Die bydrae wat veeproduksie tot klimaatsverandering maak, is toenemend in die publieke oog, dierewelsynsorganisasies en aktiviste wat teen landbou gekant is. Intensiewe melkproduksie- en voerkraalstelsels word veral geteiken. Die sogenaamde fabrieksplase word nie as ideaal beskou vir die produksie van vleis en melk nie, en kry groot kritiek van aktiviste. Die antagonisme teen hierdie stelsels is veral op dierewelsyn en die klaarblyklike uitwerking op die omgewing gerig

Hoewel melkproduksie vanaf weiding waarskynlik die beste lewensomstandighede vir melkkoeie bied, is dit nie noodwendig die beste vir die omgewing nie. Groot hoeveelhede mis word byvoorbeeld in voerkraalstelsels gesien, maar dit is nie so ooglopend sigbaar in ’n weidingstelsel nie omdat dit wydverspreid op die plaas voorkom.

Dit skep eintlik ’n geleentheid vir omgewingsbesoedeling. Met intensiewe stelsels kan mis bymekaar gemaak, opgetel en herbenut word, terwyl net ’n klein gedeelte hiervan in ’n weidingstelsel herwin kan word. Ten spyte hiervan sal mense eerder koeie op weiding wil sien as in ’n voerkraalstelsel.

Hoewel aktiviste graag wys op die feit dat plaasdiere kweekhuisgasse produseer, is nog min moeite gedoen om die uitwerking van graanproduksie (wat diereprodukte moet vervang) op omgewingsbesoedeling te kwantifiseer. Daar is ook geen aanduiding watter alternatiewe gewasse moontlik geproduseer kan word om dieselfde hoë-gehalte voedselbronne vir mense te lewer nie.

Produksie van kweekhuisgasse

In die VSA is die hoeveelheid kweekhuisgasse wat verskillende bedrywe produseer, gekwantifiseer. Dit is byvoorbeeld 31% deur kragopwekking, vervoer 27%, industrieë 21%, kommersiële en residensiële geboue 12%, en landbou 9%. Die bydrae van plaasdiere tot die produksie van kweekhuisgasse as ’n deel van landbou is sowat 4%.

Onlangs is op die Facebook-blad Boere Gesels gesprek gevoer oor hierdie onderwerp. Die gesprek is aangevoor deur ’n plasing van Koos Coetzee oor ’n artikel dat nuwe navorsing daarop dui dat metaanproduksie van plaasdiere geen waarneembare uitwerking op die klimaat het nie.

Jaco van Rensburg stem 100% hiermee saam. Volgens hom het die anti-vleismense die kans aangegryp om die waarheid te verdraai. “Steenkoolmyne is verantwoordelik vir die meeste metaangasvrystellings. In die VSA het hulle nou al die vermoë om die gas op te vang en weer te gebruik.”

Koos Coetzee reken ook dat baie reklame van die Internasionale Lugvervoervereniging af gekom het om die aandag weg te lei van vliegtuie se koolstofvoetspoor. Die verslag van die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) van die Verenigde Nasies oor “lewendehawe se lang skaduwee” het reg in hul kraal gepas.

Uitwerking van metaangas

Michiel Scholtz meen dat die uitwerking van metaangas (CH₄) wat plaasdiere produseer, heeltemal oorspeel word deur aktiviste wat hul eie agendas het. “Dikwels word syfers aangehaal wat op foutiewe aannames gebaseer is of nie korrek is nie. Die belangrikste kweekhuisgasse is koolsuurgas (CO₂, 49%), CH₄ (18%) en nitrietgas (NO₃, 6%).

“Die grootste bronne van CH₄ in die wêreld is vleilande (22%), steenkool, olie en natuurlike gasse (19%), rumenfermentasie van plaasdiere (16%), rysverbouing (12%), stortingsterreine (6%) en diere-afval (5%). Dit beteken dat die bydrae van plaasdiere eintlik minder as 4% is, naamlik (16% + 5%) x 18%.”

