskerm.

Ten slotte

Melkkoeie benodig beskutting teen hoë temperature en reën. Oop kampe is geskik wanneer groot loopoppervlaktes beskikbaar is. ’n Behuisingstelsel kan selfs vir ’n klein kudde oorweeg word. Fasiliteite moet reg ontwerp word om beserings te voorkom en om die welvaart van koeie te verseker. Die beplanning van die plaas moet voltooi wees en strukture moet opgerig word voordat koeie aangekoop word. – dr Carel Muller, navorsingsgenoot, Universiteit van Stellenbosch

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Carel Muller by [email protected]

Lees vorige opvolggespreke oor melkboerdery en die omgewing en koeikoop is nie perdekoop nie.