Na ’n onlangse gesprek met ’n melkboer, het die vraag ontstaan oor hoe die begrippe ‘seleksie’ en ‘uitskot’ verstaan word. In antwoord op watter doeltreffendheidsmaatstawwe hy gebruik om koeie te selekteer, is die volgende eienskappe genoem: die genetiese meriete van ’n koei, die hoeveelheid melk wat sy produseer en wat haar interkalfperiode is. Indien ’n koei dan nie aan minimum peile sou voldoen nie, word sy uitgeskot. By implikasie word die besluit dus aan die einde van ’n koei se produktiewe lewe geneem.

Die vraag was eintlik gemik op die eienskappe wat ’n koei moet besit om in die kudde opgeneem te word. Dié besluit moet aan die begin van ’n koei se produktiewe leeftyd geneem word, wanneer sy gebore word of na afloop van eerste laktasie.

Eienskappe wat hier gebruik kan word is genetiese meriete, die afwesigheid van ooglopende bouvormfoute, maar veral melkproduksie tydens eerste laktasie. Daar is ’n hoë positiewe korrelasie tussen eerstelaktasie- en leeftydmelkproduksie.

Hierdie keuse is ’n vrywillige proses want dis ’n besluit wat deur die bestuurder geneem word. Die uitskot van koeie is gewoonlik ’n geforseerde besluit omdat ’n probleem hul produksievermoë (en leeftyd) inperk. Tipiese uitskotredes is onvrugbaarheid, herhalende mastitis, beserings, ernstige bouvormgebreke, siekte of dood. Enkele beginsels vir bul- en koeiseleksie word vervolgens verduidelik.

Melkboere is ook telers

Omdat dit dikwels nie ’n geregistreerde kudde is nie, meen baie melkboere dat hulle nie telers is nie. Dit is ’n verkeerde siening want, ongeag die melkproduksiestelsel, is ’n melkery in wese ’n telingsoefening.

Vir koeie om melk te produseer moet hulle beset raak om later te kalf. Met konsepsie, hetsy deur natuurlike dekking of kunsmatige inseminasie (KI), word die moontlikheid van ’n volgende melkproduksiefase verseker en word ’n nageslag met ’n sekere produksiepotensiaal geskep. Die genetiese meriete van die bul en koei bepaal hierdie potensiaal. Dit kom in die koeie na vore op grond van die voedings- en bestuursprogram in die kudde. Die eenvoudige formule van P (produksie) = G (genetiese meriete) + E (omgewing), verduidelik hierdie beginsel.

Met laeteelwaardebulle (vir melkproduksie) is die genetiese meriete van koeie in ’n kudde laag en is melkproduksiepeile dikwels ook laag. Produksie kan verhoog word met ’n duurder voerprogram (meer kragvoer), maar dit is minder winsgewend as koeie met ’n hoër genetiese meriete op ’n goedkoper dieet.

Uitskot vs seleksie

Teling word beskryf as ’n doelbewuste proses om ’n ras, kudde of spesifieke eienskappe te verbeter. Genetiese verbetering kan net plaasvind wanneer beter produserende diere as die gemiddelde, as ouers geselekteer word. Indien geen beplande seleksie of uitskot in ’n melkery toegepas word nie, is dit ’n oefening in dierevermeerdering met onwaarskynlike genetiese vordering.

Seleksie is die uitsoek van koeie bokant die gemiddelde vir byvoorbeeld melkproduksie, terwyl uitskot na die uitsoek van diere onder die gemiddelde vir melkproduksie verwys. Dikwels word daar ook verwys na die seleksie (wat eintlik identifisering is) van koeie om uitgeskot te word. Om koeie te identifiseer wat in die kudde opgeneem moet word, kan twee strategieë gebruik word – selekteer die boonste 40 tot 50% of skot die onderste 20 tot 30% uit.

As ’n voorbeeld is die eerstelaktsieproduksie van Jerseykoeie in ’n volvoerstelsel gebruik. Dié koeie word in ’n aparte groep aangehou en twee maal per dag gemelk. Seleksiegrenswaardes is beraam om die koeie in die onderste 20% (vir uitskot) en boonste 40% (vir seleksie) te identifiseer.

In Figuur 1 word die melkproduksie van eerstelaktasiekoeie in vergelyking met die seleksiegrenswaardes aangedui. Koeie onder die stippellyn produseer minder as die 20% seleksiegrenswaarde en kan dus uitgeskot word.

Figuur 1: Melkproduksie van eerstelaktasiekoeie in vergelyking met die seleksiegrenswaardes.

Wanneer die boonste 40% van die koeie geselekteer word, is die genetiese vordering in die kudde vinniger. Die gevaar bestaan egter dat die getal koeie in die kudde gaan minder word, veral wanneer die uitskot van ouer koeie hoog is. In die geval waar die onderste 20% uitgeskot word, is die genetiese vordering stadiger, maar kan kuddegroei steeds plaasvind.