Hy wonder ook wat sou gebeur as vleisbeeste nie die natuurlike weiding vreet nie. “Dit kan wel deur ander herkouers (nie-plaasdiere) benut word. Dié diere produseer ook kweekhuisgasse. Alternatiewelik kan dit brand, wat CO₂ gaan vrystel, of dit kan verrot, wat nitriet gaan vrystel.

“Hou verder in gedagte dat CH₄  eintlik ’n korter leeftyd in die atmosfeer het, naamlik twaalf jaar in vergelyking met 100 tot 200 jaar vir CO₂. Nitrietgas vang atmosfeerhitte 300 keer meer doeltreffend op as CH₄. Metaangas wat deur herkouers geproduseer word, het dus eintlik die kleinste uitwerking op die omgewing.”

Onderbenutte veld

Gerrit du Toit noem dat geen koolstofsekwestrasie op onderbenutte veld kan plaasvind nie, want die fotosintese van ouer plante is minder doeltreffend sodat minder CO₂ vasgelê word.

Koos Coetzee wil weet wat die omskakelingsfaktor tussen CO₂ en CH₄ is wat algemeen gebruik word.

Michiel Scholtz verduidelik dit as volg: “CH₄ vang hitte 23 keer meer doeltreffend op as CO₂. Dit is waar sommige omskakelings stop. Die atmosferiese leeftyd van CO₂ is egter 12,5 keer langer as dié van CH₄. Die omskakeling is dus soos volg: 23/12,5 = 1,84. Dit beteken dat een eenheid CH₄ dieselfde uitwerking as 1,84 eenhede CO₂ het.”

Leonie Yendall bedank Michiel Scholtz dat hy ’n goeie kampvegter is vir “ons beeste se saak. Met jou feite in ons hand, gaan die kooleters sleg verloor.”

Vrystelling van koolstof

Vir Danie Odendaal was dit ’n kopskuif om die basiese beginsel te verstaan dat herkouers geen nuwe koolstof in die lug in stuur nie. “Hulle is net deel van die koolstofsiklus omdat die koolstof wat hulle afgee afkomstig is van plante wat die koolstof uit die lug opgevang het tydens fotosintese. Mibrobes in die grond vang ook koolstof op.

“As jy dus van koolstofbesoedeling praat, word verwys na die ‘nuwe koolstof’ wat in die lug opgeblaas word wanneer steenkool en olie benut word wat vir miljoene jare in die grond was. Dit is dan net logies dat die koolstofvlakke in die lug sal styg. Dit beteken dat die energie-opwekkingsbedrywe nie volhoubaar kan wees nie, want hulle neem nie weer koolstof uit die lug op nie.”

Proses van koolstofsekwestrasie

Koolstofsekwestrasie is die proses waarvolgens koolstof uit die lug opgevang en geberg word. In die natuur word dit deur plante en mikrobes in die grond gedoen. Deur koolstof uit die atmosfeer te verwyder, word die uitwerking daarvan op aardverwarming en klimaatsverandering verminder.

Alle lewende diere (ook mense) produseer CO₂ en lewer dus ’n bydrae tot koolstofopbouing in die atmosfeer. Koolstof word uit die lug opgevang tydens die fotosintese van plante. Bome is natuurlike en groot koolstofsekwestrasiemasjiene.

Die koolstof in die grond word verminder deur bewerkingsmetodes en die verwydering van graan en oesreste. Verliese kan verminder word deur boerderymetodes wat biomateriaal weer terug in die grond sit, soos minimum-grondbewerkingsmetodes, die vestiging van dek- of langtermyngewasse (soos aangeplante weiding) en die herbenutting van oes- en dierereste (mis). Grond is ’n natuurlike en doeltreffende koolstofput, hoewel dit ook beperkte stoorkapasiteit het.

Melkkoeie is herkouers

Aangesien beeste herkouers is, produseer hulle kweekhuisgasse soos CH₄ en CO₂. Dit is egter nie net plaasdiere wat kweekhuisgasse produseer nie. Alle diere wat gras en struike benut, produseer dieselfde kweekhuisgasse.

Beeste, skape en bokke produseer kweekhuisgasse bloot deur te lewe, ongeag of hul vleis- en melkprodukte deur die mensdom gebruik word. Dit sal daarom van min waarde wees dat mense minder vleis eet, soos die “Meat-free Mondays”-veldtog graag wil propageer.

Plaasdiere kan net minder kweekhuisgasse produseer indien daar minder plaasdiere is. Herkouers het nog altyd deur die eeue kweekhuisgasse geproduseer. Hul unieke verteringsproses het onlangs eers die aandag van aktiviste getrek.

Nog ’n realiteit is dat die fermentasieproses waarvolgens herkouers ruvoer verteer en dit na hoë gehalte voedsel vir mense omsit, oor baie millennia geëvolueer het. Gedurende hierdie proses word ruvesel in die rumen deur anaërobiese bakterieë afgebreek na vetsure. As gevolg hiervan word CH₄-gas geproduseer. Dit word tydens normale asemhaling en die opbreek van winde uitgeskei.

Indien dit nie gebeur nie, sal koeie opblaas omdat die fermentasieproses nie gestop kan word nie. Eintlik kan min aan dié proses verander word. Pogings tot die verbetering van veeproduksie vanuit ’n bestuurs-, voedings- en telingsoogpunt is juis daarop gemik om die doeltreffendheid van produksie te verbeter.

Verbeter produksiedoeltreffendheid

Die bydrae wat plaasdiere tot kweekhuisgasse maak, kan proporsioneel verander word deur die verbetering van die doeltreffendheid van produksie. Hoewel die hoeveelheid CH₄ met hoër melkproduksie toeneem, neem die hoeveelheid metaan per liter melk af.

’n Studie in die VSA het gewys dat die nasionale melkkudde in 2007 uit 9,2 miljoen koeie bestaan het, wat 84 miljoen kilogram melk geproduseer het. Hierteenoor het 25,6 miljoen koeie in 1944 slegs 53 miljoen kilogram melk geproduseer. Dit beteken dat die totale melkproduksie met 58% toegeneem het, terwyl die aantal koeie met 64% verminder het.

Dié verbetering kan toegeskryf word aan ’n kombinasie van faktore soos beter genetiese meriete van koeie, beter diëte en voerformulering, beter gesondheid en beter behuisingstoestande. Dit beteken ook dat die kleiner getal koeie, ten spyte van die hoër melkproduksie, in totaal 77% minder voer gevreet het, 90% minder grond benodig het om voer te produseer, 65% minder water gebruik het en 63% minder kweekhuisgasse geproduseer het.

Hoe om dit te doen

In die eerste plek moet die totale uitset per plaas verbeter word, wat meer melk of vleis per hektaar beteken. Dit kan so maklik wees soos om voervermorsing te verminder, veeladings te verhoog en meer korrekte rantsoene te voorsien. Voervermorsing vind plaas tydens die oes van gewasse (vir hooi en inkuiling), voeropberging en die meng en voer van rantsoene. Voerkrippe wat verkeerd ontwerp is, veroorsaak veral groot verliese.

Doeltreffendheid word ook verbeter deur beter reproduksiebestuur (minder dae oop) en ’n jonger ouderdom met eerste kalwing by verse. Beide hierdie parameters verminder die onproduktiewe gedeelte van ’n melkkoei se lewe. Die kweekhuisgasproduksie van ’n melkkudde word met 13% verminder deur die vervangingskoers van koeie van 40 tot 30% te verminder.

Huidige navorsing fokus op die vermindering van die metaanproduksie van koeie. Die voorspelde metaanproduksie is sowat 6% van die bruto energie-inname. Die oorerflikheid hiervan is sowat 35%. Dit beteken dat die metaanproduksie verminder kan word deur vir beter doeltreffendheid te selekteer. Die koolstofvoetspoor van hoog produserende melkkuddes is 27 tot 32% laer as kuddes met gemiddelde melkproduksiepeile. – dr Carel Muller, navorsingsgenoot, Universiteit van Stellenbosch

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Carel Muller by careljcmuller@gmail.com.