Seleksie van koeie

Nie alle verse hoef as koeie in die kudde opgeneem te word nie, tensy die kudde in ’n groeifase is. Die besluit oor watter verse in die kudde opgeneem moet word, begin met geboorte. Verskalwers met lae teelwaardes vir melkproduksie of ooglopende bouvormfoute moet reeds voor die ouderdom van ses maande uitgeskot word. Hierna moet verse grootgemaak word sodat hulle goed uitgegroei is teen eerste kalwing op die ouderdom van 24 maande. Daar is min voordeel in verse wat later kalf terwyl die grootmaakkoste toeneem.

Die melkproduksie van eerstelaktasiekoeie moet oor ten minste die eerste 105 dae van laktasie gemeet word vir ’n voorlopige oorweging van opname in die kudde. ’n Tweede toets vind aan die einde van die eerste laktasietydperk plaas. Seleksiegrenswaardes vir beide laktasiefases kan beraam word om koeie te identifiseer vir seleksie of uitskot.

Hiervoor word die gemiddelde melkproduksie en standaardafwyking vir melkproduksie beraam. Met gemiddelde melkproduksie as seleksiegrenswaarde, word die boonste 50% van die koeie geselekteer om in die kudde te bly. Die seleksiegrenswaarde om die onderste 20% van koeie te identifiseer, word bereken deur die standaardafwyking vir melkproduksie met 0,8416 te maal en van die gemiddelde melkproduksie af te trek. Toekomstige koeie word teen dié norme geëvalueer.

Melkproduksie, of ’n kombinasie van vet- en proteïenproduksie, kan vir dié evaluasies gebruik word. Koeie wat hierdie toetse geslaag het, word nie verder vir uit-skot oorweeg nie. Koeie moet vanaf tweede laktasie beskerm word om in die kudde te bly. Hierdie ouer koeie (tweede laktasie plus) produseer meer as 75% van die melk in ’n kudde. Kuddedoeltreffendheid neem af met ’n jonger kudde, oftewel ’n kudde met ’n lae gemiddelde laktasiesyfer.

Seleksie van bulle

Omdat ’n melkkudde uit koeie bestaan, het die bulle waardeur koeie beset raak, die grootste (85%+) effek op die genetiese vordering van ’n kudde.

’n Probleem met bulseleksie is die lang tydsverloop tussen seleksie en die produksie van hul dogters. Dogters van bulle begin hul melkproduksiefase meer as drie jaar ná bulseleksie. Die leeftydproduksie van koeie word eers ’n verdere vier tot vyf jaar later gesien. Weens hierdie lang tydsverloop is dit belangrik dat die regte bulle jaarliks geselekteer word, omdat hul nageslag lank in ’n kudde bly. ’n Afname in kuddemelkproduksie word dikwels waargeneem wanneer die dogters van bulle met hoë negatiewe teelwaardes vir melk, in produksie kom.

Omdat ’n groot hoeveelheid eienskappe deesdae vir KI-bulle beraam word, is melkboere onder die indruk dat bulseleksie baie kompleks is. Teeldoelwitte in talle melkkuddes word gebaseer op die aanbeveling van ’n semenagent, buurman of enigiemand wat klink of hy iets van teling weet.

Ongeag dat bultelingsinligting omvangryk is, kan bulseleksie baie eenvoudig wees. Verskillende indekse word opgestel om die genetiese meriete van bulle te beskryf. In Amerika word die Net Merit-indeks gebruik. Dit bevat 13 eienskappe soos veten proteïenproduksie, produktiewe leeftyd en liggaamsgrootte, wat elk teen spesifieke peile in die indeks ingesluit word. Met ’n lys van al die beskikbare bulle, kan die beste bulle uitgesoek word deur bulle te rangskik van hoog na laag vir ’n geskikte indeks.

Bulseleksie behels nié om bulle een-een uit te soek, om afslagsemen te koop of om ’n geneties onbeproefde kuddebul te gebruik nie. Dit is ook nie om gewilde of bekende bulle, die bulle wat die buurman aankoop of wat die semenagent ‘sien’ goed doen, te gebruik nie. Elke melkboer behoort sy eie groep bulle uit te soek na aanleiding van sy seleksiedoelwitte. Die gemiddelde teelwaarde van dié groep bulle moet beraam word om ’n aanduiding te kry van hul bydrae tot die kudde.

Praktiese riglyne

Genetiese vordering in ’n melkkudde berus op die bulle wat geselekteer word en die verse en eerstelaktasiekoeie wat in die kudde opgeneem word. Seleksiegrenswaardes kan beraam word vir die seleksie of uitskot van koeie. Vanaf die tweede laktasie moet koeie so bestuur word, dat hulle lank in die kudde bly. Selekteer elke jaar ’n groep bulle eerder as om enkeles uit te soek.

Moet nie probeer om bouvormfoute in koeie reg te teel nie. Kyk eerder na die produksiepotensiaal van bulle se dogters. Die genetiese korrelasie tussen bouvorm en melkproduksie is net sowat 10%. ’n Koei met ’n uitsakuier na vyf of meer laktasies, is normaal. Die produktiewe leeftyd van koeie is uiteindelik belangriker as hoe hulle lyk.

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Carel Muller by careljcmuller@gmail.com.
– dr Carel Muller, navorsingsgenoot, veekundige wetenskappe, Universiteit van Stellenbosch, Veeplaas